Kwilters wys wat in hulle steek by werkswinkel
Minnie Cupido, ondervoorsitter van die ATKV-tak Vuur en Vlam, het onlangs stekie vir stekie ’n liefde vir kwilt en naaldwerk ontdek tydens ’n kwiltwerkswinkel vir ’n groep vroue uit die gemeenskap. Sy en die vroue is veral opgewonde omdat hulle nou ’n nuwe vaardigheid het waarmee hulle ander kan bemagtig. Volgens Minnie het sy nog altyd ’n begeerte gehad om haar eie kwilt te maak, maar altyd gedink dit is te ingewikkeld.
Toe Elize Fortuin, ATKV-streeksbestuurder van die Skiereiland, haar nooi om aan te sluit by die werkswinkel, het Minnie nie op haar laat wag nie. Elize het die geleentheid aangebied as deel van haar streeksprojek, wat vroue bemagtig deur naaldwerk waaruit hulle ’n inkomste kan verdien.
Meesterkwilter, Nola Dudley, het die eerste werkswinkel aangebied en Minnie was een van die eerste vroue wat deelgeneem het. Minnie sê sy het van kleins af ’n liefde vir lap gehad en altyd poprokkies gemaak as kind. By die kwiltkursus het sy gou besef dat die woorde van Nola Dudley, “measure twice, cut once”, hulle maatstaf gaan wees by kwiltwerk. “Dit verg geduld, presisie en uithouvermoë, maar die eindproduk is beslis die moeite werd. Die gevoel is onbeskryflik wanneer jy jou eerste kwilt voltooi het,” sê Minnie. Wat haar prestasie so besonders maak, is dat sy nou die geleentheid het om weer ander vroue op te lei.
Thelma William (71), die oudste vrou in die groep, het gesê dat haar lewe onherroeplik verander het. Sy het nooit kon droom dat sy haar eie kwilt van begin tot einde sou kon maak nie. Sy is die ATKV innig dankbaar dat sy deel kon wees van hierdie projek. Thelma het gesê sy is verskriklik trots op haarself om op so ’n hoë ouderdom so iets te kan regkry en dat dit die begin van nog meer sulke projekte sal wees.
Nóg ’n kwilter, Elaine Hopley, het volgens Elize gesê dat sy nooit weer met dieselfde oë na ’n lappie sal kyk nie. By hierdie klas het sy geleer dat jy met ’n klein stukkie lap ’n kunswerk kan skep wat ook ’n erfstuk kan word.
Sluit aan by die ATKV en #weesdieverskil. Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.