Jacqued Werner Horne bou in Afrikaans
Hy is jonk, slim en passievol oor Afrikaans. Ontmoet vir Jacqued Werner Horne, wat op De Aar in die Noord-Kaap grootgeword het, en al daar op skool besef het watter impak woorde kan hê.
Dié 24-jarige woon vandag in Kimberley en het verlede jaar sy meestersgraad in Afrikaans aan die Sol Plaatje-Universiteit voltooi. Hy fokus nou op verdere akademiese ontwikkeling en berei vir sy doktorale navorsing voor.
Jacqued het aan die Hoërskool De Aar gematrikuleer en sê dat ’n mens in ’n kleiner gemeenskap dikwels ’n “besonderse bewustheid ontwikkel van hoe taal mense se lewens en ervarings weerspieël”.
“Ek het van kleins af besef dat taal nie bloot ’n instrument vir kommunikasie is nie, maar ook ’n medium waardeur mense hul geskiedenis, kultuur en identiteit kan oordra.”
Jacqued vertel dat dit juis stories, gesprekke en literatuur was wat hom laat besef het hoe kompleks en ryk Afrikaans is, en dit het uiteindelik sy belangstelling in taalstudie en literatuur laat ontwikkel.
Sy studies het in 2020 aan die Sol Plaatje-Universiteit afgeskop, en hy is daar as hulle topstudent in die geesteswetenskappe aangewys.
“Ek het in my meestersgraad kritiese diskoersanalise as metodologiese en teoretiese raamwerk gebruik om literêre tekste te ondersoek. My navorsing het spesifiek gefokus op hoe taal gebruik word om identiteit te konstrueer en hoe hierdie voorstellings breër sosiale en kulturele betekenisse reflekteer.
“Ek streef daarna om nie slegs ’n akademiese bydrae te maak nie, maar ook om deur my werk ’n impak te maak oor hoe taal, kultuur en gemeenskappe verstaan en voorgestel word,” gesels hy.
Jacqued noem dat een van sy belangrikste insigte was dat Afrikaans baie veelsydig as taal van identiteit is, en meen daar is nog vele temas en vraagstukke rondom Afrikaans wat ondersoek kan word.
“Ek glo dat daar nog baie navorsing gedoen kan word oor die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans, asook oor die verskillende persepsies wat oor die geskiedenis van die taal bestaan.”
Jacqued is die voorsitter van die ATKV-tak Taal Trek en dié rol is vir hom ’n besonderse voorreg en verantwoordelikheid.
“Die ATKV speel ’n uiters belangrike rol in die bevordering en ontwikkeling van Afrikaans, en om deel van so ’n gevestigde en gerespekteerde organisasie te wees, is nie net ’n eer nie, maar ook ’n geleentheid om werklik ’n bydrae tot die toekoms van die taal te lewer.”
Hy sê die ATKV-tak Taal Trek bestaan uit ’n toegewyde span, en dit is daardie kollektiewe energie en kreatiwiteit wat hulle help om soveel betekenisvolle inisiatiewe te dryf.
“Ons werk as ’n eenheid met ’n gedeelde visie om Afrikaans op ’n inklusiewe, relevante en vooruitdenkende wyse te bevorder.”
Dié akademikus woeker nie net met ATKV-inisiatiewe in die gemeenskap nie, maar is ook betrokke by verskeie projekte wat op gemeenskapsontwikkeling en erfenisbewaring fokus.
Hy is een van die stigters van die Northern Cape Heritage Pioneers, ’n organisasie wat op erfenisbewaring, opvoeding en akademiese ontwikkeling binne die Noord-Kaap fokus.
“Die organisasie is op die beginsel van ubuntu gegrond, met die doel om gemeenskappe te bemagtig deur hul geskiedenis, tale en kulturele praktyke te erken, te beskerm en te bevorder,” vertel hy.
Hulle het ook ’n akademiese inisiatief, naamlik die Ubuntu Scholars Lab, wat daarop gemik is om akademiese uitnemendheid en etiese navorsingspraktyke te bevorder.
“Die program bied ondersteuning aan leerders en studente deur een-tot-een-mentorskap, navorsingsbegeleiding en opleiding in die verantwoordelike gebruik van tegnologie.”
Jacqued sê hulle wil graag ’n ruimte skep waar erfenis, taal en akademiese ontwikkeling saamvloei.
Verder glo Jacqued dat Afrikaans beslis nie ’n kwynende toekoms het nie.
“Ek glo dat Afrikaans steeds ’n betekenisvolle en relevante rol binne ons veranderende Suid-Afrikaanse samelewing speel, veral as ’n taal wat die potensiaal het om verskillende gemeenskappe, ervarings en werklikhede te verbind. In plaas daarvan om as ’n afgebakende of eksklusiewe taal beskou te word, behoort Afrikaans juis verstaan te word as ’n dinamiese en aanpasbare taal wat in voortdurende wisselwerking met ander tale en kulture funksioneer.”
Hy vertel dat ’n mens reeds in praktyk sien hoe Afrikaans op ’n natuurlike wyse saam met ander inheemse tale vloei.
“Ons hoor byvoorbeeld hier in Kimberley dikwels hoe Afrikaans en Setswana mekaar beïnvloed en aanvul. Hierdie vorm van taalvermenging is nie ’n bedreiging vir Afrikaans nie, maar eerder ’n bewys van sy lewenskragtigheid en vermoë om saam met ander tale te groei en nuwe uitdrukkingsvorms te ontwikkel.”
Sy grootste droom vir Afrikaans is dat dit as ’n “lewende, inklusiewe en transformerende taal” sal voortbestaan, wat werklik ruimte vir sy volle spektrum van stories, identiteite en gemeenskappe maak.