Kortfilm hoop om boeliegedrag hok te slaan
Boelies is oral – op skool, by die werkplek en selfs in die kuberruim. Die impak wat boeliegedrag op iemand se lewe kan hê, is dikwels reusagtig en in 99% van die gevalle is dit baie negatief.
Reyno Wepener, die bemarker van die ATKV-Buffelspoort-vakansieoord, is saam met sy vrou Heidi betrokke by kinderbediening. Uit die aard van haar werk as spelterapeut en maatskaplike werker is die egpaar deeglik bewus van die negatiewe gevolge wat boelies se gedrag op kinders kan hê. Reyno werk ook baie saam met skole wat die oord besoek en in sy gesprekke met onderwysers en skoolhoofde duik boeliegedrag gereeld op. Daarby is die media ook propvol bewyse van hoe ernstig hierdie probleem is. Natuurlik is dit nie net tot skoolkinders beperk nie. Dít het die saadjie by Reyno geplant om ’n kortfilm te maak waarin boeliegedrag aangespreek word, maar wat ook hoop moet gee – selfs vir diegene wat hulle skuldig maak aan ’n geboelie.
Kunstenaars met wie Reyno al dikwels saamgewerk het, is Cor en Letitia Uys, beter bekend as oom Karoolus en Lente. Reyno het sy idee met Cor en Letitia gedeel, en daar is sommer gou saamgestem dat ’n kortfilm, gemik op laerskoolleerders, die ideale manier sou wees om hierdie groot olifant in die kamer aan te spreek.
“Ons het vir Inè Reynierse gekontak om ons te help met die draaiboek vir die fliek. Die naam daarvan is Boelie issi cool nie. Daar is aan die werk gespring en Inè het vir ons ’n lieflike draaiboek, boonop met heerlike humor daarin, geskryf. In November verlede jaar het ons die fliek hier by Buffelspoort en in die omgewing geskiet. Ons het die hele gemeenskap betrek: die kerke, die skole, die predikante en ook die ATKV-takke in die omgewing. Dit was vir ons belangrik om ’n kwaliteitproduk op die rak te hê en ons het professionele kameramanne gekry om alles te kom afneem.”
In Boelie issi cool nie leer ken ons vir Bakkies, die boelie. Dan is daar Lienkie, ’n liewe klein dromertjie wat onder Bakkies se geboelie deurloop. Die mense wat haar help om vir Bakkies op sy plek te sit, is Oompie, tannie Tiesie, oom Karoolus en Lente. Uiteindelik leer hierdie spesiale span vriende vir Bakkies die waarde van onselfsugtige vriendskap.
Inè Reynierse, wat benewens die draaiboek skryf ook as regisseur opgetree het, sê sy is besonder dankbaar dat hierdie geleentheid oor haar pad gekom het. Alhoewel sy baie ondervinding in die skryf en maak van kinderprogramme en kinderproduksies het, fokus haar loopbaan deesdae baie op menslike genetika. Sy is ook die skrywer van die baie gewilde Low carb is Lekker-kookboeke.
Inè sê in die navorsing wat sy gedoen het, was dit gou vir haar duidelik dat daar twee kante aan die storie is. “Daar is beslis ’n rede hoekom iemand ’n boelie word, en dan is daar ’n rede hoekom sekere mense makliker geboelie word as ander. Dit is noodsaaklik om na die wortel van alles te gaan kyk. Uiteindelik weet ek die belangrikste van als is om vir kinders, of enigeen wat geboelie word, die nodige hulpmiddels te gee. Jy móét die persoon wat geboelie word, bemagtig, sodat hy of sy weet hoe om die boelie op hul plek te sit. Hy of sy moet leer om ’n voet neer te sit en te sê: ‘Tot hier toe en nie verder nie’. Die slagoffer moet ook leer om homself te omring met ’n gemeenskap wat saam met hom sal staan. Ons het probeer om al hierdie elemente in ons fliek in te werk.”
Die première van Boelie issi cool nie vind op Dinsdagaand, 18 April by ATKV-Buffelspoort plaas en verskeie mediamense en mense in die bedryf sal hierdie opwindende gebeurtenis bywoon. Op Woensdagoggend, 19 April sal die skakel na die fliek op ATKV-Buffelspoort se Facebook-blad gelaai word, waar skole, kerke en terapeute dit gratis kan aflaai. Dit sal ook op die Jou Afrikaans-toep beskikbaar wees.
“Mense moet besef dat hierdie fliek só geskiet is dat dit nie net vir laerskoolkinders bedoel is nie. Volwassenes moet daarna kyk en besef hulle gedrag, wanneer hulle hul eie kinders boelie, het ’n ongelooflike rimpeleffek in die skool en in die gemeenskap. Ons hoop kinders sal met die kyk van die film besef dat die Here ons liefhet soos ons is. Dis nie nodig om terug te val na ’n swakker selfbeeld wanneer ’n boelie ons van ons waarde wil ontneem nie. Ons wil graag hê Boelie issi cool nie moet ’n bewusmakingsveldtog van boeliegedrag wees. Kyk wat om jou gebeur, praat daaroor, moenie stilbly en alleen seerkry nie. Jy moet dit juis deel, veral wanneer jy sien dat een van jou maats die slagoffer van ’n boelie is,” sê Reyno.
Inè sê sy voel heel tevrede met die eindproduk. “Ek glo dit is ’n goeie eerste-tree-in-’n-proses-produk wat ons geskep het. Daar is baie kolletjies wat ons met die fliek neersit, maar dan is daar baie werk om elke kolletjie met mekaar te verbind. Ek dink die emosie en die deernis wat met die fliek geskep word, gaan help om groter bewusmaking te skep, waarmee ’n ou verder kan werk. Enigeen wat by ’n skool of kerk of in ’n gemeenskapsprojek met kinders werk, sal baie hiermee kan maak. Ek dink ons het daarin geslaag om die gesprek met baie deernis – en natuurlik heerlike humor – te open. Mag dit help om die boeliepandemie stop te sit.”