Kleuterboekprojek skep groot kanse vir klein mensies
Die ATKV-jeugtak Afriganza se kleuterboekprojek het onlangs ’n belowende eerste tree gegee en volgens takvoog Karla Vink is die reis wat voorlê amper te opwindend vir woorde.
Maar kom ons begin ’n treetjie vóór die begin – by die Hoërskool Montana in Worcester waar Karla en ’n paar kollegas die ATKV-jeugtak se projekte bestuur.
“By die skool kry elke ATKV-taklid haar of sy eie projek,” verduidelik sy. “Ons uitgangspunt is om projekte toe te ken op grond van wat die spesifieke persoon se passie is en waar hul kontakte in die omgewing lê. Die feit dat ons op mense se sterk punte fokus, help ons om passie en gees te skep en te behou en dit moedig ons aan om die projek te bly najaag.”
Die rede vir hul keuse van die kleuterboekprojek, sê Karla, is ’n klompie kleuterskole in die omgewing waaraan min mense aandag gee. Dit was ook ’n geleentheid om, in lyn met die ATKV se visie, lees in Afrikaans aan te moedig. “Teen hierdie agtergrond was ons plan om dit positief en lekker lig te hou; om daardie vonkie van liefde vir lees aan die brand te steek,” vertel sy.
Met dié het Cesse Burger, die tak se ondervoorsitter, die kleuterboekprojekleier geword. Aanvanklik was dinge effens chaoties.
“Hope boekies was in ’n krat opgestapel en dit het soos ’n berg voor ons gelê,” vertel Karla.
“Die hele klomp was baie deurmekaar en nie alles was ouderdomstoepaslik nie.”
Cesse het egter ingespring en die boeke in drie kategorieë verdeel: kleuter-, laerskool- en hoërskoolboeke.
Met die biblioteek agtermekaar, was dit tyd vir aksie. Karla en haar span het peuselhappies, koeldrank en gesigverf gekoop, boekies ingepak en die Esselenpark-dagsorgsentrum gaan besoek. Toe hulle daar aankom, het hulle nie net hul eetgoed en leesstof uitgepak nie, maar ook ’n heerlike kuiergeleentheid met die kleinspan.
Die opwinding het uiteraard begin met ’n boek. Karla het Liewe land, ’n olifant! voorgelees, ’n boekie wat vir kinders meer van diere, dieretuine en troeteldiere leer.
“Die kinders was mal daaroor en baie interaktief,” vertel sy. “Dit was heerlik om vir hulle te vra, ‘Het julle troeteldiere?’ – dan skree hulle soos een man, ‘ja!’. Dan vertel enetjie hulle het ’n papegaai wat kan vloek en ’n ander enetjie sê sy het ’n katjie en die katjie het strepe. Dit was so oulik om te sien hoe die kinders hulle in die storie inleef en hoe dit relevant in hul eie lewentjies is.”
Ná leestyd was dit tyd vir ’n partytjie. Die kleinspan het weggelê aan die eetgoed en koeldrank en daarna saam met Karla en die span op die maat van Afrikaanse liedjies gedans dat die biesies bewe. En toe is dit prysuitdeling … Die seuntjie wat die mees interaktiewe deelnemer was en die dogtertjie wat die oulikste gedans het, het elk weggestap met ’n boekie wat hulle kon huis toe neem, nog peuselhappies en ’n legkaart.
Vir Karla was die hoogtepunt die seuntjie wat die prys gewen het.
“Hy was so energiek, so dierbaar en so interaktief en opgewonde; hy het ons laat lê van die lag,” vertel Karla glimlaggend. “As hy byvoorbeeld ’n prentjie van ’n swembad gesien het, het hy met sy vingertjie gewys en uitgeroep, ‘Dis dam, dis dam!’”
Die dag was skitterend, en die toekoms lyk eweneens blink.
“Ons gaan beslis die kleuterboekprojek verder voer,” sê Karla. “Ons gaan ander kleuterskole nader met ander projekte soos verf, speelgoed versamel en kos insamel. Dit gaan nie by die kleuterboekprojek bly nie en dit gaan ook nie net by Esselenpark bly nie. Ons gáán groei.”
Haar ervaring by die Esselenpark-dagsorgsentrum het ’n blywende indruk op Karla gelaat; een wat veel verder as die pret en plesier van die middag strek. “As hoërskoolonderwyseres het ek nie baie met klein kindertjies te doen nie, maar my belewenis het vir my nuwe waardering en begrip gegee vir die kinders in my klas. Hulle was ook eens op ’n tyd dierbare klein kleuterskoolkindertjies en al is hulle nou tieners, wil hulle ook maar net raakgesien en liefgehê word.”
Sy sê dit het haar ook nuwe nuwe deernis en respek gegee vir leerders wat soms moeilik is.
“Miskien is die kind honger, dalk gaan dit nie goed by die huis nie,” verduidelik sy. “Ons besoek aan die Esselenpark-dagsorgsentrum het my opnuut laat besef ons werk met kinders; met die toekoms van ons land. En al word elke kind ’n grootmens, is daar altyd ’n innerlike klein kindjie wat gekoester moet word.”