Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes in Heidelberg NG Kerk te sien
Die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes onder leiding van Brandon Phillips gaan in September vir die eerste keer in Heidelberg in die Suid-Kaap optree as deel van Hessequa Harmonie. Dit is ‘n uitsonderlike geleentheid om belowende jong musici op die platteland in aksie te sien.
Die jeugorkes gaan Vrydagaand, 23 September, saam met die operasangers Minette du Toit-Pearce en Janel Speelman en die Hessequa Feeskoor tydens die ATKV galakonsert in Heidelberg se NG Kerk optree. Volgens feesbestuurder, Niël Rademan, beloof dit om ‘n besondere ervaring te wees om te aanskou hoe hierdie jong kunstenaars hulle talente uitleef binne die pragtige kerkgebou wat meer as ‘n honderd jaar oud is. “Met die afskaffing van die inperkingsmaatreëls hoop ek dat ons binne die volgende paar jaar so na as moontlik aan ‘n duisend mense van verskillene ouderdomme en agtergronde in hierdie beeldskone groot kerkgebou bymekaar kan bring vir ‘n asemrowende musiekbelewenis.” het Rademan gesê.
Die Hessequa Feeskoor is saamgestel uit koorlede van beide Heidelberg en Riversdal wat vanjaar vir die eerste keer saam optree. Die sameroeper, Betsie Ryke van Rural Arts Network, sê. “Mense uit verskillende gemeenskappe word saamgesnoer deur hulle deelname aan hierdie unieke musiekgebeurtenis.”
“Die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes se optredes tydens Hessequa Harmonie is ‘n wonderlike geleentheid om al die gemeenskappe in die omgewing blootstelling te gee aan die ervaring van ‘n simfonie-orkes wat in hulle eie omgewing optree.” het Betsie Ryke gesê.
Die volle program vir vanjaar se Hessequa Harmonie is op die webwerf hessequaharmonie.co.za beskikbaar.
Kaartjies vir die galakonsert kan aanlyn bespreek word by plankton.mobi of kontant gekoop word by die NG Kerkkantoor of Karee Tree Designs in Heidelberg.