Jeugtak ontsluit woordeskat vir Hoërskool Ben Viljoen-leerders
Die Engelse skrywer, Samuel Johnson, het gesê: “Taal is die klere van die gedagte. Ons woorde is die boustene van ons drome... die grootste skeppende krag en energie wat ons het.” Toe Talita Cupido, ’n onderwyseres van die Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal, agterkom dat leerders van dié skool nie hul moedertaal vlot kan praat nie, het sy ’n slim plan bedink. Die Woord van die week-projek is geloods om leerders se woordeskat weer op te skerp. Talita sê: “Ek het die probleem by Hoërskool Ben Viljoen se ATKV-jeugtak Bevonkte Jeug-lede, wat gr. 11-leerders van die skool is, aangemeld. Een van die lede het met die idee vorendag gekom dat ons ’n Woord van die week-projek moet doen. Van daar af het ons dadelik begin woorde soek en planne beraam, en drie dae later is ons projek geloods.”
Hoe werk dit?
Elke ATKV-jeugtaklid kry die geleentheid om ’n woord te kies. Hulle stuur dan hul gekose woord aan die ATKV-jeugtak Bevonkte Jeug se voorsitter, wat ’n digitale plakkaat van die woord en sy beskrywing maak. Die woord en die definisie daarvan word Woensdagoggende tydens die skoolopening afgekondig. Die digitale plakkaat word ook op die skool se sosiale-mediaplatforms gelaai, sodat die gemeenskap ook deel van die projek kan wees.
Projekte wat Afrikaans bevorder, is belangrik vir die jeugtak. Talita sê: “Ons moedertaal is ons identiteit en hierdie tipe projekte bevestig juis dat ons met trots moet verkondig wie ons is. Elke woord wat ons kies, kan direk uit Afrikaans na Engels vertaal word. Die doel hiervan is om ’n liefde vir taal in ’n multikulturele skool te kweek en om daarmee saam ’n liefde vir ons Afrikaanse kultuur te kweek.”
Sommige van die woorde wat gekies is:
Plutokrasie: ’n Regering van rykes, of ’n staat wat deur rykes regeer word.
Klandestien: Heimlik, verbode. Iets wat in geheim gedoen word, dikwels onwettig.
Fantasmagorie: Die voortdurend-wisselende opeenvolging van dinge in jou verbeelding, soos in ’n droom.
Ongebreideld: Onbeteueld of losbandig.