‘Laaste kans’ gee vars blik op geliefde karakters
“Ek dink die generation gap is nog groter as die gender gap,” skryf Marita van der Vyver in Laaste kans. Hoewel die sin nou hier uit konteks aangehaal word, is dit ’n belangrike tema in die boek. Die karakters, wat ons in Wegkomkans leer ken het en met wie ons al meer as twee dekades lank bevriend is, se kinders is nou groot, en die kleinkinders is besig om meer te word.
Lesers wou weet wat van die groep vriende geword het. Hoe gaan dit nou met hulle? Wat doen hulle nou? Watter huwelike en verhoudings het oorleef? Die boek was so ikonies dat lesers eenvoudig nie wou afskeid neem nie.
Juis om hierdie rede was die skrywer moontlik gekonfronteer deur ’n dilemma met die skryf van Laaste kans. Om die karakters, wat nou al ’n goeie stuk verby hul middeljare is, realisties te hou, moes die leser kon sien hoe hulle as mense gegroei het in die laaste dekade of twee. Om hulle weer met dieselfde intriges te konfronteer as in hul dertigs en veertigs sou eenvoudig nie werk nie; dit sou bloot onwaarskynlike herhalings wees van dinge wat reeds gebeur het. Dis moontlik om dié rede dat die verhaal meer karaktergedrewe raak, en die leser insig kry in hoe hulle ouer en wyser geword het – en selfs minder rook en drink en gesonder eet.
Die kinders en kleinkinders tree ook op die voorgrond, en daar word baie klem geplaas op hulle verhoudings met mekaar en met die “ou mense”. Soos in die regte wêreld, is die generasiegaping onder die loep, maar dis ’n gaping wat anders lyk as ooit tevore. Vorige generasies se konflik oor modes en musiek, lang hare en tatoes is nou irrelevant, maar daar is ander uitdagings. Die ouer mense sukkel soms om aan te pas in ’n wêreld waarin ’n mens niebinêr kan wees in alles behalwe wokeness.
Wat interessant is, is dat die fokus nie net op verskille nie, maar ook baie op die raakpunte tussen generasies val, en dat een karakter selfs opmerk, “Mens kan maar altyd na die millennials luister … Hulle kies hulle eie identiteit.”
Maar dan ook: “Om oud en dankbaar te voel, is ook nie te versmaai nie.”
Die impak van die hedendaagse verskynsel van almal wat kinders, familie of vriende in die buiteland het, word ook ondersoek. Ander temas is geestesgesondheid, ouderdom en die sirkels van die lewe.
Laaste kans is in wese ’n verhaal oor verhoudings en mense wat reeds hul pad gevind het en ander wat hul pad probeer vind in ’n wêreld wat anders lyk as voorheen.
Resensent: Analize Viljoen