Jeugtak maak Lady Grey ’n beter plek
Lady Grey mag dalk net ’n klein, plattelandse dorpie naby die Witteberge wees, maar daar gebeur wonderlike dinge in dié dorp. Iemand wat sorg dat hierdie dinge gebeur, is Viljean Burger, takvoog van die ATKV-jeugtak Lady Grey Kunste-akademie.
Dit het alles begin met Viljean se Molweni Bantwana-projek, wat sy in 2019 by die Lady Grey Kunste-akademie, ’n skool in Lady Grey, begin het. Die ATKV het die kinderuitreik-aksie raakgesien waarmee sy probeer om die kinders van Transwilger op te hef, en haar gevra om betrokke te raak by die ATKV. ’n ATKV-tak is gestig: die ATKV-jeugtak Lady Grey Kunste-akademie.
Transwilger is ’n informele nedersetting in Lady Grey waar die werkloosheidsyfer besonder hoog is en waar die mense regtig swaarkry. Viljean het ’n vaste rooster vir haar programme, wat die grondslag vorm wanneer die kinders ná skool by Molweni Bantwana aansluit – en op ’n Donderdag is dit tyd vir ATKV-dinge.
“Ek hou van orde,” sê Viljean, “so elke dag in die week kom daar ’n ander groep kinders. Maandag kom die kleintjies, Dinsdae kom die groter kinders en op Donderdae is dit die ATKV se beurt. Maar elke dag gee ons vir hulle liefde, ons gee vir hulle hoop en ons gee vir hulle kos en ’n koeldrank.
“Die kinders kan daar leer vir die eksamen, want tuis is daar nie plek om te leer nie. Ek maak die ruimte oop en dan sit ons elke dag daar en leer vir die eksamen, presies soos ek my eie kinders geleer het. Die kinders wat deel is van die ATKV-tak is die leiers en hiermee saam gaan verantwoordelikheid, integriteit en ’n bietjie leierskap. Toe ek onlangs een middag nie daar kon wees nie en iemand vir my kom instaan het, was ek verstom om te hoor hoe seepglad dinge verloop het met die ATKV-leiers wat beheer geneem het.”
Een van die besondere projekte waarmee Viljean en haar ATKV-span besig is, is die Swop Shop. Daar word swart rommelsakke aan die kinders uitgedeel, wat dan in hul omgewing blikke en plastiese bottels moet optel. Een of twee maal per maand word die swart sakke met die herwinbare rommel ingeneem en daarvoor kry die kinders koepons wat hulle dan by die ‘winkel’ kan ruil vir tee, koffie, suiker, lekkers en ander produkte.
Aan die begin van die jaar is daar ’n spesiale ruildag vir skryfbehoeftes, skoolskoene en skryfboeke. Viljean sê vir haar is hierdie projek belangrik, want dit leer die kinders dat selfs die rommel wat oral rondlê vir jou van waarde kan wees, en dat dit belangrik is om op te ruim. Koeldrankdoppies word byvoorbeeld versamel vir ’n rolstoelprojek.
“Wat ek hoop om met hierdie projek vir die kinders te leer, is wanneer jy iets doen, kry jy iets in ruil terug. Hierdie gevoel van eiegeregtigheid wat deel geword het van ons samelewing is vir my iets vreesliks. Jy gee vir my en ek verwag dat jy vir my gee en gee. By Molweni Bantwana kom niks pasella nie. Jy gaan niks kry as jy nie die groepe bywoon nie. Op daardie manier wil ek vir hulle sê: ‘Kom uit jou omstandighede uit!’” sê Viljean.
Asof hierdie projek haar nie besig genoeg hou nie, is Viljean ook baie hard aan die werk by Lady Grey se dam. Hierdie dam, wat in 1925 gebou is, was op ’n tyd die juweel van die dorp, maar het soos baie dinge in ons land totaal verwaarloos geraak. Oor die jare het die toegangsroete na die dam baie agteruitgegaan.
Viljean het besluit om die dam weer tot sy volle skoonheid te herstel as deel van haar Molweni Bantwana-projek, want sy wou ’n plek hê waar sy die kinders meer kon leer oor omgewingsbewaring. Sy het aansoek gedoen om deel te word van die Lottoland Help ’n Dorp-televisiereeks en het fondse by Lottoland gekry.
Daar word nou baie hard gewerk by die dam. Een van die dinge wat gedoen is, is om die 287 kliptrappies wat bo na die damwal loop, oop te kap en toeganklik te maak. Die toegangsroete na die fonteintjie is ook oopgekap. Die mense van Lady Grey het nog altyd gesê, as jy eenmaal van die fontein se water gedrink het, sal jy terugkeer na die dorp.
Viljean het ook planne om Transwilger se mense te betrek by ’n sogenaamde Farm in a bag-projek. Die meeste van hierdie mense bly bloot in ’n informele sinkhuisie sonder ’n tuin, of iewers in ’n kamer op iemand anders se erf. Hulle het ook nie werk nie en het dus baie tyd tot hul beskikking om deel te word van so ’n projek.
Die sak is ’n groot sak, soos ’n wolsak, waarin daar goeie organiese grond geplaas word en waarin jy dan groente soos aartappels, spinasie en wortels kan groei. Sy glo vas aan die beginsel van gee ’n man ’n vis en hy eet dit nou op, maar gee ’n man ’n visstok en hy kan visvang vir die res van sy lewe. Sy sal ook graag wil hê dat die mense dan die groente wat hulle op hierdie manier verbou, aan die Swop Shop kom verruil vir kos en ander voorrade. Op daardie manier kan dit dan weer teruggaan na die behoeftige huishoudings en die geld wat daarmee verdien word, nie vermors word op drank en dwelms nie.
“Al hierdie projekte verg harde werk en soms raak ’n mens maar moedeloos, maar vir nou sal ek nie ophou nie,” sê Viljean.
“Miskien is daar een kind, net een kind, in wie se lewe ek ’n verskil kan maak. Miskien, as ek nie doen wat ek doen nie, gaan daardie kind verlore gaan. Die Here het vir my gesê ek moet dit doen en ek sal dit doen totdat Hy vir my sê: ‘Dis oukei, jy kan nou maar ophou’. Dis alles net genade dat ek nog saam met die kinders kan hardloop en speel en die 287 trappies na die damwal kan uitklim. Solank ek dit kan doen, sal ek graag ’n verskil wil maak.”