Leerders se spelling getoets met takkompetisie
Die vermoë om korrek te spel is dwarsdeur ’n mens se lewe ’n belangrike basiese vaardigheid. As jy sukkel om te spel, benadeel dit nie net jou skoolwerk nie, maar jou kanse om later ’n werk te kry, ly ook daaronder. Verbeel jou jy is ’n werkgewer en ontvang ’n voornemende werknemer se dekbrief en CV, maar dit krioel van die spel- en taalfoute. Al het Janneman die gepaste ondervinding en kwalifikasie, sal jy, as werkgewer, maar liewer verby hou.
Om kinders weer van die belangrikheid van korrekte spelling en goeie grammatika bewus te maak, het die ATKV-tak Ennerdale Baanbrekers ’n spelkompetisie vir graad 4- tot graad 6-leerders van die laerskole Mid-Ennerdale Primêr en Saint George Primêre Skool aangebied.
Ses leerders per graad het mekaar die stryd aangesê om as die beste speller gekroon te word. “Ek was baie beïndruk met die kinders se spelvermoëns,” sê Donovan Koopman, takvoorsitter.
Wenners in die verskillende grade het elk met ’n trofee en ATKV-deelnamesertifikaat weggestap.
“Dit was ’n suksesvolle projek en ons sal beslis weer volgende jaar ’n spelkompetisie aanbied. Die kinders het dit werklik geniet!” sê Donovan.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Ennerdale Baanbrekers, kontak Donovan Koopman by 084 553 0834 of stuur ’n e-pos na enzokoo6@gmail.com. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.