Laat Afrikaans groei soos bome, sê ATKV-tak
Buig die boompie terwyl hy nog jonk is, lui die gesegde. En dit is onder andere wat die ATKV-tak Newcastle wou doen met hul boomplantprojek by twee Afrikaanse skole in die dorp. Die tak het deur ’n spesiale boomplantdag die saadjie by leerders geplant om Afrikaans te laat groei.
Shane Noble, taklid, sê hulle was ná die ATKV-byeenkoms in Klein Kariba opnuut begeesterd om meer betrokke te raak in die plaaslike gemeenskap. “Ons fokus is die voortbestaan van die Afrikaanse taal en kultuur en ons het besluit om twee van ons Afrikaanse skole te nader met die versoek dat ons bome op hulle skoolgronde kan plant,” sê Shane. Die tak het ses bome by Drakensberg Senior Primêr en ses by Amajuba Skool geplant.
Shane sê, “Die boodskap wat aan die leerlinge oorgedra is met die bome plant was die volgende: soos die kinders hierdie bome sien groei, wil ons graag hê hulle moet die Afrikaanse taal en kultuur laat groei en vorder in hul gemeenskappe.”
Leerders is aangemoedig om by die ATKV betrokke te raak. Daar is ook met die skole gereël dat die bestuur van die Newcastle-tak ’n amptelike aanbieding vir leerders, onderwysers en ouers sal doen. Dit sal in die eerste kwartaal van 2023 plaasvind.
Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.