‘Klein wêreld’ ’n wonderland van klein kuns

Die Rosemary Hill-plaas in Pretoria is bekend om sy asemrowende uitsigte wat dit geliefd maak by stappers en fietsryers, maar eersdaags word die mure van The Greenhouse Café op dié plaas gevul met ’n ander soort skoonheid: honderde klein kunswerkies.
Klein wêreld, ’n inisiatief van Wêreld, ’n kunsorganisasie wat hom beywer vir die ontwikkeling van die kunste en kunstenaars, vind vanaf 18 tot 20 Julie plaas, maar in die aanloop tot die kunsuitstalling het agt kunstenaars ook deelgeneem aan ’n kunstenaarsresidensie op die plaas, vertel Jaco van der Merwe, wat aan die hoof van Wêreld staan. Jaco is ook die hoof van die Open Window School of Design se filmskool en die kreatiewe regisseur van Taalgenoot-RUK EN RYM.
Jaco sê dat skilders, grafiese ontwerpers en selfs ’n speletjiesontwerper oor die twee weke wat die Klein wêreld-uitstalling voorafgegaan het deel van die kunstenaarsresidensie by die Rosemary Hill-plaas was. Onder hulle tel Janke Mostert, voorbok van die groepe Dierbaar en Dierbaar na die Maan, wat verlede jaar as die wenners van Taalgenoot-RUK EN RYM aangewys is. Janke speel twee solovertonings as deel van die middagete-segment van Klein wêreld.
Benewens die uitstalling, wat meer as 500 kunswerke deur meer as 100 ontluikende en gevestigde Suid-Afrikaanse kunstenaars se werk ten toon stel, kan besoekers ook uitsien na kuns, geselskap en atmosfeer by die Klein wêreld-openingsaand op 18 Julie, en ’n werkswinkel op 19 Julie waartydens die plaaslike visuele kunstenaar Heidi Fourie deelnemers sal leer hoe om natuurlike kunsgereedskap te maak en gebruik.
Toegangskaartjies op 18 en 19 Julie sluit ’n verwelkomingsdrankie in, maar besoekers word ook uitgenooi om ’n kaartjie te koop vir die middagete in die tuin, met lewendige musiek deur Janke Mostert.
Jaco vertel dat die klein kunswerkies – die maksimumgrootte daarvan is 30 x 30 x 30 cm – tot ’n wye groep kunsliefhebbers sal spreek.
“Dit gaan een van die mooiste uitstallings wees wat ek nog ooit gesien het en baie van dit is heel beskostigbaar, so daar is ’n wye verskeidenheid kuns en regtig iets vir elkeen,” sê Jaco.
Kaartjies vir die Klein wêreld-uistalling is aanlyn beskikbaar – kry joune hier: https://www.thegreenhousecafe.co.za/art-exhibition/