Loslitdag se sukses

Die ATKV-takke het dié jaar hande gevat om te verseker dat die verkoop van plakkers vir Loslitdag, wat op 2 September gevier word, ’n reuse-sukses was. Die takke het ’n allamintige 1065 plakkers verkoop, wat beteken dat R21 300 op dié manier ingesamel is.
Die ATKV-tak Vereeniging het gesorg vir die meeste verkope en het tydens die Kultuurkuier (16-18 Augustus) by ATKV-Klein-Kariba R3 500 ontvang om terug te ploeg in projekte in die tak se plaaslike gemeenskap. Frik Roets, voorsitter van die Vereeniging-tak, sê onder taklede en met behulp van Laerskool Risiville en Hoërskool Overvaal is 250 plakkers verkoop. “Ons het ook 220 plakkers aan behoeftige skole geskenk sodat hulle kinders wat dit nie kan bekostig nie, deel van die dag kan wees,” sê Frik.
Loslitdag word sedert 1995 jaarliks op die eerste Vrydag van September gevier. Dié jaar het die ATKV en die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede (NRPG) kragte saamgesnoer om ’n verskil te maak en alle ATKV-takke uitgedaag om soveel moontlik plakkers te verkoop.
Elda Kruger, bestuurder: ATKV takke, sê: “Ons het dit goed gedink om hande te vat met die NRPG en saam as ATKV-takke regoor die land, in vennootskap met die NRPG, ’n wesenlike verskil in mense se lewens te maak. Die takke is die ATKV se hande, voete en hartklop in gemeenskappe.” Elda het bygevoeg dat die ATKV baie opgewonde is dat takke binne ’n week 1065 plakkers verkoop het! Dit spreek net weereens boekdele oor die ATKV-takke se bereidwilligheid om altyd in te spring en ’n goeie doel te ondersteun. Daar heers ’n ongelooflike kultuur van doen wat eie is aan die ATKV-takke, en taklede is deurlopend die agente van hoop in hierdie mooie land van ons – en watter beter manier as om deur middel van vennootskappe ʼn groter impak te maak.
Die plakkers is teen R20 elk verkoop, waarvan die ATKV R8 terugkry. “Ons het besluit om die totale bedrag van al die R8’e aan die NRPG terug te gee,” sê Elda.
Die ATKV kondig dus met trots aan dat ’n bedrag van R29 820 aan die NRPG oorbetaal word.
Alhoewel die uitdaging om die meeste plakkers te verkoop nou verby is, daag ons steeds ons ATKV-lede uit om plakkers te koop, en op Loslitdag vir ons foto’s te stuur van hul uitrustings en plakkers en hoe hul saam met die ATKV en NRPG Loslitdag ondersteun.