Jeugtak sit broodknippieprojek aan die rol
By die Hoërskool Robertson is ’n wedloop aan die gang om soveel moontlik broodknippies (bread tags) en plastiekdoppies bymekaar te maak. Dit is deel van ’n projek van die ATKV-jeugtak Taalture ten bate van die Wes-Kaapse QuadPara-vereniging. Die doel is om genoeg knippies en doppies te hê om uiteindelik ’n rolstoel aan ’n behoeftige persoon te kan skenk. Broodknippies kom in verskillende vorms, kleure en groottes voor. Gemaak van hoë impak-polistireen het dié goedjies goeie herwinningswaarde. Een broodsakkie kan 1 kg se knippies hou en 200 kg se knippies word benodig om genoeg geld in te samel vir een rolstoel.
Plastiekdoppies van melk-, vrugtesap- en waterbottels word ook ingesamel, asook dié van grondboontjiebotterbottels, mayonnaisebottels, margarien en jogurt. Hulle het egter nie soveel waarde as die plastiekknippies nie en dit neem ongeveer 450 kg doppies om genoeg geld vir ’n rolstoel in te samel.
Anja Giliomee, takvoog, sê hulle het besluit om die rolstoelprojek te ondersteun nadat lede van die QuadPara-vereniging van Suid-Afrika met leerders kom gesels het. Die kern van hul boodskap was om mense met gestremdhede te aanvaar en “deel te laat voel”. “Ons wou graag help. Dit is ’n waardevolle projek,” sê sy. Die leerders wat aan die einde van die projek die meeste (grootste gewig) doppies en knippies ingebring het, sal ’n prys wen.
Die tak het ook reeds op ander maniere fondsinsamelings gehou vir die rolstoelprojek deur onder meer rugbykaartjies uit te loot. Hulle het ook ’n rym sonder rede-dag gehou, waar die leerders in pare soos rymwoorde moes aantrek (byvoorbeeld, een trek soos ’n kamerjas aan en die ander soos ’n strikdas, of soos “later” en “kwater”).
Mary Honeybun, ’n afgetrede verpleegsuster wat die organisasie Bread Tags for Wheelchairs gestig het, het ná haar aftrede besluit om ’n projek van stapel te stuur vir rolstoelbefondsing. Haar verpleegloopbaan het haar laat besef hoe belangrik dit vir ’n gestremde persoon is, sowel fisies as emosioneel, om die mobiliteit te hê wat ’n rolstoel bied. Dit verlig die las van die gestremde persoon, asook van die familie en mense wat omsien na hierdie persoon. Dit is baiemaal mense wat rolstoele so nodig het wat dit juis nie kan bekostig nie, sê sy op die webwerf www.breadtagsforwheelchairs.co.za.
Om betrokke te raak by die ATKV-jeugtak Taalture se insameling, kontak Anja Giliomee by 082 584 9146 of stuur ’n e-pos na anjaenstefe@gmail.com. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.