Janien Müller teken haar pad oop
’n Tienermeisie wat op ’n plaas in die Klein Karoo woon, palm ’n internasionale toekenning of twee vir kinderboek-illustrasies in ... Dit klink soos iets uit ’n sprokie, en op ’n manier is dit. Janien Müller is immers slegs 16 jaar oud. Sy bly op die plaas Dieprivier in Oudtshoorn. Sy is ’n leerling aan die Langenhoven Gimnasium in die einste dorp. Janien het onlangs tydens die Tuinroete-eisteddfod die gesogte Routey-toekenning ingepalm in die kategorieë: Top Senior Gemengde Media en Beste Visuele Kunstenaar vir 2023. Daarbenewens is Janien ook bekroon vir kinderboekillustrasies wat sy ingeskryf het vir Protea Boekhuis se Picture This!-kompetisie en is as een van die internasionale wenners in dié kompetisie aangewys.
Maar dit is nie al nie. Vroeër vanjaar het sy ook weggestap met die ATKV-DigiKuns-toekenning vir haar gemengdemedia-kunswerk Besoedeling op Moeder Natuur in die ouderdomskategorie 13 tot 16 jaar.
Dié twee toekennings, saam met al haar vorige pryse en prestasies, is weliswaar reeds ’n indrukwekkende baanrekord, maar dit is net die verloop van ’n suksesverhaal wat begin het vandat Janien ’n potlood kon vashou. “Een van my eerste sketse was van myself,” vertel sy met ʼn glimlag. “Ek was seker so vyf jaar oud toe ek dit met ʼn pen in my pa se ID-boekie geteken het, min wetend dat mens nie veronderstel is om in ID-boekies te teken nie“.
Vir die volgende jaar of agt het Janien geteken vir die lekker – en altyd in die fynste besonderhede. Ma Barendien vertel as Janien besig was om te teken, het sy hulle altyd ingelig dat sy nog die “details” moet doen. In graad sewe het haar kuns egter nuwe en ernstige momentum gekry. Met die ondersteuning van haar ouers en onderwysers – en aangevuur deur ’n animasiefilm wat haar laat besef het sy wou kuns skep wat mense inspireer en emosioneel raak – het haar talent vlamgevat. Sy het meer mense begin teken en hul liggaamsproporsies en gesigsuitdrukkings bestudeer. Sy het ook haar eie karakters begin skep en haar daarop toegespits om hul lyftaal – verkieslik oordrewe gesigsuitdrukkings, emosies en aksie – vas te vang. Daarbenewens het sy vir die eerste keer aan ʼn kompetisie deelgeneem en besef daar is soveel kompetisies, sy sou voortaan oordeelkundig te werk moes gaan.
In graad agt en nege, vertel Janien, is sy “ongelooflik geïnspireer” deur haar skeppendekuns-onderwyseres, juffrou Kruger, en haar ontwerponderwyseres, juffrou van Blerk, wat haar aangemoedig het om dieper in die kunste te delf. Só het sy begin om met verskillende mediums en tegnieke te eksperimenteer en storielyne en simboliese boodskappe dieper te ontgin. In dié proses het sy besef dat kuns nie net vir ’n mens lekker kan wees nie; dit kan jou beroep en jou hele lewe word. “Danksy Juffrou Kruger het ek begin droom, ontwikkel en skep. Sy het my aangemoedig om harder te werk, nie net in my skeppende kuns nie, maar ook in al my ander skoolvakke,” verduidelik sy.
Wanneer dit kom by haar kuns, is Janien se kop “vol boksies met stories en verskillende idees wat net nooit ophou nie”. As sy na iets kyk, kan sy al sien waar sy dit kan gebruik. Maar as sy sien die eksamentyd kom nader, is sy slaggereed om haar akademie in die oë te kyk deur die boksies toe te hou en op haar skoolwerk te konsentreer.
Wanneer die eksamen verby is en die boksies in Janien se kop gaan weer oop, bly die boekkennnis nie agterweë nie, maar dit is tog die kunstenaarswysheid wat seëvier. “Met elke projek en uitdaging is daar beslis lesse of idees wat jy in die toekoms kan gebruik met volgende projekte. Kuns is om met emosie te skep, te ontdek, te ontwikkel en om ander kunstenaars te inspireer,” is die gevolgtrekking van Janien Müller, vandag se plaaskind, skoolmeisie en internasionaal bekroonde kinderboekillustreerder en môre se grafiese kunstenaar, animasieghoeroe en dalk nog argitek!
JANIEN SE BOODSKAP VIR JONGMENSE WAT IN KINDERBOEKILLUSTRASIE BELANGSTEL
“Dit is vir my belangrik om die boodskap te deel dat elkeen van ons talente gekry het; ons moet dit net ontdek en ontwikkel. Wanneer jy ’n passie het, moenie toelaat dat negatiewe kommentaar jou terughou nie; gebruik dit eerder as aanmoediging om nog steeds jou beste te gee. Sien die uitdagings as trappies na jou sukses. Doen altyd wat jou hart gelukkig maak. Jy is uniek in Jesus se oë.”
JANIEN SE INSPIRASIESTASIES
Gunsteling-animasiefilms
Puss in Boots and The Last Wish vir die besonderse vermenging van 2D en 3D.
Miraculous Ladybug vir alles – van die animasie tot die emosie.
Silent Voice vir die besonderse boodskap en die emosie wat die film oordra.
Gunstelingboeke
Die Percy Jackson-reeks, die Lockwood & Co-reeks en die Blythewood Trilogy is van my gunstelinge, asook die wetenskapsfiksie-fantasieroman Beeldskone Nagmerrie van Sunel Combrinck.
Gunstelingmusiek
Alles van Adele, Lana Del Rey, The Neigborhood, en Harry Styles tot die klankbane van bekende flieks.
Drie plekke in die wêreld wat sy nog wil besoek
Griekeland vir die mitologie, boustyl en die natuur, Frankryk vir die museums, die unieke kos en die ryk geskiedenis en Disneyland in die VSA vir die lekker.