Koop-’n-Afrikaanse-boekdag is mondig

Die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n afdeling van die ATKV, vier op 14 Augustus die Afrikaanse geskrewe woord met sy 21ste Koop-’n-Afrikaanse-boekdag.
“Die VVA fokus op die bevordering van lees en maniere om ’n liefde vir lees vanaf ’n jong ouderdom by kinders te kweek,” sê Shireen Crotz, projekorganiseerder by die VVA.
“Ons streef ook daarna om die taalarmoede wat in ons samelewing heers, te verlig en om kinders trots op hul moedertaal te maak.”
Shireen sê die VVA was aanvanklik ’n onafhanklike organisasie voordat dit met die ATKV kragte begin saamspan het.
“Daar is in 2014 besluit dat die twee organisasies se visie en missie ooreenstem. Dit is dus ons doelwit, ondanks die feit dat boeke nie noodwendig vrylik vir almal beskikbaar is nie, om ’n leeskultuur te skep en bietjie vir bietjie ons ideaal te bevorder,” sê sy.
“Nolte Smit, destyds ’n lid van die VVA se spitsraad, het in 2004 die idee gekry om skrywers te ondersteun ten einde die voortbestaan van Afrikaanse letterkunde te beskerm en te bevorder,” verduidelik Shireen.
“In die proses help ons ook om uitgewers en boekwinkels se omset ’n hupstoot te gee. Ons vra elke jaar met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag vir uitgewers en boekwinkels om inisiatiewe aan te bied en afslag te gee sodat kinders en bejaardes wat nie boeke kan bekostig nie, die moontlikheid gebied word om boeke te kan koop of lees. Die uitgewers en boekwinkels doen jaarliks werklik baie moeite met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag om Afrikaanse boeke op die mark te bevorder.”
Shireen sê boekwinkels landswyd neem aan Koop-’n-Afrikaanse-boekdag deel deur afslag op die aankoop van Afrikaanse boeke te bied.
“Boeklees verbeter kinders se woordeskat. Dit help hulle om ’n ander wêreld te betree waar hulle baie meer kreatief kan dink, waar hulle verbeelding met hulle kan wegloop en waar hulle kan sien wat hulle alles nog kan doen as hulle blootgestel word aan nuwe boeke en nuwe woordeskat.”
Die Afrikaanse outeur, Jaco Jacobs, verduidelik waarom Koop-’n-Afrikaanse-boekdag vir hom as skrywer belangrik is.
“Ek weet nie altyd of Afrikaanssprekendes besef hoe bevoorreg ons is om in hierdie uitdagende tyd, waar die boekbedryf wêreldwyd swaartrek, nog ’n lewendige, produktiewe, aktiewe boekbedryf in Afrikaans te hê nie,” sê Jaco.
“’n Dag soos dié is ’n wonderlike inisiatief om mense aan te spoor om opnuut in die Afrikaanse boekbedryf te belê – ter wille van elke skrywer, uitgewer en boekhandelaar wat fantastiese werk doen en baie geld en bloedsweet daarin belê om Afrikaanse boeke te publiseer.”
Jaco sê die lekkerste ding wanneer hy skole besoek, is om te besef dis nié so moeilik om kinders aan die lees te kry nie.
“Ja, hulle lees veels te min en ja, daar is baie dinge wat hul aandag aftrek van boeke. Maar as jy ’n kind se nuuskierigheid oor ’n boek prikkel en die regte boek by die regte leser kan uitkry, is dit nie so moeilik om kinders opgewonde oor lees te maak nie.”
Jaco meen dit is spesifiek belangrik dat kinders boeke lees en nie net ander media nie.
“Ek was van kleins af ’n boekwurm en in my hart voel dit vir my ’n kind wat nie met boeke grootword nie, loop ’n hele wêreld mis. ’n Wêreld wat jy alleen op die eerste bladsye betree en waar jy alleen uitstap wanneer jy ’n boek toemaak, maar waar jy in die proses die wildste verbeeldingsvlugte en avonture kan beleef, karakters leer ken wat jy nie in jou daaglikse lewe sou teëkom nie, leer om te verstaan hoe ander mense dink, voel en redeneer en leer hoeveel eindelose pret jou eie verbeelding kan wees.
“Op ’n praktiese vlak is boeke vir my die perfekte teenmiddel teen ’n wêreld waar kinders se aandagspan al hoe korter word, waar dinge al hoe meer gejaagd word en konsentrasie al hoe moeiliker word. ’n Boek is ’n oase midde-in dié dolle gejaag; ’n asemskepplek waar kinders kan ontspan en fokus op iets wat hulle kan geniet,” voeg hy by.
Zuleka Smit, ’n onderwyser en skrywer, verduidelik hoe sy Afrikaanse literatuur in haar klaskamer integreer.
“Om Afrikaanse literatuur in die graad R klas te integreer, gaan nie net oor die lees van boeke nie, maar oor om dit ’n lewende, speelse ervaring te maak wat by kleuters se ontwikkeling pas,” sê sy.
“’n Leeshoekie is ’n moet in elke graad R-klas. Kinders moet die heeltyd toegang tot boeke hê. Prentjielees is van onskatbare waarde.”
Zuleka sê sy sien noemenswaardige impak wanneer kinders oor toegang tot kwaliteit- Afrikaanse boeke in die graad R-klas beskik.
“Kinders se woordeskat word ongelooflik uitgebrei. Hulle hoor ryke woordeskat en korrekte sinstrukture in ’n natuurlike konteks, hulle begin nuwe woorde spontaan gebruik in gesprekke en speletjies en hul uitspraak verbeter omdat hulle woorde gereeld hoor en herhaal.”
Zuleka bied wenke oor hoe onderwysers Koop-’n-Afrikaanse-boekdag in hul skole kan vier.
“Koop-’n-Afrikaanse-boekdag is ’n wonderlike geleentheid om leesliefde en taaltrots in die skool te bou – veral as dit kreatief en inklusief aangepak word.
“Bou vooraf opgewondenheid in jou graad R-klas. Verskaf voorsmakies – lees elke dag ’n kort uittreksel of rympie uit ’n Afrikaanse boek om kinders nuuskierig te maak. As kinders beleef dat boeke ’n fees kan wees, raak Afrikaanse lees nie ’n plig nie, maar ’n plesier.”
Die volgende handelaars en boekwinkels ondersteun Koop-’n-Afrikaanse-boekdag soos volg:
- Exclusive Books: Verskeie promosies.
- Besoek Tippie se sosialemediaplatforms vir spesiale afslag.
- Bargain Books: 20%-afslag op Afrikaanse boeke vanaf 14-17 Augustus.
- Aristata/Protea Boekwinkels: 20%-afslag op Afrikaanse boeke.
- Graffiti: ’n Aanlyn uitverkoping op geselekteerde Afrikaanse boeke.