Jaco Jacobs: Koop vandag ’n Afrikaanse boek!

Die laaste Afrikaanse boek. Wie onthou dié publikasie van wyle Karel Schoeman wat in 2002 verskyn het? Die boek self het ek nooit gelees nie, maar die opspraakwekkende titel het my destyds so ’n ligte vuishou voor die bors gegee elke keer as ek dit in ’n boekwinkel raakgeloop het. In vandag se tegnotaal sou jy daardie titel dalk selfs klikaas (clickbait) kon noem.
Die titel van daardie Schoeman-boek het oor die jare gereeld in my agterkop bly spook – veral tydens die Covid-19-pandemie, toe die een ná die ander Afrikaanse tydskrif en koerant gesneuwel het en uitgewers noustrop getrek het omdat mense onwettige roofkopieë van koerante, tydskrifte en boeke goedsmoeds in PDF-formaat rondgestuur het.
As ek aan die einde van die wêreld dink, soos skrywers en liefhebbers van wetenskapsfiksie graag doen, dink ek aan zombies en meteoriete en robotte gewapen met kunsmatige intelligensie. Maar ’n wêreld sonder Afrikaanse boeke? Skielik lyk zombies nie meer so skrikwekkend nie.
Hoekom is iets soos Koop-’n-Afrikaanse-boekdag nodig? Dit is nodig sodat die ryk tradisie van die Afrikaanse letterkunde kan bly voortbestaan.
Dis ’n tradisie wat voortbou op die werk wat baanbrekers soos onder andere C.J. Langenhoven, Adam Small, Dalene Matthee, Antjie Krog, André P. Brink, Ingrid Jonker en C.M. van den Heever gedoen het. Dis ’n tradisie wat strek van Stories van Rivierplaas en Trompie en Saartjie tot by Ena Murray, Tryna du Toit, Ela Spence, Kook en Geniet en die HAT.
Dis ’n tradisie waarsonder van vandag se gewildste Afrikaanse skrywers soos Deon Meyer, Chanette Paul, Irma Venter, Bettina Wyngaard, Rudie van Rensburg, Dana Snyman, Chris Karsten, Zirk van den Berg, Sophia Kapp, Wilna Adriaanse en Sidney Gilroy – om maar ’n paar te noem – nie op ons boekrakke sou pryk nie.
En vergeet van die grootmense – dis ’n tradisie waarsonder ek en ander Afrikaanse kinderboekskrywers nie die voorreg sou kon hê om stories te skryf wat kinders laat ril en gril en skater en naels kou nie. Dis ’n wêreld sonder Liewe Heksie, Fritz Deelman, Maasdorp, Keurboslaan, Pippie Langkous, die Kleuterverseboek en die Swart Kat.
Elke keer as jy ’n Afrikaanse boek koop – of dit nou ’n uitdagende literêre werk, ’n lekker ontspanningsroman of ’n kinderboek is – help jy om dié tradisie lewend te hou. Nie net met jou geld nie, maar ook met jou aandag.
Schoeman was gelukkig verkeerd. Die laaste Afrikaanse boek het nog lank nie verskyn nie. En elke keer as jy by ’n boekwinkel instap of jou Kindle aanskakel en ’n Afrikaanse boek koop, bevestig en vier jy dié feit.
Ondersteun Koop-’n-Afrikaanse-boekdag en verlekker jou in die voorreg van ’n Afrikaanse boek.