Leesreus-projek laat leeslus vlamvat

Lees is een van die belangrikste vaardighede wat ’n kind kan ontwikkel. Dit verryk nie net hul taalvaardigheid nie, maar stimuleer ook verbeelding, kritiese denke en selfs empatie.
Maar hoe op aarde kry jy jongmense sover om ’n boek uit te neem, dit van hoek tot kant deur te lees, daaroor te dink, te besluit of hulle dit geniet het en selfs aan te beveel vir ander? Willie van Jaarsveld, takvoog van die ATKV-jeugtak Zebras en Afrikaanse onderwyser by Hoërskool Paul Erasmus op Senekal, het ’n slim plan bewimpel – en dit werk!
Hy vertel: “Om leerders aan te moedig om meer te lees, het ons ’n opwindende nuwe projek by die skool bekendgestel: Leesreus van die kwartaal. Die idee is eenvoudig, maar kragtig – kies ’n boek uit die mini-biblioteek in my klaskamer. Daar is ’n verskeidenheid boeke wat leerders kan uitneem.
“Nadat hulle die boek gelees het, moet hulle ’n kort boekresensie skryf. Die formaat van die resensie is by my beskikbaar.”
Die resensie sal onder andere die volgende bevat: die titel en outeur van die boek; ’n kort opsomming van die storie (sonder om te veel te verklap); waarvan hulle gehou het en hoekom; en of hulle dit vir ander sou aanbeveel.
Die resensies word by Willie ingehandig en word beoordeel op eerlikheid, kreatiwiteit en insig.
Aan die einde van elke kwartaal word die Leesreus aangewys. Die wenner ontvang ’n ATKV-sertifikaat as erkenning vir hul leesprestasie en ’n lapelknopie wat wys dat hulle die Leesreus is.
Willie sê die idee het ontstaan toe hy eerstehands ervaar het hoe swak ons kinders lees en spel.
“Vandag se kinders (meestal tieners) is nie lief vir lees nie, want hulle selfone is mos belangriker. Ek gee Afrikaans en was regtig geskok om te sien hoe swak die leerders se spelling is. Ek glo dat hoe meer jy lees, hoe meer woordeskat kry jy en hoe meer verbeter jou spelling ook.”
Hy vertel dat die mini-biblioteek ’n voortsetting van ’n bestaande boekrak was.
“Ek het so twee jaar gelede in dié klas ingetrek. Hier was ’n kas met stokou boeke soos Trompie, Saartjie, Die Uile en nog vele ander. Ek het besluit om die boeke wat regtig baie oud is, uit te gooi en baie van my eie boeke wat ek by my huis gehad het, klas toe geneem.”
Die skool het nie sy eie biblioteek nie en daarom het Willie besluit om sy versameling boeke ’n mini-biblioteek te noem. Op 8 Mei 2025, die amptelike 100ste herdenking van Afrikaans as amptelike landstaal, het die skool ’n idiomedag gehou.
“Ons het gevra dat die leerders boeke moet skenk of R10 betaal om soos ’n idioom aan te trek. Ons plaaslike primêre skool het ook deelgeneem en R500 vir ons ingesamel. Ons het ook R500 ingesamel en ek kon toe 14 splinternuwe boeke aankoop,” vertel hy.
“Daar is altyd ’n behoefte aan nuwe boeke – veral hedendaagse tienerboeke. Omdat boeke so duur is, kan ons dit nie altyd bekostig om nuwe boeke te koop nie. Skenkings is natuurlik altyd welkom. Die jeugsorgsentrum het ook reeds ’n boks boeke geskenk, waaroor ons baie dankbaar is.”
Die projek fokus op Afrikaanse boeke, maar Willie wil met sy kollegas wat Engels onderrig gesels oor die moontlikheid om dit ook daar te loods – of, indien daar ruimte beskikbaar is, ’n gesamentlike biblioteek vir beide groepe in te rig.
Willie sê die projek maak lees weer pret vir jongmense.
“Leerders kan boeke kies wat hulle interesseer en wat lees minder van ’n taak en meer van ’n avontuur maak. Dit bou taalvaardigheid. Deur resensies te skryf, oefen leerders hul skryfvaardighede en leer om krities te dink.
“Dit skep uiteindelik ’n leeskultuur. Wanneer leerders sien dat ander boeke geniet en beloon word, word hulle ook aangemoedig om deel te neem.”
Willie sê Hoërskool Paul Erasmus is ’n klein skool met min Afrikaanse kinders. Tans neem net ’n handjievol kinders deel en dis maar eers in die afgelope tweede kwartaal geloods – die projek is nog in sy babaskoene.
“Ons moedig kinders aan om meer as een boek per kwartaal te lees: hoe meer, hoe beter! Die kinders is natuurlik baie entoesiasties en kan nie wag om die nuwe boeke uit te neem nie. Ek beplan ook om hierdie projek na die primêre skool te neem en hulle ook deel hiervan te maak.”
Willie sluit af met die gedagte: “Die Leesreus van die kwartaal is meer as net ’n kompetisie – dit is ’n manier om leerders te inspireer om die wêreld van boeke te ontdek. Ons hoop om ’n generasie te kweek met leeslus wat hulle lewenslank sal bybly en ons hoop om ander jeugtakke te inspireer om hul eie Leesreus-kompetisie in hul skole van stapel te stuur.”
Willie sê hierdie is ’n aaneenlopende projek wat nie teen die einde van die skooljaar afgesluit gaan word nie.