Kaapse draai vir ATKV-tak Wellington
Die ATKV-gesinstak in Wellington het onlangs sy jaarlikse Kaapse Draai-toer aangebied.
Die tak het ’n bus gehuur en ’n groep van 60 mense saamgeneem om die Kaap te gaan verken.
Volgens Tharina Schweidler, voorsitter van die ATKV-gesinstak Wellington, is die doel van die plesierreis om toerlede aan soveel erfenis- en kultuurgeskiedenis as moontlik bloot te stel.
“Die Kaapse Draai word deur twee van ons tak se bestuurslede, Roné en Herbert Sills, georganiseer,” sê Tharina.
“Hulle dien seker al 15 jaar lank op ons tak se bestuur en hierdie dagtoere is absoluut hulle passie.
“Die toerlede bestaan normaalweg uit enkellopende mense, soos die tannie wat alleen woon en mal is oor die Kaap of ’n liefde vir besienswaardighede koester, maar nie noodwendig kans sien om in die stad te bestuur of die plekke op haar eie te besoek nie. Basies mense in hul laat 50’s en oumas en oupas wat hul kleinkinders op ’n uitstappie wil neem.
“Hulle het vanjaar onder meer die Oranjezicht-mark besoek en die dag in die historiese Kompanjiestuin, loopafstand van die museum, sterrewag en die hartjie van die stad, afgesluit.
“Die Kaapse Draai is eintlik al ’n instelling, dus sal baie van dieselfde mense elke jaar terugkeer. Hulle maak selfs voorstelle van watter plekke hulle die volgende jaar sal wil besoek. Ek weet daar is ’n behoefte om volgende jaar Vishoek te gaan verken, want die toergroep bespreek op die busrit op pad huis toe watter plekke hulle die volgende keer wil besoek. Die Kaapse Draai is só gewild dat die bus binne twee of drie weke nadat ’n uitstappie geadverteer word, reeds vol bespreek is,” sê Tharina.
Sy vertel die Kaapse Draai is ’n daguitstappie en gaste hoef dus nie ’n bykomende uitgawe vir akkommodasie aan te gaan nie.
“Die toergroep vertrek vroeg die oggend teen 07:30 en sal min of meer 17:00 of 18:00 terug wees in Wellington,” sê sy.
“Die Kaapse Draai spits hom gewoonlik spesifiek toe op een noemenswaardige besienswaardigheid en ’n plekkie waar die groep iewers saam kan sit en eet. Vanjaar was die fokuspunt die Groenpunt-mark by die Kaapse Waterfront. Die gaste het daar ’n bietjie rondgestap en middagete genuttig voordat hulle na die Kompanjiestuin vertrek het.”
Die Kompanjiestuin in die hartjie van Kaapstad is die oudste openbare tuin in Suid-Afrika. Dit is amptelik in 1652 deur Hollandse setlaars gestig met die doel om voedsel te lewer, maar is 160 jaar gelede aan die publiek vir besoeke oopgestel.
“Die Kaapse Draai vind normaalweg op ’n Saterdag plaas, dus is toergidse óf baie duur, óf eenvoudig nie beskikbaar nie,” sê Tharina.
“Daarom doen Roné gewoonlik deeglike navorsing wat die besienswaardighede betref en dien dan basies as die toergids.”
Die koste van die toer het vanjaar R280 beloop. Belangstellendes wat meer inligting verlang, kan gerus vir Tharina by 082 779 4001 of vir Herbert by 082 374 3146 kontak.