Lees hardop en maak jou kind ’n slimkop
Tweejariges is besige outjies, oulik en vinnige leerders, maar het jy geweet hul brein is al net so aktief soos joune? Teen die ouderdom van drie is kleuters se breine dubbeld so aktief soos joune en dit bly so vir die eerste tien jaar van hul lewens. Dit is waarom hulle soos sponse is – gretig om te leer en om alles te herhaal wat jy sê. Dit is iets wat ’n mens vinnig uitvind as jy ’n woord sê wat hulle nie eintlik moet herhaal nie …
Kinders se kognitiewe prosesse ontwikkel dus ongelooflik vinnig in die eerste paar jaar van hul lewe en dis waarom dit so belangrik is om vir jou kind te lees. Die grondslag vir lees begin nie in graad R of in graad 1 nie, dit begin by hoe jy met jou baba praat en daardie eerste storie of rympie wat jy hardop vir hom of haar lees. Die saadjie vir lewenslange lees word gekweek met die lees van stories vir jou baba, kleuter en kind.
Die skrywer en spelterapeut Christien Neser sê ouers is die primêre bepalers van kinders se leesvermoë. “Kinders wat van babatyd af aan boeke blootgestel word, het ’n baie goeie kans om uitstekende lesers te word. Betrek jou kinders by die lesery deur vrae te vra, dinge uit te wys en hulle toe te laat om medevertellers te raak.”
Daar is al etlike kere bevind hoe belangrik lees vir ’n kind se akademiese sukses is. Ywerige lesers vaar bloot beter op skool as diegene wat nie lees nie.
Boeke bevat volgens navorsers 50% meer woorde as wat kinders in gesprekke, TV of radio hoor. Hulle word dus deur lees aan ’n woordeskat blootgestel, wat hulle nie andersins sou leer nie. En daarom is dit so belangrik om van kleins af vir jou kind hardop te lees.
Waarom is daar ’n dag soos Wêreld-hardopleesdag?
Die organisasie LitWorld het reeds in 2010 met dié dag begin om mense bewus te maak van hoe belangrik dit is om hardop te lees en die vreugde van lees te vier. Die doel is ook om te wys dat geletterdheid ’n mensereg is. Vandag word die beweging deur miljoene lesers, skrywers en luisteraars in meer as 170 lande gevier. Hoe kan ons die dag vier? Lees vir jou kinders ’n storie hardop of lees sommer vir jouself ’n storie hardop en vertel vir ander mense van die dag. Probeer om jou liefde vir lees met ander te deel. Bederf jouself met ’n nuwe boek of tydskrif, of skenk jou oues aan mense of organisasies.
Kweek ’n liefde vir lees by jou kinders
- Begin van kleins af om vir Baba stories voor te lees.
- Sodra Baba kan sit, kan hy of sy lekker op Pa en Ma se skoot sit en babavriendelike boekies deurblaai. Gesels oor wat julle sien.
- As jy stories voorlees, hou dit opwindend deur jou stemtoon en gesigsuitdrukkings te verander en saam met jou kleinding opgewonde oor die storie te raak.
- Gesels met jou kleinste oor wat julle op die blaaie sien en verduidelik die illustrasies.
- Rympieboeke is vet pret en vir ouer en kind lekker om saam te geniet. Koop een en lees dit hardop vir jou kinders voor.
- As ons ’n storie voorlees en saam in ’n boek kyk, is daar verskillende sintuie betrokke. As jy die tassintuig deel daarvan kan maak, is dit nog beter. ’n Storie oor ’n dinosourus kan verder ingekleur word deur ’n dinosourus-speelding deel van die storie te maak.
- Maak lees voor slaaptyd deel van ’n vaste roetine. Roetine laat kinders gekoesterd voel en dis ’n tradisie wat hulle dalk nog na die volgende geslag kan oordra.
- Ons leef in ’n tegnologiese era en daar is ook toeps met oulike stories wat die hele proses interaktief kan maak. Lees saam hardop ’n storie op ’n toep.
- Kyk of daar ’n boekwinkel of biblioteek in jou omgewing is wat voorleesoggende het.
- Motiveer jou kind se juffrou of dagmoeder om stories vir die klassie voor te lees deur ’n boek saam te stuur.
- Lees jou gunstelingsprokie vir jou kind voor.
- Selfs as jou kind groter is, kan julle saam hardop lees en jy kan só jou kind help met die uitspraak van woorde.
- Maak beurte om stukkies te lees en help jou kinders sagkens reg sodat hulle nie skrikkerig is om hardop te lees nie.
- As jou ouer kind nie in ’n boek belangstel nie, soek saam na ’n boek wat wel sy of haar belangstelling prikkel. Lees dit saam hardop voor.
- Julle kan ook ná die tyd oor dit wat julle gelees het, gesels en jy kan vrae vra. Moet dit egter nie van só ’n aard maak dat jou kind daarteen opsien nie. Lees moet pret wees.
- Neem jou kinders biblioteek of na ’n boekwinkel toe sodat hulle self ’n boek kan kies. Gesels oor die verskillende genres en probeer bepaal wat jou kind sal trek.
- Jy hoef nie net boeke te lees nie, lees vir jou kinders interessante brokkies uit koerante, tydskrifte of webwerwe.
Vind meer uit by www.litworld.org
Bronne: www.iteracyproj.org, www.litworld.org, www.christienneser.com