Jeugtak bou bankies met eko-bakstene
Waar ander rommel as nutteloos en vuil sien, het die ATKV-jeugtak Afriganza tesame met die onderwysers en leerders van die Hoërskool Montana in Worcester besluit rommel bring hoop vir ’n mooier toekoms. Karla Vink, takvoorsitter, sê die idee broei reeds lank in haar kop. Aan die begin die jaar het hulle die daad by die woord gevoeg en leerders het begin om alle plastiekafval skool toe te bring. Met hierdie afval word eko-bakstene gemaak wat later gebruik sal word om sitplekke vir die leerders op die skoolgrond te bou.
Karla sê, “Skole gebruik só baie plastiek! Die slaptjips kom in polistireenbakkies, die lekkers en ander tjips kom in plastiek, en hoewel ons leerders alles in vullisdromme gooi, voel ons steeds ons kan dit beter benut.”
Sy sê die leerders is baie ywerig en bring al hul plastiekafval na die registerklasse, waar die ATKV-jeugtak dit oplaai en stoor tot dit later weer in 2 liter-bottels gedruk word. Dié deel van die projek, waar die bottels gevul word, is groot pret vir die kinders en bied die geleentheid om vriendskappe te versterk. Ook leerders wat nié deel is van die ATKV-jeugtak nie het ingespring om te help. Die projek strek oor die hele jaar en volgende jaar. Die bankies sal in die nuwe jaar met die gevulde bottels gebou word. “Ons wou vir hulle sitplekke gee wat in die wind en weer sal bly staan!” sê Karla.
Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.