Jou kind se eerste 1000 dae maak saak
Vroeëkinderontwikkeling (VKO) is kernbelangik. Selfs president Cyril Ramaphosa het in 2019 tydens sy staatsrede aangekondig dat daar ’n verpligte twee jaar van VKO-onderrig sal wees voor ’n kind graad 1 betree.
Kenners is dit eens dat die eerste 1000 dae van ’n kind se lewe van die uiterste belang is as dit kom by ’n kind se ontwikkeling.
“Daar is goeie bewys dat die eerste 1000 dae die trajek neerlê van hoe ’n kind tot in volwassenheid gaan ontwikkel,” sê prof. André Venter, voormalige hoof van die departement pediatrie en kindergesondheid aan die Universiteit van die Vrystaat.
“Hierdie is die tyd wat die brein fisiek vinniger groei as enige ander tyd in hulle lewens, en selfs geringe teëspoed kan tot groot negatiewe gevolge lei. Dit is belangrik om te verstaan dat die 1000 dae reeds begin met bevrugting.”
Hy sê die moeder se gesondheid, fisiek en psigies, het ’n merkwaardige uitwerking op die brein se ontwikkeling van die ongebore kind.
“Dit is dus belangrik dat ’n ma se voedingstoestand optimaal moet wees voordat sy swanger raak, en dan in stand gehou moet word gedurende die swangerskap.
“Verder moet die ma ook emosioneel en psigies gesond wees. Swangerskappe wat baie spanningsvol is (bv. as gevolg van gesinsgeweld of tienerswangerskappe) veroorsaak ’n erge stresreaksie by die ma, en die hormone wat sy afskei het dan ’n direkte negatiewe effek op haar baba se brein en kan direk lei tot aandagafleibaarheid of leerprobleme in haar kind.”
Volgens André is die geboorteproses ook baie belangrik.
“Betydse voorgeboorte besoeke by klinieke of geneeshere is dus noodsaaklik om risiko’s by geboorte te verminder.”
Die moeder en kind moet so gou as moontlik ’n hegte band smee.
“Die band is nie net belangrik vir die verhouding tussen die man en haar kind nie, maar dit verminder ook angs in pasgeborene, wat daaropvolgend die baba se brein teen die effek van toksiese streshormone beskerm.
“Die voordeel van eksklusiewe borsvoeding in die eerste ses maande van lewe is belangrik vir normale groei, voeding en die opbou van weerstand teen infeksies.”
Die eerste lewensjaar – die eerste 360 dae – van die kind word gekenmerk deur groei en ontwikkeling.
“Die moederkindband is verantwoordelik vir die sosiale ontwikkeling van die baba, van die eerste glimlag tot die sê van woorde. Gedurende hierdie tyd moet ontwikkeling gestimuleer word en die kind toegelaat word om fisiek en intellektueel te ontwikkel.”
In ’n kind se tweede lewensjaar begin die kind nuuskierig raak en begin hy sy omgewing ken.
“Dit belangrik om nog sorgsaam op te tree, maar veral om die kinders te beskerm teen seerkry.
“Al die kliniekbesoeke moet deurgaans nagekom word en die kind moet al sy inentings kry om te voorkom dat daar later onnodige komplikasies van kindersiektes is. Stresvolle omstandighede tuis, soos kindermishandeling en gesinsgeweld, kan ook aandagafleibaarheid in kinders veroorsaak.”
Volgens André is die beste raad as dit by jou kind se ontwikkeling kom om teenwoordig te wees.
“Die belangrikste advies is om dáár te wees vir jou kinders in hierdie twee vormingsjare en reaktief te wees tot hulle behoeftes en te verseker dat hulle goed gevoed en gestimuleer is.
“Streel jou kind, praat met hulle, maak oogkontak en koester hulle.”
- Die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram, AbbAsorg, help om vir ’n kind vlerke te gee. AbbAsorgsentrums regoor die land doen daagliks wonderlike werk onder kinders en het ten doel om ’n veilige omgewing te skep waar kinders gehalteopvoeding en -versorging kan ontvang. Vir meer ook AbbAsorg besoek https://atkv.org.za/neem-deel/abbasorg/.