Kroonstad hou makietie én red ’n dorp
Uitmuntende teaterproduksies, musiekoptredes deur van die land se beste musikante, heerlike kos en samesyn ... dít kan mos niks anders as feestelik wees nie!
Of jy nou ’n kultuurliefhebber of rugbymal is, by vanjaar se Ignite and Revive-fees in Kroonstad is daar iets vir ieder en elk.
Dié gewilde fees word vanjaar vir die derde keer aangebied en hierdie jaar beloof om groter en meer opwindend as die vorige twee te wees.
“Die idee vir die Ignite and Revive-fees het ontstaan as deel van ons plan om Kroonstad te red en om as ’n suksesvolle streekdorp erken te word,” sê Andriette Potgieter, streeksbestuurder van die ATKV.
Kroonstad is ook in 2022 as Kwêla se Dorp van die Jaar gekroon.
Volgens Andriette is die doel van dié fees om samehorigheid en ekonomiese groei te bevorder deur ’n jaarlikse fees aan te bied wat deur Suid-Afrikaners as een van die topfeeste op die nasionale kalender erken sal word.
Die ATKV gaan by vanjaar se fees drie hoëgehalte-produksies aanbied, naamlik Sjarrap en eet jou kos!, Die mooiste monsters op safari en Die indringer.
“Hierdie vennootskap is vir ons baie belangrik en ons is opgewonde oor die vermaak wat dit na die fees sal bring,” sê Andriette.
Daar sal op die dag ook verskeie stalletjies wees, asook ’n teetuin waar jy lafenis kan gaan soek.
Rugbyliefhebbers kan uitsien na die kragmeting tussen die Springbokke en die All Blacks, wat op ’n grootskermtelevisie vertoon sal word.
Gewilde kunstenaars soos Die Piesangskille, Spoegwolf, Dodo, Riaan Benadé en Demi Lee Moore beloof om vir groot vermaak te sorg.
Andriette meen die jaarlikse fees skep eenheid in die gemeenskap en dien as ’n voorbeeld vir die res van Suid-Afrika.
“Die fees demonstreer hoe ’n dorp en uiteindelik ’n land deur die inwoners self gered kan word. Ons hoop die plaaslike gemeenskap sal ons poging omhels en die res van Suid-Afrika aanspoor om ons voorbeeld te volg.”
Die Ignite and Revive-fees vind vanaf 30 Augustus tot 1 September in Kroonstad plaas. Klik hier om jou kaartjies te koop.