Hoop vir Afrikaans by Kultuurkuier 2025

Die vierde ATKV-Kultuurkuier op ATKV-Goudini Spa se tema, “Innovasie en Hoop – ’n plan vir omgee” is soos ’n goue draadjie deur die dae verweef.
Die kuier het Dinsdagaand 13 Mei afgeskop met ’n ete en vertoning deur Ilne Fourie met haar gewilde solokomedie Sjarrap en eet jou kos!.
Elda Kruger, ATKV-bestuurder: takke, het vertel daar was 320 takke van Suid-Afrika en Namibië teenwoordig. Die aand se gasheer, Melvin Tobias, ATKV-streeksbestuurder vir Gauteng en Limpopo, het tussendeur vir pittighede gesorg.
Woensdagoggend het Archie van Biljon van die ATKV-tak Witzenberg afgeskop en gesê Suid-Afrika se geskiedenis is nog lank nie verby nie.
“Ons bly in ’n land van wonderwerke. Die doemprofete se voorspellings het nie waar geword nie. Dit beteken egter nie dis maanskyn en rose nie; ons politieke leiers tree vreemd op. Maar ons is vry en ’n aktiewe burgerlike samelewing is waar ons geheim lê.
“Die ATKV het meer as net oorleef in die nuwe bedeling – ons floreer! Kom ons wees elkeen die hoopvolle rolspeler om volhoubare gemeenskappe te ondersteun.”
Almero Oosthuizen, ATKV-streeksbestuurder van die Boland en Karoo en seremoniemeester vir die dag, het vertel dat daar 17 nuwe takke gestig is die afgelope jaar, maar as jy deur die platteland ry, sal jy sien dat die ATKV die potensiaal het om ’n baie groter voetspoor te hê.
Dr. Marlene le Roux het namens die direksie die openingstoespraak gelewer en gesê sy is beïndruk met die Kultuurkuier se tema.
“Wow. ’n Plan vir omgee. ‘Omgee’ is ’n klein woordjie, maar beteken so baie. ‘Omgee’ beteken ek sien jou en ek hoor jou, en dis die ATKV.”
Dr. Le Roux breek ’n lansie vir jongmense in Afrikaans. Sy beklemtoon drie individue: Dr. Jolyn Phillips, outeur van Tjieng Tjang Tjerries and Other Stories en twee Afrikaanse digbundels, wat uit Gansbaai kom en die eerste vrou in haar familie is om ’n graad te verwerf; Nathan Trantraal, wat Afrikaans se verskillende variëteite erken; en dr. Carien Smith, wat pas haar PhD in Brittanje voltooi het, maar na Suid-Afrika teruggekeer het.
“Kom ons keer hierdie land op sy kop – met liefde en hoop,” het sy afgesluit.
Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, het vertel daar is 1 224 projekte in die afgelope 12 maande van stapel gestuur.
“Dis ’n voetspoor wat oor baie jare met sorg gevestig is. Ons is verheug oor ons tien nuwe jeugtakke – die belegging in ons toekoms. Dis die Jolyns, Nathans en Cariens van môre.
“Ons is dankbaar dat die Vriende van Afrikaans 31 jaar oud is en dat Crescendo verlede jaar 50 jaar gevier het.”
Sy het ’n paar projekte uitgelig wat floreer en ’n verskil maak in mense se lewens, onder andere die groentetuinprojek, boektrommelprojek en Global Changemakers.
Brits het ook die goeie nuus gedeel dat ATKV-AbbAsorg aangekondig het dat hul hoofkantoor binnekort in Cloetesville buite Stellenbosch opgerig word. ATKV-AbbAsorg, in vennootskap met die Britse organisasie Breadline Africa, is die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram wat ten doel het om ’n veilige omgewing te skep waar kinders gehalteopvoeding en -versorging ontvang.
Sy het afgesluit en gesê dat die werk wat lede vandag verrig, vir die volgende paar dekades sal uitkring en ’n impak sal hê.
Die mosiegesprek het interessante mosies van takke opgelewer. Takke in Namibië het verklaar die land is ’n onontginde juweel. Jongmense is honger vir geleenthede in Afrikaans en danksy die werksaamhede van die ATKV bewys dit daar is loopbane in Afrikaans.
Lydia Jacquire van Bloemfontein het ’n baie emosionele dankbetuiging gelewer oor hoe die ATKV vir haar as jongmens hoop gee.
“Dankie dat ek in my taal kan redeneer, koor sing, toneelspeel, dig en skryf. Julle weet nie wat dit vir ons jongmense beteken nie.”
Die televisieaanbieder Hannes van Wyk het die rusbankgesprekke met verskillende ATKV-takke gelei. Hannes sê hy kom al jare saam met die ATKV en sê dié organisasie besef nie watter invloed hulle op Suid-Afrika het nie. Hy het groot waardering vir die werk wat onder die jeug gedoen word, maar beklemtoon dat die ouer garde nie oorgesien moet word nie.
“Hul kennis en ervaring is van kardinale belang. Dieselfde geld vir die rol van onderwysers.”
Hy gesels met verteenwoordigers oor hul projekte en die belangrikheid van lees word herhaaldelik uitgelig. Die besef is al meer dat jong opvoeders se opleiding ontoereikend is en hulle dikwels nie die vermoë het om kinders te leer lees nie.
Hier het Cyril Scholtz van die ATKV-tak Langsous onder meer by ouetehuise na afgetrede onderwysers gegaan om hulle by leesopvoeding in skole te betrek. Vennootskappe met plaaslike organisasies, munisipaliteite en biblioteke is ook noodsaaklik.
Op kultuurvlak word leerders en opvoeders betrek deur vindingryke projekte soos die Karoo Interskole-toneelfees, terwyl projekte op sosiale vlak floreer met onder andere die Gold Rush-kermis van die ATKV-tak Arendsnes, Bybel-staptoere, verskillende bustoere en boeke wat aan matrieks geskenk word.
Jeugtakke het hul suksesstories gedeel oor hoe hulle Afrikaans in tweetalige skole bevorder, in hul gemeenskappe betrokke is en kwartaallikse projekte uitvoer soos die kyk van ’n Afrikaanse fliek, eksamenbederfies met geskenke van die ATKV en Afrikaanse kos en musiek.
Verder het die musikant en rymkletser Frazer Barry gesels oor Afrikaans as brugbouer, terwyl die akteur Paul Strydom die gehoor geïnspireer het oor die krag van invloed sonder ’n titel. Jaco Strydom het oor die verskil wat in teenwoordigheid lê, gesels, terwyl Ivor Swartz vir jeugtakke gevra het of jou omstandighede jou gaan verander, en of jy jou omstandighede gaan verander.
Donderdag het streeksnetwerk- en gespreksessies plaasgevind, voor almal huis toe vertrek het.
Met die woorde uit die liedjie wat dr. Le Roux die afgevaardigdes met die aanvang van haar toespraak laat sing het: “Dit is wel met my siel…”, kan ’n mens volstaan.
Ná drie dae van kuier, kopkrap en klets in Afrikaans, was alles inderdaad wel met almal se siele. Daar is by hierdie Kultuurkuier sonder twyfel hoop vir Afrikaans en hoop vir die toekoms geskep.