Kom skep asem saam met die ATKV en die Khuthaza-stigting

Teen die tyd is die meeste mense bewus dat Moeder Natuur aan’t kwyn is.
Die ysberge in Antarktika smelt weens klimaatsverandering teen ’n skrikwekkende spoed. Oseane is met plastiek en rommel besoedel en in reënwoude soos die Amasone bedreig bosbou ’n hele ekosisteem.
Maar al weet ons van al hierdie kwessies doen ons weinig daaraan.
Die ATKV en die Khuthaza-stigting nooi jou uit om Saterdag 8 Mei van 06:30 tot 17:00 by ATKV-Klein-Kariba te kom asem skep. Ontsnap van die rotteresies en kom geniet ’n dag propvol aktiwiteite wat jou uitnooi om op ’n volhoubare manier met die natuur om te gaan.
“Die ATKV besef klimaatsverandering is een van die groot kwessies wat tans ons samelewing bedreig,” sê Magon Mouton, ATKV-streeksbestuurder.
“As ’n verantwoordelike burgerlike organisasie is dit vir die ATKV belangrik om onsself te belyn met nasionale en internasionale pogings om klimaatsverandering die hoof te bied.”
Volgens Magon erken die ATKV die Verenigde Nasies se wêreldwye doelwitte vir volhoubare ontwikkeling en daarom het dié organisasie besluit om hande met die Khuthaza-stigting te vat.
Die Khuthaza-stigting beywer hom vir bewusmaking oor aardverwarming en poog om mense se gedrag te verander om klimaatsverandering aan te spreek en om te herbesin oor water- en grondverbruik.
Die dag begin met ’n pilates-oefensessie wat deur Bluebelle van Pilates Plus aangebied word.
“Ons gaan ’n “eco bricks”-werksessie hê, oor die impak van plastiek gesels en deur die loop van die dag poog om 1000 bome te plant,” sê Magon.
Kaartjies vir die geleentheid kos R350 en sluit al die bogenoemde aktiwiteite in. Die bome wat geplant gaan word, ontbytpakkies, middagete en verversings deur die loop van die dag is ook ingesluit.
Volgens Magon gaan daar ook ’n spesiale aanbod vir diegene wat graag by die oord wil oorslaap.
“Indien die gaste nie lid is van die ATKV nie sal ons hul die geleentheid gee om verblyf teen lidtarief te bespreek. Indien die gaste ATKV-lede is, is ’n addisionele afslag van 15% bo-op die lidtarief beskikbaar. Kontak vir katlegol@atkv.org.za, verwysing #boomfees2021.
“As jy ’n wegbreek nodig het, maar ook terselfdertyd ’n verskil in die omgewing wil maak, is hierdie dag beslis vir jou.”
Stuur ’n e-pos na info@khuthazafoundation.co.za om jou kaartjie te bekom.