Kom hou jou lyf Totius met ATKV-DigiGedigte

Die fyn kuns van poësie is ’n oeroue manier van storievertelling. Die Grieke het dit gedoen en selfs nog voor hulle is dié manier van uiting gee aan ’n mens se emosies en denkwyse teruggedateer tot die derde millennium waarop die verhale van Gilgames op kliptablette geskryf is.
Vandag, honderde jare later, is die wêreld veel anders, maar digkuns het gebly. Tegnologie en die internet het egter daartoe gelei dat verse geen landsgrense ken nie en ieder en elk nou sy lyf Totius kan hou.
ATKV-DigiGedigte, die ATKV se digitale kompetisie vir digters, word vanjaar vir die tweede keer aangebied. Of jy nou in Kathu of Kanada woon, jy kan deelneem. Solank jy internettoegang, ’n selfoon, tablet of ’n rekenaar het, kan jy jou verse inskryf!
“Poësiekompetisies is interessant en belangrik omdat hulle kreatiwiteit en skryfproduktiwiteit inspireer, ’n gestruktureerde manier bied om skryfvaardighede te slyp en ’n waardevolle platform vir selfuitdrukking en emosionele vrylating bied,” sê Melanie Marais, projekorganiseerder van die ATKV.
Woordsmede word uitgenooi om hul poësie-pennevrugte vlerkte te gee en verse rondom die volgende drie breë temas te skryf, naamlik: Mense, ons wêreld en spore.
“Jy kan oor enige aspek van hierdie temas skryf. Jy kan die gedig wat diep binne jou wag in jou geliefde moedertaal uitdruk met ’n taalopsie van Afrikaans huistaal of Afrikaans addisionele taal. Hier kan jy improviseer,” sê Melanie.
In elke taalopsie is daar vier kategorieë vir skoolleerders sowel as vir volwassenes.
Deelnemers kan binne sekere grense na gelang van die kategorie waarin hulle inskryf enige gedig vir beoordeling voorlê, solank dit oorspronklik is en die temas betrek.
Daarbenewens is daar ’n basiese beoordelingskriteria. ’n Paneel kundige beoordelaars evalueer elke gedig in digitale formaat volgens die kategorieë en die riglyne vir gedigte.
Elke deelnemer ontvang ’n deelnamesertifikaat met die simbool wat hy of sy behaal het. Die wenner in elke kategorie ontvang ’n ATKV-sertifikaat en elke kategoriewenner ontvang ook prysgeld.
Enige navrae kan aan Melanie Marais by 011 919 9015 gerig word. Klik hier vir die deelnemersgids en hier vir die inskrywingsvorm. Inskrywings sluit 17 Oktober 2025.