Kitaarspeler-dominee wen Loxton-liedjiekompetisie
Stefaans Burden, wenner van die ATKV-tak Loxton se onlangse Herfsliedjiekompetisie, erken hy het nog nooit voorheen vir so iets ingeskryf nie.
“Dit is eintlik ’n baie interessante storie,” sê Stefaans, ’n dominee by die NG Gemeente Worcester-Vallei in die Wes-Kaap, oor hoe hy sy wenpoging, “Herfs in Loxton”, geskep het.
“Ek het die bemarking vir die Herfsfees op Facebook raakgesien en van die liedjiekompetisie gelees. Ek is van die Karoo afkomstig en Loxton is in die Karoo geleë, maar ek het nie baie oor Loxton geweet nie, dus het ek ’n bietjie navorsing gedoen en oor die dorpie gaan oplees. Die idee om ’n liedjie spesifiek vir die kompetisie te skryf, was knaend in my gedagtes.
“Ek is betrokke by een van ons plaaslike skole se rugbyprogram en ons het na Pretoria gereis om in ’n toernooi by Affies te speel. Op die vliegtuig het ek gedink dit is nou ’n gulde geleentheid om ’n liedjie te skryf. Ek het toe letterlik daardie twee ure op die vlug van Kaapstad af die lirieke vir die hele lied geskryf.
“Met ons terugkeer van die toernooi het ek tydens die vlug ook die lied begin toonset, min wetend dat ek met my poging die kompetisie sou wen. Dus was ek heel verbaas toe ek die oproep ontvang en van my prestasie uitvind.
“Dit is nogal lekker om te weet dat mense die woorde wat jy neerpen ook as deel van Loxton aanvoel – die lied is juis geskoei op die Herfsfees wat op dié dorp aangebied is.”
Stefaans sê hy is die afgelope 15 jaar redelik bedrywig met musiek.
“Die musiekbediening in ons gemeente is deel van my fokus en verantwoordelikhede. My liefde vir musiek kom al ’n baie lang pad en ek het die afgelope 15 jaar reeds vyf albums uitgereik, onder meer ’n paar gospelalbums en ’n album met musiek vir kinders. Dan het ek ook net voor die Covid-19-pandemie ’n album oor die Karoo, getiteld Karoospoor, uitgereik.”
Stefaans sing en speel kitaar – dus is baie van sy musiek “sterk kitaargedrewe” en hy het self die lirieke vir al die liedjies op sy albums geskryf.
“Musiek is maar deel van wie ek is,” sê hy. “Ek geniet dit verskriklik baie. Dit is vir my ’n manier om te ontspan en myself uit te druk.”
Stefaans sê lirieke is vir hom uiters belangrik – nie net wat sy eie musiek betref nie, maar dit bepaal ook na watter ander kunstenaars hy luister.
“Ek luister na die lirieke, en die melodie moet uiteraard ook lekker daarby pas, maar die lirieke bly vir my belangrik, dit wat die kunstenaar wil sê en oorbring. Kunstenaars soos onder meer Lucas Maree, wat regtig moeite met die lirieke gedoen het om iets diepers te sê. Hierdie woordkunstenaars kies die eenvoud van goeie woorde wat gewig dra, om in ’n lied te gebruik.”
Stefaans is nie die enigste lid van sy gesin deur wie se are musiek vloei nie.
“Ja, die gene het darem iewers in my kinders ook deurgeslaan! Ons het drie kinders, twee dogters en ’n seun, en hulle is al drie musikaal. Hulle het almal die Unisa-musiekeksamens vir klavier voltooi. Dit het hulle pa ook maar grys hare gegee, want daar is altyd ’n instrument in die huis gespeel! Daar is ook ’n sterk musikale streep aan my vrou se kant van die familie.
“Dit is vir my lekker dat hulle hierdie musikale aspek by ons oorgeërf het en dat hulle dit kon ontgin en in hulself ontwikkel.”
Wat is Stefaans se raad vir mense met ’n passie vir musiek wat daardie passie wil najaag en met die wêreld deel?
“Hulle moet besef hulle het ’n stem en dit moet gehoor word, en al manier hoe hul musiek waarde kry, is om dit met mense te deel,” sê hy.
“Jy kan dit vir jouself hou en in jou huis, motor of kantoor sing, maar dit kry werklik eers vlerke wanneer jy dit begin deel.
“Hou ook in gedagte, soos met alles in die lewe, gaan daar mense wees wat van jou musiek hou, maar ook mense wat nie daarna neig nie. Maar dit is piekfyn, daar is baie verskillende genres.
“’n Ervare musikant het jare gelede vir my gesê daar is drie dinge wat ’n aspirerende musikant in gedagte moet hou: jy moet jou eie stem hê, jy moet nooit ophou skryf nie en, laastens, as jy jou musiek daar buite wil kry, moet jy maar in jou motortjie klim, gaan optree en rondreis na verskillende plekke sodat mense jou kan hoor en vir jou musiek kan lief raak.”