Kaalvoet Karin hier om te bly
Met haar goue stem het die sangeres Karin Hougaard onlangs weer haar voortreflike talent en artistieke vermoëns met ’n opgewonde ATKV-Crescendo-gehoor gedeel. Dit was baie duidelik dat sy in die harte van Afrikaanse musiekgehore gebly het, en dat sy ’n magdom nuwe aanhangers bygekry het.
By die onlangse Goud-konsert tydens die 50-jaar-viering van ATKV-Crescendo se bestaan, het dit amper soos oëverblindery gevoel om een van Afrikaanse musiek se divas op ’n plaaslike verhoog te sien met haar kragtige sololied, “Bly”, asook tydens die duet “Muse” saam met Alzanley Lizemore.
’n Keurspel van “Lui-lui telefoon”, “Ek lewe” en “Drakensberge van verlange” wat Karin saam met Sarah Theron en Petronel Baard gelewer het, het weer die heimwee by ondersteuners gewek.
In haar unieke, diep stem, kaalvoet en op haar knieë, het Karin die gehoor in die palm van haar hand gehad voor sy weggetrek het met die solotreffer, “Bly”.
“Jy weet, met elke groet gee ’n mens ’n stukkie van jouself weg; los jy jou stukkies op iemand se tafel, op hulle boeke, op die vloer, die wynglas, los jy die stukkies op gewone en ongewone plekke. Ek het Crescendo as 16-jarige dogtertjie gewen. Nou, 44 jaar later, staan ek weer op hierdie verhoog saam met fantastiese talent, jongmense, musikante van wêreldgehalte. Ek is bly dat ek hier is, dat ek deel is en dat ek bly,” sê Karin.
Net goud vir die bestes
Karin, wat in Burgersdorp in die Oos-Kaap gebore is, woon sedert 2009 in die dorpie Oak Ridge in Noord-Carolina, maar haar liefde vir ons land het haar so ’n tydjie terug oorgehaal om ’n pragtige huis op Pearly Beach aan die Overstrand te koop, waar sy tot vroegherfs sal vertoef om te werk, te skep en net te wees.
“As ek eers oor daardie berg gaan, kom ek nie terug nie,” sê Karin oor haar pad in die Land Rover oor berge en dale, tot nader aan die suidpunt van Afrika. Maar vir hierdie Goud-konsert sal sy wél berge versit.
“Die Goud-konsertoptredes het my ná die 16 jaar in die buiteland opnuut daaraan herinner dat ek onlosmaaklik deel is van ’n groep eensgesinde mense vir wie Afrikaans die taal van ons hart is.
“Dit is die taal waarin ons droom, die taal is waarin ons lag, stry kry en waarin ons ons die beste kan uitdruk. Uiteraard, omdat ek Crescendo 44 jaar gelede (in 1980) op 16 gewen het, was daar elemente van nostalgie – dit was so ’n groot gebeurtenis as kind. Om vanaand vir Rudi Prinsloo, die destydse ATKV-projekbestuurder, ná al die jare weer te sien, was besonders.”
Volgens Rudi, projekorganiseerder van 1976 tot 1982, was ATKV-Crescendo destyds ’n buitengewone uithaleraand.
“Karin was sprankelend. Sy was maar 16 jaar oud en met haar ma wat haar bygestaan het, het sy vol selfvertroue en met ’n baie sterk wil gewéét waarheen sy wou gaan. Die manier waarop sy haar musiek vertolk het, was buitengewoon sterk, en daarom kon sy al op so ’n vroeë ouderdom ’n Jacques Brel-lied sing wat mense geroer het. Dit was ’n verwerking wat sy saam met Gerry Bosman gedoen het, en haar vertolking was die uitskieter van die aand. Die beoordelaars het eenparig besluit sy moes die wenner wees. Dit was asof almal geweet het hierdie is die talent van die toekoms,” sê Rudi.
“Dis ongelooflik om met kollegas te reconnect, om met Sarah te werk en vir Mynie te sien. Sy was hier gisteraand, liewe ‘AmaGroove’, soos ons in die musiekbedryf haar graag noem. Om haar te sien was nóg ’n hoogtepunt van dié konsert. Ons gesels af en toe op sosiale media, maar dit was die eerste weersiens in baie, baie jare. Sy is nog steeds ’n legende,” sê Karin oor haar mede- Afrikaanse sangsuster.
Elke item wat Karin tydens die Goud-konsert gelewer het, was die beste uit hierdie “klein vrou met die groot stem”, soos daar heel dikwels na haar verwys word. Maar met “Bly” was daar ’n stukkie ekstra magic.
“Elke keer wanneer ek sing, probeer ek op ’n eerlike, outentieke wyse opnuut die storie van elke lied vertel. Ek het altyd vlinders in die maag voor ek sing. Hierdie laegraadse spanning hou my bewus van al die veranderlikes tydens ’n optrede en hou my op my tone. Dit herinner my dat daar heel moontlik mense is wat kom kyk en luister wat my vir die eerste keer hoor en sien.
“Elke optrede is nuut, al sing ek iets wat ek al dekades lank sing ‒ vir my lê die magic van optree daarin dat elke vertolking ook vir my vars moet bly. You can never step into the same river twice, en dit is dan ook hoe ek elke optrede benader.”
Relevansie oor grense heen
Om na ál die jare relevant te bly, al woon ’n mens nie meer in jou eie land nie, maar skep oor grense heen, wil nogal gedoen wees. Karin swerf tussen kontinente soos Amerika, Europa (spesifiek lande soos België en Nederland) en ons sonskynland om vlerke aan haar kuns te gee.
“Onthou, in Amerika was ek anoniem, en dit was intensioneel, want ek wou nooit in Amerika op die verhoog staan nie ‒ dit was my laboratorium. Ek gaan soontoe, ek skryf en ek maak liedjies. Dan gaan ek Holland toe, werk saam met die Nederlandse kunstenaar Herman van Veen en sy vrou, Anne, en doen iets saam, of ek kom hiernatoe en ek doen iets.
“Die wonderlike vryheid wat ek dan het, is dat ek nie my hare hoef te kam nie, ek hoef nie mooi aan te trek nie, ek kan regtig lyk soos iemand in Walmart en hulle gaan my nie raaksien nie, want ek is niemand nie.
“Dis nie dat ek hier noodwendig raakgesien word nie, maar ek weet my wortels is hier. Hier het jy ’n raakvlak met iemand, soos vanaand, en dit kry jy nie oorsee nie. Ek dink die six degrees of separation daar is verder.”
Dié multidimensionele kunstenaar wat graag skep ‒ of dit musiek, ’n teaterstuk, digkuns, kortverhale, of houtskoolkuns is ‒ het onlangs weer ’n kunsuitstalling by Betrag in die immerfraai Stanford gehad, waar haar houtskooltekeninge uitgestal is.
“Ek is altyd op die uitkyk vir ’n sneller, daai iets wat my kan inspireer ‒ soms ’n kleur of kiekie, ’n akkoord, dan voel ek genoop om te skep. Natuurlik kan ’n mens nie net sit en wag vir daai inspirasie om aan jou deur te kom klop nie ‒ dis ’n aktiewe proses. Dis ’n konstante soeke. Soms is ek ook gelukkig genoeg om ’n opdragwerk te kry, byvoorbeeld soos wanneer ek genooi word om ’n kortverhaal te skryf of ’n liedjie of skildery te maak ‒ dan is die proses meer saaklik, meer doelgerig.”
In 2008 het sy haar eerste solokunsuitstalling gehou, geïnspireer deur die Keukenhof-tuine in Nederland. “Om te skilder en teken, is ’n poging om dit wat ek nie in woorde of musiek kan omsit nie, op ’n ander manier te kommunikeer. Die veld hier in die Overstrand is só inspirerend ‒ die fynbos, proteas, die berge ‒ dis ’n lus vir die oog en lafenis vir die siel.
“Soms soek ek ’n andersoortige uitdaging en dan probeer ek iets soos die witborskraai,” sê dié meedoënlose skepper wat onlangs as ’n ewige legende by die Suid-Afrikaanse Legendes-museum gehuldig is.
“Ek sien myself beslis nie as ’n legende nie, net iemand wat bevoorreg genoeg is om vir ’n lang tyd my vak te beoefen. Natuurlik is dit wel ’n ontsettende eer om hierdie soort erkenning te geniet,” sê sy.
“Ek dink ek word meer sentimenteel namate ek ouer word en besef hoe vlietend als is. Sentiment, vermoed ek, is maar ’n poging om aan spesiale herinneringe vas te hou.
“Wat vir my vanaand fantasties was, was om saam met mense te werk wat in ’n ander Afrikaans, naamlik Kaapse Afrikaans, werk. Dis fassinerend en ontsettend opwindend, want dit is ons mense, dit is ons taal, ek het die dinamika gevoel. Taal is dinamies en jy moet hom praat soos jy gemaklik voel. Ek dink wel daar is plek vir gestandaardiseerde taal, maar dialekte is wonderlik en opwindend ‒ daar is ruimte vir groei en invloed. Anders het ons nog Kaapse Hollands gepraat.
“Wanneer jy die nuus lees op RSG is daar ’n sekere Afrikaans wat jy gaan praat wat gestandaardiseer is, maar as jy ’n geselsprogram aanbied, kan jy dit aanbied in die dialek wat vir die publiek werk.
“Maar ek sing die Afrikaans van my generasie. Ek sing wel nie van ‘bokkie’ en ‘darling’ en ‘sweetheart’ nie, hoewel ek soms só praat.
“Dis vir my belangrik om ’n mooi Afrikaans te besig. Daar is byvoorbeeld soveel mooier woorde in Afrikaans vir ‘oukei’. Kyk na Breyten Breytenbach, kyk na Antjie Krog en Rosa Keet ‒ een van die mees onderskatte digters in Afrikaans,” sê die kunstenaar wat graag liriese dig- en prosakuns pleeg.
As ’n mens vir Karin pols oor haar wonderlike suiwer Afrikaans, sê sy: “Ons sing songs en ons sing liedjies. Daar is plek vir albei. My generasie, ek wat Karin is, sing ’n liedjie. Maar dis oukei as jy ’n song sing. Ons het nodig om al daardie dinge te omarm, dis ’n jong taal, ’n taal met min sprekers.”
Vir al die jong kunstenaars wat die verhoog vanaand met haar gedeel het en toekomstige kunstenaars wat dieselfde sukses wil smaak, sê Karin jy moet net getrou bly aan jouself.
“Niemand weet beter as jy watter soort kunstenaar jy is nie ‒ behou eienaarskap van jou identiteit. Dis jy wat hierdie pad met jouself moet stap ‒ wees seker jy maak iets waarop jy trots is, wat jy bereid is om altyd saam met jou te dra. Luister wel na advies, maar kies hoe jy daarmee wil omgaan. Wees nederig – jy is nooit te bekend, te goed, te talentvol om mense met waardigheid en respek te hanteer nie. Hou aan met leer, maak jouself oop vir invloede, beleef nuwe dinge ‒ dis wat die reis as makende of skeppende kunstenaar interessant hou.”
Belangstellendes kan uitsien na Karin se volgende konsert, Kaalvoet, op 2 Maart 2025 by die Fairtree Atterbury-teater in Pretoria. “Ek skryf tekste, musiek en daar is selfs ’n paar visuele elemente. Daar is ook nog ’n moontlikheid om betrokke te wees by ’n blues-album, en ek sing ook in Maart in Amsterdam, Holland by Herman van Veen se 80ste verjaarsdag.”
Met haar blywende relevansie, artistieke nuuskierigheid en diepte van emosie, bly Karin Hougaard ’n onmisbare ikoon van Afrikaanse musiek en kultuur. Of sy kaalvoet op ’n verhoog staan of tussen kunswerke in ’n ateljee dwaal, haar verhaal is een van blywende kreatiwiteit en inspirasie.