Kunskompetisie plaas kollig op kykers

As jy sterre in jou oë kry wanneer jy jou verfkwas optel of agter die lens van jou kamera doenig raak, kan jy solank jou tande slyp vir ’n kunskompetisie wat alles uit te waai het met die oog. Dié kompetisie word aangebied deur die ATKV-tak Gemeenskapsteater, in samewerking met dr. Karen Conradie, ’n oftalmoloog by die Pasteur-ooghospitaal in Bloemfontein, en die Co-Op-galery. Die kollig val op die oog. Of dit nou die kat se oog, deur die oog van ’n naald, of die appel van iemand se oog is, die taklede en dr. Conradie wil met hierdie kompetisie bewusmaking oor oogsorg skep.
Ebeth Wilson, takvoorsitter, sê die ATKV-tak Gemeenskapsteater hou daarvan om met ander instansies en organisasies hande te vat met projekte. Hierdie is ’n tipiese voorbeeld van so ’n projek. “Die projek was eintlik die idee van dr. Karen Conradie, wat ook ’n lid van ons tak is. Toe sy noem dat hulle so iets wil reël, het ek aangebied dat die tak ook aan boord kom en help met die reëlings. Ons tak is meestal by die uitvoerende kunste betrokke. Hierdie is dus vir ons ’n gulde geleentheid om ook by die beeldende kunste betrokke te wees. Aangesien nie een van ons genoeg van kuns weet om so ’n kompetisie alleen aan te pak nie, het ons besluit om ’n derde vennoot, die Co-Op-galery, te nader om ons met die fynere detail en raad te help. Ons tak se pad met die Co-Op-galery strek ook al oor omtrent ’n jaar. Ons het al vir verskeie van hul uitstallingopenings die klank geborg. Dit is dus baie lekker om nou ’n volwaardige projek saam met hulle aan te bied.”
Die kompetisie bestaan uit vier kategorieë, naamlik 9-12 jaar (laerskool), 13-18 jaar (hoërskool), ouer as 18 jaar (wat nog nooit ’n solo-uitstalling gehad het nie) en laastens, persone met gestremdhede. Enige medium kan gebruik word. ’n A2-monteerbord en uitgesnyde venstermontering sal voorsien word. Die sluitingsdatum vir alle kunswerke is 22 Julie om 12:00. Die wenner van elke kategorie ontvang ’n tekenklas, aangebied deur David Griessel. Die tweede plek in elke kategorie ontvang ’n kunsklas wat aangebied word deur Willemien Krüger en die derdeplekwenners in elke kategorie stap weg met ’n geskenkbewys van Signo.
As jy graag wil inskryf en meer inligting wil hê, kan jy Ebeth Wilson kontak deur ’n e-pos te stuur na bloemfonteingemeenskapsteater@gmail.com, of ’n WhatsApp-boodskap of SMS te stuur na 083 560 9178.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Gemeenskapsteater, kontak Ebeth Wilson by 083 560 9178 of stuur ’n e-pos na ebethwilson16@gmail.com. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.