Kultuurkuier lê VKO-hoekstene
Sonder ’n stewige fondament sal die grootste muur neertuimel. Die werkswinkels wat by vanjaar se Kultuurkuier deur kenners in hul veld aangebied is, het volhoubare oplossings gebied om ’n stewige grondslag te lê vir “die ankers wat gemeenskappe benodig om te floreer, naamlik gemeenskap, omgewing en verbintenis.” Daar was veral klem op noodsaaklike ingryping by vroeëkinderontwikkeling.
“In 1930, toe die ATKV gestig is, was taal, kultuur en nasiebou die hoekstene waarop die organisasie gebou is,” vertel Sonél Brits, die ATKV-MSW se besturende direkteur, by die onlangse Kultuurkuier, wat by ATKV-Buffelspoort gehou is.
“Dit was nog altyd onlosmaaklik verweef met die organisasie se visie en bestaansrede ‒ om Afrikaans te bevorder en sterker gemeenskappe te bou. Ons diverse Afrikaanssprekende lede dra by tot ’n beter Suid-Afrika, en die ATKV-lede wat vanjaar se Kultuurkuier by Buffelspoort bygewoon het, het dit eerstehands ervaar. Wanneer ons lede bymekaar kom, word idees uitgeruil en verbeter, en die Afrikaanse kultuur en taal word bevorder. Dit strek ook verder, deur voort te bou op gemeenskapsondersteuning ‒ die hoeksteen van die organisasie.”
Woorde as fondament
Reinette Lombaard en haar ma, José Palmer (skrywers van die Tippie-boeke), en Christien Neser (spraakterapeut en skrywer) beywer hulself om ʼn liefde vir lees by alle Suid-Afrikaanse kinders te kweek ‒ die stewige basis waarop ’n kind se toekomstige akademiese prestasie en breinontwikkeling gebou word.
Volgens die nuutste Progress in International Reading Literacy Study kan 80% van Suid-Afrika se graad 4-leerlinge – gemiddeld nege of tien jaar oud – nie met begrip lees nie. Hulle kan nie basiese vrae uit ’n teks beantwoord of die inligting later herroep nie.
Die leesaktiviste se voorstel om die krisis te hanteer is eenvoudig: lees elke aand ’n slaaptydstorie vir jou kind voor. “Kinders ontwikkel later in hul lewe beter leesvaardighede en kognitiewe vermoëns as daar stories aan hulle voorgelees word, wat hul taalvaardighede en woordeskat opbou,” verduidelik Neser.
Tydens die Moedertaal-werkswinkel het Neser die “30 miljoen woorde-gaping” verduidelik, wat die diepgaande invloed van vroeë taalblootstelling op ’n kind se ontwikkeling beklemtoon. Kinders wat teen die ouderdom van drie aan 30 miljoen woorde of meer blootgestel is, het ’n reusevoorsprong in akademiese en sosiaal-emosionele ontwikkeling.
“Daar is beduidende studies wat wys dat vroeë lees-intervensies ’n legio voordele inhou. Kinders wie se ouers vir hulle voorlees, toon beter leesvaardighede en kan inligting beter onthou, omdat die kind se neurale verbindings vir taalverwerkingsvermoëns reeds vroeg in hul brein neergelê word, wat die fondament vorm vir geletterdheid en akademiese prestasie,” verduidelik Neser.
Voeding as hoeksteen
Vars groente verskaf noodsaaklike vitamiene, minerale en makrovoedingstowwe, wat jong kinders benodig vir optimale breinontwikkeling ‒ een van die hoekstene van vroeëkinderontwikkeling. Kinders wat van kleins af gesond eet, toon beter akademiese prestasie en kognitiewe vaardighede later in hul lewens.
By Shaun Cairns van Seed 2 Harvest en die ATKV se volhoubare tuinbou-inisiatief-werkswinkel het deelnemers geleer hoe om gemeenskappe by te staan om selfvoorsienende groentetuine te skep. Die groentetuinprojek, een van die organisasie se suksesvolste projekte, betrek nou al meer as 200 dorpe.
Die groentetuine verseker toegang tot bekostigbare vars groente, deurdat mense toegerus word met vaardighede om hul eie produkte te kweek met innoverende, omgewingsvriendelike metodes.
“Ons doelwit is om honger mae te voed en mense toegang te gee tot volhoubare, gesonde voedselbronne, sodat hulle kan floreer,” verduidelik Cairns.
Die projek getuig ook daarvan dat suksesvolle inisiatiewe nie net op goeie bedoelings, skenkings en entoesiasme gebou kan word nie. ’n Stewige fondament moet eers gelê word.
Die ATKV skenk nie net saad en gereedskap, en dan moet mense self sien en kom klaar nie. Wanneer ’n nuwe tuinprojek beplan word, verseker hulle eers dat almal wat daarby betrokke gaan wees, daarop inkoop. Sonder volgehoue betrokkenheid gaan dit nie slaag nie.
Voor die aanplanting van groentetuine ontvang belanghebbendes ’n opleidingsessie oor planttegnieke, plaagbestryding en instandhouding. Daarna volg praktiese werkswinkels in die groentetuine, waar deelnemers hul teoretiese kennis kan toepas met die bystand van ATKV-personeel. Deurlopende ondersteuning word gebied, en tuiniers kan aanklop vir raad wanneer hulle vasbrand.
Die program moedig ook entrepreneurskap aan deur mense bewus te maak van voorsieningskettings en verkoopsgeleenthede. Só dra elke saadjie wat geplant word by tot verbeterde voedselsekerheid vir plaaslike gemeenskappe.