Kweek só meertaligheid: Jou kind se moedertaal is koning
In ’n oorwegend Engelse samelewing waar jou kind aan alle variëteite van dié globale taal blootgestel word, raak dit al hoe moeiliker vir ouers om ’n liefde vir hul moedertaal by kinders te kweek en te verseker dat hulle kinders gerat en gereed is vir die werksplek.
Dit blyk nou egter dat die geheim tot jou kind se sukses in meertaligheid lê.
Dít was die mening van kenners by ’n paneelbespreking van die ATKV getiteld “Moedertaal: Die wegspringplek vir meertalige sukses”. Dit was die eerste gesprek oor kwessies rondom moedertaalonderrig en lui latere paneelbesprekings oor dié onderwerp in.
“Jou kind word aan andersoortige Engels blootgestel weens YouTube en TikTok. Engels behoort nie ’n ouer se bekommernis te wees nie, maar ’n kind wat net in ’n eentalige omgewing grootword, beleef ’n vervlakking van die taal,” sê die sielkundige Tertia de Klerk.
Sy het saam met Christien Neser, spraakterapeut en skrywer, aan die paneelbespreking deelgeneem en die historikus dr. Lindie Koorts het die gesprek gelei. Die geleentheid het op 27 September by die Randpark-gholfklub plaasgevind.
“Ons hou ons oog op die eindpunt en beskou Engels, wat ’n globale taal is, as belangrik, maar daar is ’n ooraanbod van Engels. Ouers hoef hulle nie oor Engels te bekommer nie. Praat jou suiwer moedertaal met jou kind en voed sy siel. ’n Ouer se moedertaal is ’n emosionele taal. Praat die taal van jou hart met jou kind,” sê Tertia.
Christien gaan akkoord en stem saam dat daar ’n ooraanbod van Engels is.
“Dit is ’n sop van Engels. Kinders kry genoeg weergawes van die taal. Hy of sy gaan steeds Engels absorbeer, maar as jy jou kind in sy of haar moedertaal grootmaak, is dit reeds ’n resep vir ’n meertalige kind en gee jy jou kind ’n ongelooflike geskenk.”
Sy is ook van mening dat ouers nie hul huistaal moet verander na die taal wat by die skool aangebied word nie.
“Jy doen meer skade as goed as jy die skool se taal by die huis vestig. ’n Kind het die vermoë om konsepte in ’n ander taal vinniger aan te leer as hy sy moedertaal magtig is. ’n Mens moet nie die kind se brein onderskat nie. Dit is ’n magtige orgaan.”
Volgens Tertia kan jy ’n ritueel vir jou kind skep om ’n liefde vir sy moedertaal te ontwikkel.
“Net soos om ’n ritueel en ’n skedule te hê om byvoorbeeld op Vrydagaande bordspeletjies te speel, kan daar ’n roetine geskep word rondom taal om dit te vestig.”
Volgens Christien kan dit gedoen word deur ’n kind se moedertaal interessant en pret te maak.
“Kies ’n boek wat almal gaan laat lag. Daar is ’n groot verskeidenheid boeke en jou kind sal een kry wat hy of sy geniet. Seuntjies hou byvoorbeeld van grappieboeke. Laat hy uit dit lees en lag saam. Daardie terugvoer wat hy kry, gaan hom soos die man van die oomblik laat voel.”
Sy sê dit is ook belangrik om jou kind se skermtyd te beperk.
“Kry alleentyd met jou kind. Lees vir hom. Kinders wat beperkte skermtyd het, slaap beter en presteer beter op skool.”
Tertia meen ook dat ’n meertalige kind nie net beter presteer nie, maar ook ’n beter selfbeeld het.
“’n Meertalige kind en ’n kind wat in sy moedertaal grootword, ken sy plek in die wêreld. Hy het ’n sin van geborgenheid.”
Volgens Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV, is dit belangrik vir die organisasie om meertaligheid te bevorder.
“Dit is vir ons as organisasie ’n riem onder die hart. Ons wil poog om ’n verskil in kinders se lewens te maak en te verseker dat elke kind ’n liefde vir sy moedertaal koester.”
Die geleentheid is ondersteun deur LAPA/Penguin Random House, Protea Boekhuis en Curious Readers, almal rolspelers wat lees in die moedertaal ook hoog op prys stel. Benewens ’n boekstalletjie wat groot aftrek gekry het, is ’n paar gelukkige lede van die gehoor ook bederf het met Afrikaanse leesstof. Christien Neser het ook goedgunstiglik van haar eie boeke geskenk om ouers verder met vaardighede te bemagtig.
Elke gehoorlid is huis toe met een van die baie gewilde Tippie-leesboeke. Só kon die gaste wat die gesprek bygewoon het die paneel se belangrike raad oor voorlees prakties by die huis gaan toepas – nie net om ’n liefde vir lees vanaf ’n jong ouderdom te kweek nie, maar ook om skermtyd in te perk en die moedertaal te koester en ontwikkel.