Internasionale Woordeboekdag gevier
Woordeboeke bou brûe! Daarom is Internasionale Woordeboekdag, wat jaarliks op 16 Oktober gevier word, wêreldwyd so belangrik. Hierdie dag het ontstaan ter ere van die Amerikaanse woordeboekmaker, Noah Webster, wat op 16 Oktober 1758 in Connecticut gebore is.
Hoewel Noah se pa ’n boer was, het die leergierige Noah besluit dat hy liewer met woorde wil boer. Reeds op 16 jaar is hy na die Yale Universiteit waar hy al hoe meer bewus geraak het van die waarde en noodsaaklikheid van woordeboeke. Hy word allerweë as die vader van die Amerikaanse leksikografie en die moderne woordeboek beskou. Noah het ’n allemintige 26 tale aangeleer wat hom in staat gestel het om die groot An American Dictionary of the English Language saam te stel.
Met die viering van Internasionale Woordeboekdag word mense regoor die wêreld weer bewus gemaak van die onontbeerlikheid van woordeboeke. Goeie kommunikasie- en taalvaardighede op alle terreine was nog altyd uiters noodsaaklik vir sukses, en dus is woordeboeke onmisbare bondgenote vir ’n ieder en ’n elk. ’n Woordeboek moenie net ’n stowwerige boek op jou rak wees wat net vir “geleerde” mense bedoel is nie. Woordeboeke sluit deure oop na ’n wêreld van woorde en betekenisse. Woordeboeke help met die uitbreiding van woordeskat, verbeter spelling en grammatika, bevorder selfstandige leer, plaas woorde in konteks en bevorder taalbewustheid en leesbegrip. Met woordeboeke verryk jy jouself en daarby bou woordeboeke brûe tussen mense en tale. En niemand hoef 26 tale te ken om ’n woordeboek te kan gebruik nie!
Die ATKV het ook ’n spesiale plek vir woordeboeke met die ATKV-Woordwystoekenning wat jaarliks aan ’n woordeboek of taalgids toegeken word. Dié jaar val die kollig op die woordeboek, N|uuki Namagowab, Afrikaans, English Woordeboek/Dictionary (2022) wat met die ATKV-Woordwystoekenning bekroon is. Die beoordelaarspaneel vir vanjaar se Woordwystoekenning was professore Rufus Gouws, Ernst Kotzé en Gerhard van Huyssteen, wat bogenoemde woordeboek, met Bonny Sands en Kerry Jones as hoofredakteurs, eenparig aangewys het as die wenner van 2023 se ATKV-Woordwystoekenning. Die woordeboek is saamgestel deur African Tongue en geproduseer deur African Sun Media.
As minderheidstale word Namagowab en N|uu in hierdie woordeboek gedokumenteer en dus bewaar. Daarby word hierdie vreemde tale toeganklik vir ander taalgebruikers gemaak deurdat die woorde ook in Afrikaans en in Engels aangegee word.
Die beoordelaars het die innovasie, omvang en gemeenskapsgerigtheid van die woordeboek uitgesonder as kenmerke wat van hierdie naslaanbron ’n wenner maak.
Wat innovasie betref, is dit die eerste woordeboek vir Namagowab en N|uu van dié aard. Die woordeboek is ook digitaal beskikbaar en klanklêers word vir baie woorde ingesluit. Dit maak die woordeboek toeganklik en baie innoverend met ’n eietydse digitale voetspoor vir twee tale wat die gevaar loop om te kan verdwyn. Nog ’n eerste is die insluit van ’n variëteit van Afrikaans wat naas Standaardafrikaans bekendstaan as “Onse Afrikaans” en veral in die Noord-Kaap gepraat word. Onse Afrikaans is waarskynlik die eerste variëteit van Afrikaans wat te boek gestel is.
Die omvang van die gedrukte woordeboek is op sigself opvallend. Saam met die aanlyn woordeboek, die klanklêers en die addisionele materiaal in die voorwerk van die woordeboek oor onder meer die grammatika, is dit in geheel nie net ’n woordeboek nie, maar ’n uitgebreide naslaanbron wat ’n minderheidstaal dokumenteer. Belangrik hier is ook die brugfunksie wat Afrikaans tussen die tale speel. Die skakel wat met Nama as een van die oerbronne van Afrikaans gemaak word, is ook belangwekkend. Hierdeur word die aard en omvang van die Afrikaanse leksikografie verryk.
Volgens die beoordelaars is dié uitsonderlike woordeboek ’n baie goeie voorbeeld van ’n verantwoordelike gemeenskapsgerigte woordeboekprojek, wat ook as model vir ander soortgelyke woordeboeke kan dien. Bowenal gee dit aan die sprekers van Namagowab en N|uu die geleentheid om meer van hul eie tale te wete te kom, en ook om hul tale naas Afrikaans en Engels te sien ontwikkel. Via Afrikaans as brontaal kan Afrikaanssprekendes ook die rykdom van ánder moedertale ontdek.
Die redaksiespan bestaan uit verskeie linguiste, taalkundiges, vertalers en ander kundiges. Gemeenskapslede en sprekers wat die tale magtig is en wat meegewerk het aan hierdie unieke taalbron is onder andere Anna Kassie, Griet Seekoei, Katrina Esau, Hannie Koerant, Andries Olyn, Hanna Koper, Vytjie Koper, Simon Sauls, |Una Rooi, Kheis Brou, Elsie Vaalbooi, Claudia Snyman, David van Wyk, Mietjie Sussie Bok, Willem Damarah, Lys Kruiper Pietersen, Izak Kruiper, Lydia Kruiper en Leonard Gewersk.
Ouma |Una Rooi verduidelik dat hulle lank terug hul taal toegemaak het in ’n sloot en gesê het: “Eens op ’n tyd, dan sal ons weer vir jou uithaal as daar ’n opening vir ons is op die tafel.” Met dié woordeboek sit N|uuki, Namagowab en Onse Afrikaans ook nou aan die tafel.