Jong Tienertoneeltalent bekroon
Kleintyd al moes pa Chris en ma Marguerite Dippenaar op hul stoele (met blommetjies wat plegtig oorhandig is) gaan sit om na hul drie dogters se vertonings te kyk. Dan is daar gesing, gedans en vir ’n vale toneel gespeel. En dit was net die begin, want dié trotse ouers was al telkens in die gehoor as een van hul talentvolle dogters op die planke was.
Inge Dippenaar, ’n graad 11-leerder in die Curro Durbanville Hoërskool, is een van daardie dogters. Sy het by vanjaar se ATKV-Tienertoneelfinaal as die karakter Dood in haar skool se produksie Mensdom verskyn.
Dit was slegs die tweede jaar dat dié skool aan ATKV-Tienertoneel deelgeneem het en vanjaar was daar baie om te vier. Hulle is vir vele pryse benoem en Mensdom het die derde plek by die finaal behaal.
Curro Durbanville Hoërskool se drama-onderwyseres, Lize-Meri Amann, was die skrywer en regisseur van Mensdom.
“ATKV-Tienertoneel skep ’n ongelooflike platform vir leerders en gee hulle ook die kans om op ongelooflike verhoë en in ongelooflike teaters te speel,” gesels sy. “Ons sien baie daarna uit om volgende jaar weer deel te neem.”
Op Inge is hulle baie trots. “Inge is ’n baie slim aktrise. Sy het onmiddellik die karakter gevat en my gevra wat ek spesifiek wou hê en ek het vir haar leiding gegee. Sy het my gevra of sy net kon speel en ek het gesê sy kon. Só het sy aan haar karakter bly skaaf en met elke repetisie net nog iets bygesit. Die karakter het geëvolueer tot die besonderse vertoning wat sy gelewer het.”
Mensdom is deur die Middeleeuse toneelstuk Everyman geïnspireer en bied kommentaar op die samelewing, waar die mensdom sy greep op die werklikheid verloor en met die uiterlike behep is. Die mensdom word dan deur die noodlot en dood gekonfronteer.
Inge sê Dood was beslis een van haar gunstelingrolle nog om te vertolk.
“Ek dink dit is omdat dit so ’n absurde karakter was. Ek is so dankbaar vir ’n regisseur wat my met die rol vertrou het en ek kon regtig my karakter vorm. Ek het probeer om die karakter werklik interessant te maak, want dit moes komies, hartseer en ernstig wees. Dit was uitdagend, maar ook heerlik, want ek kon my op die verhoog uitleef. Dit was so lekker om te speel dat ek nog ná elke vertoning wou rondspring, want die karakter het my soveel energie gegee!”
Aan energie het Inge beslis nie ’n tekort nie en haar dagboek is so besig dat daar min kans of tyd vir rondsit is.
“Ek is mal daaroor om besig te wees en my doelwitte te bereik. Ek is ’n groot ekstrovert en kry my energie van ander mense af. Ek geniet dit ook om te oefen, want dis ’n manier om my brein tussendeur al die chaos af te skakel,” vertel sy.
Drama was nog altyd haar grootste belangstelling, sê sy. “Niks maak my meer opgewonde as om op ’n rolprentstel of die verhoog te wees en in ’n karakter se skoene te klim nie.”
Haar ouers het haar nog nooit in ’n rigting gedwing nie, noem sy dankbaar, en haar pad het baie natuurlik met toneel gekruis en só het toneel haar grootste passie geword.
“Dit het by daai kleintydkonserte vir ons ouers begin, en daarna het kompetisies en eisteddfods gevolg. Ek is so bevoorreg, want my skool gee regtig vir ons die geleentheid om die verhoog met fantastiese akteurs te deel en saam met wonderlike mentors te werk. Ek kan my waarlik in my passie uitleef.”
Kultuur moet soms aan die agterspeen by skole suig, maar by Curro Durbanville is kultuur baie belangrik, sê Inge.
“Jy kan hier drama, kuns of musiek as vak neem en ek neem drama as vak. Ons neem aan baie buitemuurse kompetisies deel en ons het ’n baie goeie drama-onderwyser, juf. Lize-Meri Amann.”
Inge sê haar skool het ’n been, Curro Create, wat allerlei projekte behels waar kinders se talente geëien en deur mentors in die bedryf ontwikkel word.
“Ek was verlede jaar deel van die Hashtag Courage Concert waaraan 25 performers van Curro-skole deelgeneem het. Ons was konstant vir ’n maand lank daarmee besig en het die kans gekry om in verskeie teaters op te tree.
“Dit was net nog iets wat my laat besef het dat toneelspel waarlik my passie is en dat ek nie my lewe daarsonder kan insien nie. Hennie van Greunen en Pedro Kruger staan aan die hoof van Curro Create en ek is al danksy Curro Create deur onder andere Stian Bam, Ira Blanckenberg, Bianca Flanders en Nicole Holm gementor. Die gevolg van al hierdie projekte is ’n skool met tonne talent.”
Tienertoneel gee jong talent trappies
Vir Inge beteken haar Tienertoneeltoekenning baie. “Dis maar net die tweede jaar wat ons aan ATKV-Tienertoneel deelneem en ons het so hard gewerk om hierdie fantastiese produksie aanmekaar te sit. Ek is iemand wat altyd sê, wat moet gebeur, sal gebeur, solank ek 100% myself is en 100% van myself gee. Dit is ook al wat ek met my optrede gedoen het en die toekenning is vir my ’n bewys dat ek my werk gedoen het en op hierdie pad moet bly. Ek sien my pad met toneel as ’n storie en hierdie is een deel van my storie. Daardie trofee in my kamer is nou die deel wat my aanmoedig en sê: ‘Doen waarvan jy hou en doen dit na die beste van jou vermoë. Hou jou passie na aan jou hart.’”
Inge sê haar ouers, susters en vriendinne is haar grootste “rasieleiers” en vir ’n beter ondersteuningstelsel kan sy nie vra nie. “Ek sou dit nooit sonder hulle kon doen nie. Hulle motiveer my om harder te werk en hulle gee die beste pep talks. My ouers sit nooit druk op my nie en ondersteun my ten volle, of ek nou wen of verloor. Hulle was ongelooflik trots op die toekenning, en het gesê hulle het geweet dat ek kon wen omdat ek so hard gewerk het. Dit was vir my so lekker en spesiaal om dit saam met hulle te ervaar.”
Vir Inge lê matriek nou voor en sy sien uit om weer in 2025 deel van ATKV-Tienertoneel te wees.
“Ek glo Tienertoneel lê ’n grondslag vir baie toneelkinders in Suid-Afrika. Ek dink dat dit die saadjie vir baie kinders se toneelboompies plant. Tienertoneel gee ons so baie kanse, hulle mentor jou, leer jou en ’n mens leer ook deur na ander produksies te kyk en ander kinders se talent te sien. Dit maak van jou ’n beter performer. Die ATKV-Agentpryse is net so wonderlik, want dit laat mense in die bedryf jong akteurs raaksien. Dit gee ons kinders daardie trappie om in die bedryf in te kom.”
’n Blink toekoms
Inge en haar suster, Nina, is albei tans op die kassie in die trefferreeks Nêrens, Noord-Kaap (Deel 2) te sien, wat deur Nico Scheepers geskryf is.
Dit is juis daar op die stel van Nêrens, Noord-Kaap wat sy besef het dat toneel deel van haar lewe moet bly en dat sy dit beslis ook in haar toekoms sien.
Inge is nog nie presies seker wat sy ná skool wil doen nie, maar sy weet dat drama wel deel daarvan gaan wees.
“Ek sien besigheid en drama in my toekoms. Terwyl ek nog besluit wat ek gaan doen, hou ek maar die drama aan die gang en my punte hoog!”
Inge weet nog nie wat die toekoms vir haar inhou nie, maar dis duidelik dat sy die trappies van toneel gaan uitklim en dat ons beslis weer haar gesig op TV of die verhoog gaan sien.
Kontak die projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel, JJ van Niekerk, by jj@atkv.org.za as jou skool wil deelneem.