Kô lat ons lees: Vierde leesmarathon gehou

Die ATKV-tak Sommer Net Ons bied vanjaar sy vierde leesmarathon aan en verwag dat ’n rekordgetal leerders sal inskryf.
Leerders van gr. R tot gr. 4 van nagenoeg 20 skole sal aan die Kô lat ons lees-leesmarathon deelneem, wat op Saterdag 2 Augustus 2025 by Pacaltsdorp Primêre Skool gehou word.
“Die leesmarathon is ’n bewusmakingstrategie om die belangrikheid van lees aan ons gemeenskappe voor te hou,” sê Beverley McKelly, voorsitter van die ATKV-tak Sommer Net Ons.
McKelly sê ’n nasionale opname in 2023 deur die Nasionale Leesbarometer het die verskille in leesuitkomste tussen kinders in welvarende gebiede en dié in armer streke beklemtoon.
“Die lae geletterdheidsvlak in sommige areas in Suid-Afrika lei daartoe dat kinders in ’n armoedesiklus vasgevang bly. Kinders wat sukkel om te lees, sukkel met leer en sal heel moontlik sukkel om as volwassenes in die formele arbeidsmark opgeneem te word.”
Erna O’Neill, leerondersteuningsadviseur by die Wes-Kaapse departement van onderwys, sê die leesmarathon is baie goed vir die kinders se selfbeeld.
“Dit is mooi om te sien hoe dié wat eers skaam en skugter is, deur die loop van die dag vrymoedigheid kry om saam te lees. Kinders wat liewer lees vermy, beleef dat lees lekker kan wees en leer dat hulle altyd moet probeer, al voel hulle dat hulle nie kan of wil nie.”
Die ATKV-tak Sommer Net Ons het in 2018 sy eerste leesmarathon aangebied, waaraan sowat 70 leerlinge deelgeneem het. ’n Tweede een het in 2019 plaasgevind en verlede jaar het 250 leerders deelgeneem. Die organiseerders hoop dat 350 leerders vanjaar sal deelneem.
“Die groei in belangstelling in die leesmarathon is iets om te aanskou,” sê Garelene Muller, kinderbibliotekaresse by die George-biblioteek, wat die boeke vir die marathon en leiding aan leesfasiliteerders verskaf.
“Toe die ATKV ons in 2018 genader het om betrokke te raak, het ons dadelik ingestem. By skole is daar min tyd om op lees te fokus en ons kinders sukkel maar redelik daarmee.”
Kô lat ons lees vind op Saterdag 2 Augustus van 09:00-14:00 by Pacaltsdorp Primêre Skool plaas.
Kô lat ons lees vorm deel van ’n vier dae lange gemeenskapsprojek, Proe-proe deur George, waartydens Afrikaans op verskillende kreatiewe maniere uitgebou word.
Op Woensdag 30 Julie word ’n werkswinkel vir leesfasiliteerders om 10:00 in die konferensiesaal van die George-burgersentrum gehou.
Petronel Baard tree Woensdagaand om 18:30 by Attic Atelier by die Benz in Markstraat op tydens ’n gesellige aand van musiek, dans en visuele kuns. Bernedette Botha sal uit haar debuutbundel by die huis voorlees.
Tydens die VVA-Ommietafelgesprek, wat Donderdag 31 Julie om 19:00 ook by Attic Atelier plaasvind, kom die onderwerp “Hoekom ’n musiekloopbaan in Afrikaans?” onder die loep in ’n paneelbespreking onder leiding van Beverley McKelly en Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van Vriende van Afrikaans (VVA).
Hoe proe jou Afrikaans? Met die Proe-proe deur George-langtafel op Vrydag 1 Augustus om 19:00 word ondernemings, skole en instansies uitgenooi om hul gunstelingkos ten toon te stel ter viering van Afrikaans se uiteenlopende koserfenis. Die aand sluit musiek, poësie en storievertelling deur plaaslike kunstenaars in.
’n Feesmark vind op Saterdag 2 Augustus vanaf 10:00 tot 18:00 by die George-vervoermuseum plaas met kosstalletjies, opvoedkundige gesprekke en vermaak.
Kontak gerus vir Beverley McKelly per e-pos by sommernetons@atkv.org of telefonies by 071 604 2007 om by Proe-proe deur George betrokke te raak of om ’n tafel vir Proe-proe deur George-langtafel te bespreek.
Bespreek ’n stalletjie by die Feesmark by Herman Pienaar van Love George telefonies by 064 881 8392 of stuur ’n WhatsApp na 082 829 6428.
Proe-proe deur George is ’n inisiatief van die ATKV-tak Sommer Net Ons in samewerking met die ATKV, Afrikaans Amptelik 100, VVA, die George-munisipaliteit, Love George, die Wes-Kaapse onderwysdepartement en die Afrikaanse Onderwys Netwerk (AON).