Kleurvolle kunsaand inspireer amateurskilders

In die dolle gejaag van ons bestaan, is daar nie altyd tyd om ’n mens se kreatiwiteit op ’n skilderdoek uit te leef nie.
Die ATKV-jeugtak Naba in Upington het egter saam met die jeuggroep van die Upington Congregational-kerk besluit dat die gemeenskap die kans moet kry om hul verfkwaste op te neem en te wys waarmee hulle vorendag kan kom.
Volgens Etta Barnard van die Hoërskool Saul Damon en takvoog van die jeugtak, wou hulle vir die 120 amateurskilders wat deelgeneem het die geleentheid gee om hulself te ontdek en uit te leef. Etta, wat ook kuns by die skool gee en self verf, het die voortou geneem.
“Ons wou hê dat die deelnemers hul emosie op die doek sou vaspen en aan die einde van die aand elkeen met ’n unieke skildery huis toe gaan wat hulle kan ophang en met trots kan vertoon,” sê Etta.
Deelnemers het ook “kleuronderrig” ontvang en geleer oor primêre en sekondêre kleure en hoe jy ook kleure kan meng.
“Die mense was maar aanvanklik skrikkerig en almal kan ook nie altyd teken of wil probeer om te teken nie. Daarom het ons ook basies prente verskaf vir dié wat onseker was.”
Terwyl die aspirantskilders geverf het, het Etta deurgestap en raad gegee.
“Ons wou mense ’n bietjie uit hul boksies haal en hul gemaksone uitdaag.
“Een van die interessante temas wat ons aangeraak het, was die impak wat emosie op ’n kunswerk het. Iemand wat byvoorbeeld nie op ’n goeie plek emosioneel is nie, sal eerder donkerder as helder kleure gebruik.”
Die saadjie vir die aand is geplant om te pas by die kerk se tema vir die jaar: Reaching new frontiers.
Die jeugtak spog met 30 lede en Etta beskryf hulle as ’n baie lewendige tak.
Een van die hoogtepunte op die tak se kalender is ’n kultuuraand waar leerders die geleentheid kry om hul kultuur uit te leef. Ouers dek tafels vir die verskillende kulture en maak kos wat daarby pas.
Die tak het ook ’n gemeenskapsleesprojek van stapel gestuur en ou tydskrifte ingesamel, wat hulle van huis tot huis versprei het. Hulle het ook beddings aangeplant en “dit is wonderlik om te sien hoe die kinders verby die beddings stap en trots na die plant wys wat hulle gebring het.”
“Te danke aan entoesiastiese kinders en personeel wat voluit gaan vir dit waaraan hulle glo, is dit vir ons moontlik om die ATKV se naam hoog te hou.”
Sluit aan by die ATKV en #weesdieverskil. Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.