Kom beleef ’n musikale pelgrimstog op RSG

Paasfees is ’n tyd om stil te raak. Dis ’n tyd vir familie en samesyn, maar ook ’n tyd om weer opnuut die genade van God te ervaar.
Ons almal ken die verhaal van Jesus se kruisiging en die liefde van God dat Hy sy enigste seun aan die kruis vir ons sondes laat sterf het. Vanjaar kan jy dié uitsonderlike verhaal deur vers en klank ervaar.
Dié splinternuwe Afrikaanse Paasoratorium Kruis van liefde is deur die Suid-Afrikaanse komponis Franco Prinsloo gekomponeer en luisteraars word op ‘n musikale pelgrimstog deur die Vox Chamber Choir geneem.
Sy meesleurende toonsetting maak gebruik van ’n klein ensemble bestaande uit die orrel, marimba-keteltromme en buisklokke.
Die verse is geskryf deur die bekroonde digter Hans du Plessis en Bernard Odendaal en gaan nuwe lewe in die welbekende Paasverhaal blaas.
Dié debuutvertoning is oorspronklik vir Maart 2020 beplan, maar is weens die Covid-19-pandemie in die wiele gery.
Gelukkig met die verslapte maatreëls kon die vertoning uiteindelik opgevoer word.
Kruis van liefde is moontlik gemaak deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en word ondersteun deur die ATKV en die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Rietvallei Wynlandgoed (wynborg) het ook ruim skenking gemaak.
Die vertoning word om 2 April 14:04 op RSG uitgesaai.