Kerith Retreat kry geskenktuin uit ’n boks
Kerith Retreat naby die Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut en langs die Muldersvlei-stasie in die Kaapse wynlande het ’n regte plaasgevoel met suurlemoenbome en ’n groentetuinprojek wat hier van stapel gestuur is. Nagenoeg 60 langtermyn- psigiatriese inwoners word hier gehuisves en gevoed, deels met groente wat self hier gekweek word.
Kerith Retreat is ’n instansie waar inwoners met geestessiektes soos bipolêre depressie en skisofrenie woon en behandeling ontvang. Hierdie kondisies maak dit geweldig moeilik vir die inwoners om in die samelewing aan en in te pas. Deur normale dagtake uit te voer, kry hulle groter sin uit die lewe en vind hulle ’n doel.
Dit gee hulle ook meer perspektief en ’n gevoel van betrokkenheid, veral as hulle voel hulle word deur die wêreld verstoot of kan nie funksioneer soos daar van hulle verwag word nie.
Die digby 14 inwoners het nie op hulle laat wag nie en werk aktief in die aangeplante groentetuin wanneer die inspirasie hulle beetpak en hulle emosioneel kans sien vir ’n dag se groenvingerwerk.
Dit gee hulle ’n gevoel van genoegdoening en ook ’n sin vir wat mooi en gesond is.
Soos een vroulike inwoner, wat graag in die tuin werk, ná die onlangse pampoenoes opmerk: “Daar lê ons harde werk.”
Een van die voorvatters van die groentetuinprojek wat so pragtig hier ontkiem het, is Celésti van Zyl, die voorsitter van die ATKV-tak Kuilsrivier.
Volgens haar ondersteun dié tak verskeie projekte, waaronder die groentetuinprojek.
“Ons het in Mei 2022 ons eerste Seed 2 Harvest- organiese groentesaadbokse aan Kerith Retreat oorhandig,” sê sy.
Seed 2 Harvest bied ’n organiese tuinbeginnerstel wat die ontvangers met groen vingers in staat stel om ’n groentetuin in hul agterplaas te vestig.
Op hierdie manier belê jy in voedselsekerheid en is daar kos op die tafel. Alles dra by tot goeie gesondheid en beter voeding.
“Kerith Retreat is baie afhanklik van borge en ons oogmerk was dat die inwoners die groentesaad self saai, plant en versorg, en dan die oeste self gebruik,” sê Celésti.
“Hierdie groentetuinprojek het ook die inwoners se belangstelling geprikkel en hulle fisies besig gehou. Daar is veral twee mans by die instansie wat nie kan wag vir die nuwe groentesaad om afgelewer te word nie. Hulle albei is baie lief vir tuinwerk,” sê sy, “en het al geleer wat om te los en wat om uit te haal.
“Omdat hierdie projek so ’n groot sukses was, het ons besluit om dit ’n deurlopende projek te maak. Verlede jaar in April het ons nóg ’n Seed 2 Harvest-groentesaadboks en 25 sakke kompos aan Kerith Retreat geskenk saam met ’n geskenksakkie met ’n tandeborsel en ’n buis tandepasta vir elke inwoner. Hierdie jaar het hulle op een dag ’n swart sak met 4 kg se spinasie gepluk,” noem Celésti.
“Die inwoners van Kerith Retreat is baie trots op hulle suksesvolle oeste van skorsies, botterskorsies, murgpampoentjies, wortels, kool en pampoen.
Die tamaties was glo bietjie van ’n misoes, want hulle het baie skade met wurms en ander plae gehad. Ons tak het dus besluit om vanjaar vir hulle organiese slakpille te skenk.”
Celésti sê dat hulle lede verder raad verskaf het wat help met slakke: Hou eierdoppe, druk dit fyn en strooi rondom die nuwe plantjies. Gedroogde rooibosteesakkies, waarvan net die teestokkies gestrooi word, werk net so goed as ’n organiese slak-afskrikmiddel.
Op 29 Januarie 2024 het dié tak weer groentesaad aan Kerith Retreat geskenk.
“Hierdie keer het ons self die saad aangekoop en was daar ook skenkings van taklede, soos klere, boeke, tydskrifte en ’n yskas,” sê Celésti.
Die vorige groente-oes is nou verby en Kerith Retreat het pas die laaste pampoene geoes. Nou word die beddings voorberei vir die volgende saailinge – hulle sal eers oor ’n maand of twee weer groente begin saai. “Ons as tak is baie trots op hierdie suksesvolle, deurlopende projek,” vertel Celésti.
Op 6 April vandeesmaand was dié tak weer by Kerith Retreat en het al die inwoners en ook alle personeel bederf met ’n kolwyntjie, vrugtesap en ’n pakkie skyfies. “Ons het ook verskeie inkleurboeke, uitdraaikryte en boontjiesakkies afgegee. Dit was wonderlik om te ervaar hoe die inwoners die bederf en geskenke geniet. Dis net weer ’n bewys dat iets kleins baie beteken vir mense wat min het.”
Volgens Werner Louw, bestuurder by Kerith Retreat, wou die besturende direkteur nog altyd ’n plaasgevoel by dié versorgingsinstansie skep. As mense hierheen kom, moet dit voel of hulle op ’n plaas is.
“Die Rotariërs se Paarl-tak het ons gehelp met suurlemoenbome en die maak van beddings vir saailinge. Die idee is om groente en vrugte vir 60 mense te plant, wat andersins baie sou kos.
“Tog moet die inwoners fisies aktief wees en besig bly. Ons betrek hulle dus by die groenteprojek. Vandag help agt persone, môre ses. Dan betrek ons weer ander. Daar is altyd ’n groepie mense wat bereid is om te werk.
“Ons sukkel effens met grondkwaliteit en moet beesmis en grondbedekking inry. Die uitdaging is om die grond ideaal te kry vir ’n goeie oes. Hierdie jaar was die droogte erger en daar was ook ’n ernstige goggaplaag. Ons het dus heelwat kool verloor. Gelukkig is die pampoene baie sterk en gehard en ons het gister die laastes uitgehaal,” sê Werner.
“Die ATKV-tak Kuilsrivier het verlede jaar baie kompos geskenk, hierdie jaar baie sade. Hulle maak dit die moeite werd om aan te gaan.
“In totaal is ons ses tehuise, waarvan vier in die Stikland-hospitaal en twee hier geleë is. ’n Groentetuinprojek help met die verligting van druk op finansies. Die tuinwerk help die inwoners met hulle geestelike welstand en gee hulle ’n doel waarvoor hulle kan lewe. Sommige sal deur reën werk, dit pla hulle nie.
“Die inwoners se medikasie kan soms sy tol eis. Dit maak dat hulle nie vir lang sessies kan werk nie, en selfs kort sessies is amper te veel. ’n Mens moet dink aan die inwoners wat werk, sodat hulle hulself nie ooreis en stukkend brand nie.
“Oor die algemeen baat almal by die groentetuinprojek. Die wat nie betrokke is nie, vind ook baat daarby deur vars groente en vrugte te kan eet. As hulle op hulle bord kyk, sien die groepie wat gewerk het hul handewerk,” sê Werner.
“Ek wens ek kan meer goed kry om vinniger te groei, maar groente groei ook net só vinnig, en daar is ook net soveel grond vir groente,” sê Werner, wat alle eer aan sy hele span gee wat hom sterk genoeg hou om ’n gedugte instansie soos dié doeltreffend te kan bestuur.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Kuilsrivier se werksaamhede, kontak ATKV-streeksbestuurder Elize Fortuin by elizef@atkv.org.za en 078 941 7758.