‘Klein wonderwerk’ ’n ‘ode aan menslikheid’

Prof. Hans du Plessis het oor dekades heen ’n merkwaardige bydrae tot Afrikaanse letterkunde gelewer as digter, romanskrywer, kinderboekskrywer en taalkundige. Sy oeuvre sluit verskeie digbundels, romans en jeugverhale in. Hy is ook bekend vir sy baanbrekende Griekwa-Afrikaanse digbundel Innie skylte vannie Jirre, wat nie net met ’n SA Akademie-erepenning bekroon is nie, maar ook die Christelike Boek- en Skryfstal-prys vir godsdienstige lektuur ontvang het. Meer as 65 000 eksemplare van dié bundel is verkoop – ’n uitsonderlike prestasie.
Du Plessis het ook die gewilde jeugverhaal Ditsem, Dawid! geskryf, wat met die ATKV-Kinderboektoekenning bekroon is. Hy het telkens bewys dat hy die kuns bemeester het om komplekse temas op toeganklike wyse te verwoord, of dit nou geloof, identiteit of sosiale onreg is. Sy werk is deurgaans gekenmerk deur ’n diep menslikheid, ’n liefde vir taal, en ’n bereidheid om moeilike waarhede aan te spreek. Hierdie laaste roman is geen uitsondering nie.
Met Klein wonderwerk bied Hans du Plessis vir die leser ’n aangrypende verhaal van verlies, pyn, vergifnis en die brose hoop wat tussen mense ontstaan wanneer hulle mekaar op onwaarskynlike maniere ontmoet en ’n pad stap. In hierdie laaste roman, wat voltooi is kort voor Du Plessis afsterwe in Oktober 2024, bewys hy waarom hy so ’n gerespekteerde plek in die Afrikaanse letterkunde beklee het.
Die verhaal het stadig aan die gang gekom en gesukkel om my dadelik te boei. Toe die agtergrond egter duidelik word, was dit Du Plessis se insig in die kompleksiteit van menswees wat die verhaalgegewe voortgedryf het.
Petrus, ’n bejaarde boer wat al hoe swakker sien ná die dood van sy vrou, wil sy plaas, Pronkbos, aan iemand nalaat wat dit sal liefhê. Sy seun het lankal oorsee gaan werk ná ’n egskeiding en belangstelling in die plaas verloor, terwyl sy enigste kleinseun, die kind van sy vervreemde skoondogter, naamloos saam met sy ma van die aardbol af verdwyn het.
In ’n ry by die munisipale kantoor ontmoet Petrus vir Anina – ’n jong, gebroke maatskaplike werker met ’n tragiese agtergrond van kindermishandeling, prostitusie en mishandeling. Meer verskillend in agtergrond of ouderdom kan hulle nie wees nie.
“Ja, Ntate, wag moet ons deesdae maar wag, of jy nou koning of kraai is, daar is niks wat mense so vinnig gelyk maak as om ure in ’n tou te staan en wag op swak diens waarsonder nie een van ons kan klaarkom nie.” (p. 16-17)
Die hedendaagse probleme van onbekwame werkers, swak diens en beurtkrag word verhelder deur die uiters behulpsame Naledi.
Twee mense uit verskillende wêrelde, albei broos, albei gehawend, begin geleidelik mekaar se stukkende brokkies bymekaarvee. Maar hoe oorkom jy jare se seer, vooroordeel en wantroue? En hoe vind jy ’n aangenome kind as die ma doelbewus haar spore doodgevee het?
Dit is juis in hierdie toevallige ontmoeting van Petrus en Anina waaruit die groter “klein wonderwerk” spruit. Soos Heidi Quade aangehaal word: “A coincidence is a small miracle when God chooses to remain anonymous.” (p. 149)
Die leser word deur temas in die gesig gestaar wat diep ongemaklik en pynlik is – kinders wat nie geglo word nie, gesinsverraad, strukture wat faal, trauma wat oor generasies strek. Du Plessis doen dit egter met ongelooflike deernis en sonder sentiment. Daar is ’n ruwe eerlikheid aan Petrus en Anina se gesprekke: “Vertel is onthou, en onthou help om te vergeet.” (p. 71)
Wat Klein wonderwerk besonders maak, is nie net die onderwerp nie, maar die manier waarop dit hanteer word. Die verhaal voel nooit oordrewe of gedwonge nie. Inteendeel, dit is juis in die stil oomblikke – die subtiele refleksies – waar die grootste insigte lê. Soos in sy vorige romans, slaag Du Plessis meesterlik daarin om die kompleksiteit van die menslike kondisie, die pyn en potensiaal, in eenvoudige taal aan te bied.
“‘Dis nie dit nie, my kind,’ sê hy sag. ‘Dit moet vir jou swaar wees om ’n ou man te vertrou.’
‘Dis nie dat ek Oom nie vertrou nie.’ Sy kyk nie op nie.
‘Ek weet, maar dit is nie die jare tussen ons nie, dis die letsels van kettings van ons wrokkigheid.’
‘Is daar salf vir letsels aan ons emosionele gewrigte?’ vra sy.
‘Net om te kan vergewe, maar die letsels bly.’
‘Al het ons die wrok uitgespoeg?’
‘Die letsels bly wys op die gewrigte van jou onthou.’” (p. 183)
Die verlies aan sig is ’n kragtige motief in Klein wonderwerk, en Du Plessis teken dit met roerende egtheid – waarskynlik omdat dit uit sy eie ervaring spruit. Petrus stoei met die fisieke én emosionele implikasies van blindheid. Die gesukkel met trappies, restaurantetes, voorwerpe en mense se onkunde, word met fyn waarneming en diepe menslikheid uitgebeeld.
Kritiek is daar wel. Die klimaks en slot is té toevallig, amper gejaagd en té netjies afgerond vir die diepgang wat die voorafgaande gebeure kenmerk. Plekname is funksioneel en beskrywend, maar grens aan irriterend. Pronkbos, Hengelaarshoek en Huis Mooifontein. Stel dit teenoor Hawebaai, Valsekloof, Kloofbek.
In geheel is Klein wonderwerk ’n ode aan menslikheid, aan die onverwagte ontmoetings wat die gang van ons lewens beïnvloed. Dis ’n spieël waarin ons ons eie pyn en onvermoëns, maar ook moontlikhede en hoop herken. Dit is beslis ’n waardige afsluiting van die geliefde professor se oeuvre.
Resensent: Trisa Hugo