Hier’s hulle: RUK EN RYM-semifinaliste bekend

Taalgenoot-RUK EN RYM, ’n kompetisie vir alternatiewe klankskeppers wat musiek met Afrikaanse lirieke maak, het tot 28 Julie inskrywings ontvang en ná ’n rekordgetal – ’n allemintige 93 – musikante hul kuns met die RUK EN RYM-keurders gedeel het, is die 20 semifinaliste van die kompetisie nou bekend.
Hierdie kunstenaars sal tydens twee semifinale rondes meeding om ’n plek in die finaal van RUK EN RYM 2025. Die eerste semifinaal vind op 24 Augustus by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch plaas en die tweede op 13 September by Sognage in Randburg, terwyl die finale ronde weer by Daisy Jones as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees plaasvind. Die rymkletser Jack Parow is by die finaal die gasbeoordelaar en gaskunstenaar. Die groep Dierbaar, een helfte van verlede jaar se wengroep Dierbaar na die Maan, is die gaskunstenaars by die eerste semifinaal. Hendriek Bleik, naaswenner van RUK EN RYM 2023, is die gaskunstenaar by die tweede semifinaal.
Angie Gallagher, assistentregisseur van die kompetisie, meen die standaard van RUK EN RYM is elke jaar hoër en dat sy nie kan wag om te sien wat vanjaar se semifinaliste opdis nie.
“Dit is elke jaar verstommend om te sien watter groepe en kunstenaars vir RUK EN RYM inskryf. Jaar ná jaar ontvang ons vernuwende musiek wat die hoofstroom uitdaag, en ek hoop dat kunstenaars wat dalk nie hierdie jaar deurgedring het na die semifinale rondes nie, weer inskryf, want hulle is besig om die plaaslike musieklandskap uit te daag en te verryk,” sê sy.
Die semifinaliste van RUK EN RYM 2025 is:
- BARZX
- Both Eyes Open
- CEAEL
- de Pozi
- Emile Kepeal
- JASON B
- Karel Bester & Die Kraaines Band
- Likkewaan
- L!SA
- Marnu Verwey
- N1 Jozi
- Pikkels
- RFKI
- Skadulyn
- SKUILNAAM
- Ultra-Mal
- Vanja Oosthuizen
- Vir Nou Net Magé
- Wilken Calitz
- Yung Pierewiet
Musiekliefhebbers word hartlik uitgenooi om die semifinale en finale rondes by te woon en te sien wat in die smeltkroes van Afrikaanse alternatiewe musiek smeul. Kaartjies vir die eerste semifinaal is reeds aanlyn hier beskikbaar.
Volg RUK EN RYM op Facebook, Instagram en TikTok om op die hoogte van kaartjieverkope en ander inligting rondom die lewendige optredes te bly. Kaartjies sal ook op die RUK EN RYM-webwerf bekom kan word. Vir enige navrae oor die kompetisie, stuur gerus ’n e-pos na info@rukenrym.co.za.