Lof vir woordmeesters

Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord.
In die kategorie Prys vir Spanningslektuur, een van die vinnig groeiendste en gewildste genres in Afrikaans, was die beoordelaars Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen.
Vanjaar se wenner van die Prys vir Spanningslektuur is Al wat tel deur Irma Venter, uitgegee deur Tafelberg.
Die beoordelaars sê Al wat tel is ’n boeiende storie oor relevante, aktuele onderwerpe soos geldwassery, korrupte politici, polisielede en tenderpreneurs.
Die nuwemedialandskap word ook insiggewend en geloofwaardig verweef met die aksie. Die groei van die karakters maak hulle geloofwaardig en mense van vlees en bloed met wie jy kan identifiseer. ’n Goeie spanningslyn word ook deurentyd gehandhaaf.
Die ATKV se Prys vir Niefiksie word jaarliks toegeken aan die beste lesergerigte niefiksiepublikasie. Vanjaar se beoordelaarspaneel het bestaan uit Lindie Koorts, Jean Meiring en Bettina Wyngaard.
Amma deur Charmaine Africa, uitgegee deur Tafelberg wen vanjaar hierdie prys.
Die beoordeelaars beskryf Amma as ’n buitengewone, boeiende en roerende boek. Dit lyk bedrieglik eenvoudig: Die herinneringe van ’n bruin kind en haar gesin in Bishop Lavis tydens die apartheidsjare. Die krag en die moeilikheidsgraad lê juis in die boek se eenvoud. Die narratief is gestroop, niks is oorbodig nie, en subtiel lei Africa die leser om, aan die hand van ’n veronderstelde “klein” storie, ’n veel groter patroon raak te sien: eers deur die oë van ’n jong kind, dan ’n tienermeisie en uiteindelik ’n jong ma.
Die vertellerstem ontwikkel deurgaans, saam met die betrokke lewensfase, in ’n klokhelder Kaaps. Die gebruik van Kaaps verleen ’n egtheid aan die verhaal wat andersins verlore sou wees. Africa skryf twee wêrelde oop: Die wêreld van Kaaps as taal, en die wêreld van die Kaapse Vlakte. Sy probeer nie preek nie, maar laat haar narratief die praatwerk doen. Dit getuig van uitsonderlike skryfvernuf.
Die ATKV-Prosaprys is een van die oudste en mees gerespekteerde letterkundepryse in Afrikaans. Dit word reeds sedert 1984 toegeken aan die skrywer van die beste gewilde prosa wat in die voorafgaande jaar verskyn het.Vanjaar se beoordelaars vir die ATKV-Prosaprys was Marni Bonthuys, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe.
Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach, uitgegee deur Human & Rousseau, is in hierdie kategorie die wenner.
Winterbach se Onrus op Steynshoop verbeeld met humor die huidige Suid-Afrikaanse konteks, meen die beoordelaars. Hulle sê die boek is ’n uiters skerp stuk skryfwerk van ’n skrywer wat seker is van die storie wat sy vertel. Voorts beskik Winterbach oor die vaardigheid om kleindorpse intriges en karakters tot ’n roman om te skep. Sy roer ernstige temas soos xenofobie aan, asook die verval van infrastruktuur in die platteland. Die motief van skepping en kunstenaarskap word op ’n interessante, selfrefleksiewe wyse deur die teks geweef.
Die karakters het hul eie stemme en hoewel perspektiefwisseling in die teks gebruik word, is die leser nooit verlore ten opsigte van wie fokaliseer nie, omdat karakters so oortuigend geskets word. Die ruimte van Steynshoop is voorts baie herkenbaar vir enige Suid-Afrikaner, hoewel Winterbach met haar kenmerkende aweregse styl dit ook regkry om die bekende “vreemd” te maak. Die boek is van meet af aan snaaks, melancholies en oneerbiedig.
Hartlik geluk aan al die wenners van vanjaar se ATKV-Woordveertjies! Dit is vir die ATKV ’n voorreg om Afrikaans se woordmeesters op hierdie manier te vereer.