Kom klets saam met die ATKV oor aktuele sake
ATKV-Kletskring se kletsklinieke sal vanjaar van 18 tot 21 Junie by ATKV-Goudini Spa in Worcester in die Wes-Kaap en van 24 tot 27 Junie by ATKV-Klein-Kariba in Bela-Bela, Limpopo plaasvind.
Hierdie jaarlikse projek (voorheen bekend as die ATKV-Jeugberaad) wat vir oopkopdenkers in graad 10 en 11 aangebied word, gee leerders die geleentheid om saam te kom gesels oor politiek, die ekonomie, onderwys, tegnologie en die samelewing – sake van die dag wat hul lewens beïnvloed.
Volgens Annemarie Alberts, ATKV-projekorganiseerder wat haar spesifiek op die ATKV-Kletskring-, ATKV-Debat- en ATKV-Jeugleiersimposium-portefeuljes toespits, is ATKV-Kletskring die ideale geleentheid om nie net leerders se horisonne te verbreed nie, maar ook om vet pret te hê.
“Oopkopdenkers is enige leerder in graad 10 en 11 wat hulle in daardie oorgangsfase bevind van kind wees na grootmens word,” sê Annemarie.
“Hulle word genoop om deel te word van die grootmenswêreld deur belangrike loopbaan- en vakkeuses te maak wat die res van hulle lewens gaan beïnvloed. Maar tog wil hulle steeds kaalvoet buite gaan speel en die bal rondgooi en uit hul maag lag.
“Oopkopdenkers is tieners wat effe onseker is omdat hulle nie werklik weet wat vir hulle voorlê nie, maar steeds al hierdie belangrike sake bepeins. Hulle word immers deur die politiek, die ekonomie, die onderwys, tegnologie en ander kwessies in die samelewing gekonfronteer, dus skep die kletsklinieke ’n platform waar hulle bymekaar kan kom om oor hierdie dinge te gesels.
“’n Oopkopdenker is ook nie noodwendig die ekstrovert wat maklik gesels en sy of haar menings lug nie. Die kletsklinieke verwelkom graag die stil leerder in die hoek wat ook ’n mening het, maar dalk nie so gemaklik is om aan gesprekke by die skool deel te neem nie.
“Ons trek die stil, teruggetrokke leerders in en maak hulle deel van ’n klein groepie. Dit is dan wat hulle so te sê ontdooi en ook begin deelneem.
“Maar dit gaan nie net oor kundige sprekers wat gewigtige onderwerpe bespreek nie. Daar is ook tyd vir speel en om die ATKV-oord se fasiliteite te geniet. Sterk vriendskapsbande word met maats van die ander skole gesmee en hulle hou steeds kontak met mekaar lank ná die kliniek verby is.”
Annemarie sê ATKV-Kletskring en die ATKV-Jeugberaad is dieselfde projek, die ATKV het eenvoudig vir laasgenoemde ’n nuwe baadjie aangetrek.
“Ons het ná 26 jaar besef dat die projek en die inhoud wat aangebied word, steeds relevant is,” sê sy.
“Daardie onseker tieners moet die geleentheid kry om oor hierdie onderwerpe te gesels ten einde ’n beter prentjie van hulle wêreld en toekoms te kry. Dus gaan ons steeds daarmee aan. Die inhoud is steeds nommerpas, maar ons gee die projek eenvoudig ’n nuwe logo en ’n bietjie ander kleure om die oog beter te vang.”
Annemarie sê die sprekers vir vanjaar se kletsklinieke is nog nie bevestig nie, maar gesaghebbende figure soos Albert van Wyk (skrywer van How to Become a Millionaire at 22), Dawie Roodt (Efficient Group), Pieter du Toit (News24) en prof. Edwin Theron (Universiteit Stellenbosch) was al voorheen as aanbieders deur ATKV-Kletskring betrek.
“Sprekers wat my voorheen beïndruk het, sluit in Albert van Wyk, wat op 22 ’n miljoenêr geword het en die leerders van entrepeneurskap kom vertel het. Dawie Roodt is altyd ’n baie goeie spreker en hoewel hy oor diep insig en groot kennis beskik en meestal op televisie of ander uitsaaimediums verskyn, gesels hy baie maklik met die kinders en skep hy vir hulle ’n uitstekende prentjie van die ekonomie.
“Pieter du Toit is reeds jare lank ’n joernalis en het al vreeslike stories oor ons politiek oopgevlek, maar hy het ’n baie interessante siening van hierdie onderwerp en waar ons gewone mense meestal die onweer en negatiwiteit raaksien, los hy die kinders altyd op ’n positiewe plek van hoop.
“Prof. Edwin Theron se vakgebied is die ekonomie en hy bespreek altyd hoe bemarkers ons as verbruikers manipuleer om sekere items te koop. Dit is vir ’n kind wat gedurig hierdie gewilde handelsname najaag altyd ’n baie interessante sessie. Hulle oë is agterna altyd groot en hulle sê, ‘Sjoe, tannie, ek het dít nou nie besef nie.’ Maar prof. Theron verduidelik ook wat ons as verbruikers te doen staan en dat ons eintlik ons eie keuses kan maak.”
Annemarie sê dit is belangrik vir haar om ’n program aan te bied waar leerders nie net heeldag sit en na kundige sprekers luister nie.
“Dit is lekker om tussendeur te breek en die ATKV-oord se uitstekende fasiliteite te geniet. Oral waar jy loop, sien jy net jongmense wat swem en speel en lag en gesels. Ek spot altyd en sê ons neem tydens kletsklinieke die oorde oor!”
Annemarie sê haar hoop is dat die kinders die ATKV-Kletskring met ’n ligter gemoed sal verlaat.
“Die leerders ondergaan werklik ’n verandering. Hulle besef, ‘Sjoe, dinge is nie so donker soos wat ons gedink het nie – ja, ons land het uitdagings en wesenlike probleme, maar die hoop en die oplossing lê in my en die maat hier langs my wat van ’n ander skool en ’n ander streek af kom. Ons dink dieselfde en ons kan hande vat en hierdie kwessies saam aanpak.’
“Ek wil hê dat hulle daar wegstap met ’n prentjie van hoop en dit is wat ek by hulle wil tuisbring.”
Vir meer inligting oor die ATKV-Kletskring, kontak Annemarie Alberts by annemariea@atkv.org.za, of skakel 011 919 9066.