Hier is die wenners van ’n Nuwe Baadjie-kompetisie
Hoe vier jy ’n ikoon se loopbaan wat oor vyf dekades strek? En hoe bring jy hulde aan sy liedjies wat al vir ’n generasie lank in televisiereekse, mense se huise en oor die draadloos gespeel is?
Jy kan ’n konsert hou vir die kunstenaar, of jy kan sy bestaande werk vat en vir jong en opkomende talent die kans gee om vir sy immergewilde liedjies ’n nuwe baadjie aan te trek.
Dít is presies wat die bekende sanger en liedjieskrywer, Jannie du Toit, in samewerking met die ATKV gedoen het toe hy onlangs 50 jaar in die musiekbedryf gevier het en die kompetisie, ’n Nuwe Baadjie, geloods het.
Hy het sowat 60 inskrywings van musikante en kunstenaars gekry, wat een sy liedjies gekies het en hul eie weergawe opgelewer het.
Vanaf 5 Julie het die 18 finaliste saam met Jannie du Toit, Coenie de Villiers, Mauritz Lotz, Renette Bouwer, Chanie Jonker, David du Plessis en Eloïse Cupido aan werkswinkels by ATKV-Buffelspoort deelgeneem voordat daar op 6 Julie ’n swierige gala-aand gehou is waar die drie wenners aangekondig is.
“Die reis het vir my verlede jaar Desember begin toe ons die inskrywings oopgemaak het. Die inskrywings het egter eers in Februarie begin instroom en ek moes intens na al die inskrywings gaan luister het,” sê Jannie.
Hy sê hy was stomgeslaan deur die gehalte van die inskrywings.
“Daar was so baie oorspronklike weergawes en ons keuse vir finaliste was moeilik, maar hierdie 18 se talent is oorweldigend.”
Die ATKV het vir al die deelnemers gratis verblyf by ATKV-oord Buffelspoort gegee.
“Ek is baie dankbaar vir die ATKV en hulle ondersteuning. Alles kom nou eintlik vol sirkel. My loopbaan het by die ATKV begin en nou, vyf dekades later, ondersteun hulle my steeds.”
Die Gala-aand is in die oord se Buffel-saal gehou en al 18 deelnemers het ’n kans gekry om hul weergawe van een van Jannie se liedjies op te voer.
“Dit was een van die moeilikste besluite van my lewe,” sê Jannie, wat saam met ander beoordelaars die wenners moes aankondig.
Hoewel al 18 kunstenaars met innoverende en oorspronklike weergawes van bekende liedjies soos Liedjie vir jou en Ons twee vorendag gekom het, kon daar helaas net drie wenners wees.
Sherilee Botha van Potchefstroom het in die derde plek met ’n kontantbedrag van R10 000 weggeloop vir haar weergawe van Die liefde.
“My ouma se suster het eintlik voorgestel dat ek moet deelneem. Ek het Die liefde gekies omdat dit waarde gedra het vir die seisoen waarin my lewe op daardie stadium was,” sê Sherilee.
Marcel Dedman van Pretoria het die tweede plek gewen vir sy weergawe van Volgende winter, wat deur die ontslape Christa Steyn geskryf en deur Jannie du Toit gesing is. Hy is huis toe met R20 000.
“Ek was nog altyd ’n groot aanhanger van Christa se werk en haar liedjie het net eenvoudig met my gepraat,” sê Marcel.
Die groot wenner van die aand was Mia-Lana Hough van Belville met haar verwerking van Wys my die plek, wat in die eerste plek ’n kontantprys van R30 000 gewen het.
“Dit voel so onwerklik en eintlik onregverdig. Hier is so baie wonderlike talent en ek was baie keer uit die veld geslaan as ek die ander se verwerkings geluister het. Hierdie was ’n wonderlike ervaring en ek het so baie ander kunstenaars ontmoet wat ek in die toekoms graag mee sal wil saamwerk.”
Mia-Lana studeer tans B.Mus en wil graag een dag ’n musiekterapeut word.
Volgens Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, was dit logies om Jannie met hierdie projek te ondersteun.
“Die ATKV stap al ’n lang pad met Jannie. Die organisasie was daar aan die begin van sy loopbaan en dit was net logies om sy lewe en loopbaan van 50 jaar te vier.”