‘Klein konings’: Uitdagende, eerlike roman
Die dapperste boek wat jy hierdie jaar gaan lees, is Klein konings van Theo Kemp. Die tema is seker die heel sensitiefste wat enige Suid-Afrikaanse skrywer kan aanpak.
Klein konings is ’n roman wat hom diep in die spanningsveld tussen herinnering, skuld en transformasie begewe, sonder om maklike antwoorde te bied. Dit is ’n reisverhaal, ’n karakterstudie en ’n besinning oor geskiedenis wat steeds in die hede spook.
Die verhaal volg twee staatsamptenare wat op ’n ongemaklike pad saamgestuur word. Joubert, ’n Afrikaner in die departement, en Pixley, ’n jong Zoeloeman wat pas aangestel en vol ywer is om transformasie te help bewerkstellig. Hulle opdrag klink tegnies en neutraal: om ’n inventaris van standbeelde en monumente regoor die land op te stel, en met ’n plan vorendag te kom oor wat daarmee gedoen moet word. In praktyk word dit egter ’n emosioneel uitmergelende reis – nie net deur Suid-Afrika se landskappe nie, maar deur die lae van persoonlike en kollektiewe geskiedenis.
Kemp gebruik die reis deur dorpe soos Lichtenburg, Bloemfontein, Winburg en selfs Bloedrivier om ’n tasbare gevoel van ruimte en atmosfeer te skep. Die landskappe, weerstoestande en histories belaaide terreine beïnvloed die karakters se denke en gesprekke. Tog bly die standbeelde self nooit die eindpunt nie. Dit dien eerder as katalisators wat Joubert en Pixley dwing om hul eie verledes, vrese en begeertes te konfronteer.
Beide hoofkarakters dra swaar aan bagasie. Joubert worstel met skuld – persoonlik, seksueel en histories. Dan is daar die probleem van sy pa, Piet Pompies. Hy is ’n terminale waterwyser met ’n afkeer van kerklike en morele gesag. Joubert se huwelik met Alet, ’n medium wat uit hul solderkamer praktiseer, plaas hom letterlik en figuurlik tussen die lewendes en die dooies.
Pixley, aan die ander kant, wil sy pa trots maak, glo in die ideaal van transformasie en raak verlief op Memory (Malaika), ’n Rwandese weeskind wie se eie geskiedenis hom tegelyk aantrek en ontstel.
Een van die roman se sterkste temas is skuld, veral soos dit aan wit identiteit en historiese verantwoordbaarheid gekoppel word. Kemp maak dit duidelik dat ’n verhaal oor standbeelde noodwendig ook ’n verhaal oor skuld moet wees. Die geskiedenis is, soos hy dit voorstel, ’n geduldige boekhouer wat niemand vryspreek sonder rekenskap nie. Die vraag is nie net wie skuldig is nie, maar vanuit watter perspektief ’n mens kyk, en of versoening ooit moontlik is sonder eerlike konfrontasie met wat was.
Dit is interessant hoe gebeure dikwels uit beide Joubert en Pixley se perspektief vertel word. Pixley, wat skryf om sin te maak van sy lewe, en Joubert, wat van sy probleme en verlede in die apartheidsjare weghardloop.
Beide mans is trots op hulle afkoms – Joubert, ’n afstammeling van generaal Piet Joubert, en Pixley uit die Zoeloe-adelstand.
Daar is ook losstaande dagboek-inskrywings in ’n ander lettertipe en dikwels in die derde persoon geskryf. Dit maak nie altyd sin nie en breek die momentum. Tog herinner dit die leser dat daar baie meer mense en gebeure is as wat sigbaar is – onderstrominge.
Die dialoog tussen Joubert en Pixley is ’n besondere hoogtepunt. Hul gesprekke oor geskiedenis, geloof, identiteit en nasiebou gee gestalte aan die sentrale spanning van die roman: hoe twee Suid-Afrikaners met uiteenlopende agtergronde dieselfde situasies wat gesimboliseer word deur ’n standbeeld, radikaal verskillend kan ervaar. Tog is daar die eerlikheid van diep wantroue teenoor mekaar in hierdie komplekse verhouding.
Kan ’n middeljarige wit man oor die gedagtes van ’n jong swart man skryf? Indien iemand dit al ooit reggekry het, is dit Theo Kemp. Dit is ook duidelik uit die bedankings en erkennings dat Kemp sy huiswerk gedoen het, en met die regte mense saamgewerk het om sy karakters uit die blaaie te laat stap met selfvertroue.
Die roman se slot verskuif die fokus skerp na een van die mees indringende kwessies in hedendaagse Suid-Afrika: korrupsie, tenderbedrog en wanbestuur. Die “klein konings” van mag en geld stap ongedeerd weg, terwyl gewone mense bly swaarkry sonder werk, goeie onderrig, mediese dienste, krag of water. In hierdie sin sê Klein konings uiteindelik dat die debat oor standbeelde belangrik is, maar sekondêr tot die groter strukturele onregte wat steeds voortduur.
Klein konings is ’n uitdagende, soms moeisame, maar diep eerlike roman. Kemp skep karakters wat die leser nie maklik kan veroordeel nie, juis omdat hul keuses uit pyn, vrees en verlange gebore is. Dit is ’n boek wat vra dat ons meer indringend oor ons geskiedenis praat, sodat ons almal beter begryp hóé diep kultuurverskille is, en hoe die verlede steeds ons gedrag en reaksies affekteer.
– Trisa Hugo