Loxion Mobile Library se storie spreek boekdele
Die Franse skrywer Marcel Proust het ’n eeu of wat gelede gesê dat die ware ontdekkingstog nie daarin lê om nuwe horisonne te sien nie, maar om nuwe oë te hê. In Suid-Afrika, ’n land vol stories, is daar een verhaal wat so ver van 19de-eeuse Parys verwyder is as wat dit na is aan ’n kaliber hoop wat nooit ooit beskaam nie.
Dit is die storie van ’n jongman van Khayelitsha, wat ’n mens vermoed met nuwe oë gebore is.
Die 23-jarige Litha Sam-sam het vanjaar die ATKV se leesbevorderingstoekenning ingepalm vir sy werk met die Loxion Mobile Library, ’n kinderbiblioteek wat hy midde-in die Covid-pandemie in Vrygrond, een van die armste dele van die Kaapse vlakte, begin het. Toe Litha sy Loxion-biblioteek se deure oopmaak, was daar slegs vier boeke. Danksy skenkings is daar nou meer as 250.
En tussenin lê ’n wonderverhaal wat nog ver van klaar is.
Lithia en Loxion: ’n Storie in twee dele
Eintlik is Litha se storie twee stories; sy verhaal verweef met sy biblioteek se storie. Dit is egter nie ’n sprokie wat afspeel in ’n verafgeleë koninkryk met ’n koning, koningin en prins in ’n kasteel nie. Litha se eie storie het 23 jaar gelede begin in Khayelitsha – ’n township wat baie sou beleef het as ’n katastrofe, maar wat hy beskryf as “’n verstommende en energieke, skeppende omgewing”.
Nie dat dit beteken het sy lewe was ’n lied nie. “As kind was ek eensaam, want ander kinders het my geterg omdat my ouers vleis soos skaaplewer en ingewande verkoop het. Dit is as armmanskos gesien,” vertel hy.
Die tergery het hom skugter gemaak, maar sy sosiale selfvertroue het ’n hupstoot gekry toe hy op 10-jarige ouderdom by ’n tradisionele gemeenskapsdansgroep aansluit. Terwyl die danstroep vir Litha vlerke gegee het, was sy ouers sy ankers. “Ek en my pa het feitlik elke oggend vroeg opgestaan om te gaan draf en soms plante in ’n woud naby ons huis bymekaar gemaak, en dan het hy vir my stories van sy kinderdae vertel,” sê hy.
Sy lewenslesse en toekomsvisie spruit egter uit meer as kosbare gedeelde vader-seun-oomblikke. Omdat sy ma en pa besigheidsgeoriënteerd was, het besigheid hom vroeg reeds gefassineer en kort voor lank het hy sy staal as kinderentrepreneur gewys deur in graad 7 eiertoebroodjies te verkoop om geld vir ’n skooluitstappie in te samel.
Sy ouers, sê hy, was sy grootste rolmodelle. “Ek het gesien hoe hulle ons sonder enige gewaarborgde bron van inkomste grootgemaak het en wat hulle alles opgeoffer het sodat ons ’n beter lewe as hulle kon hê,” verduidelik hy.
Buiten sy besigheidsbelangstelling was Litha van kindsbeen af passievol oor lees en opvoeding. Met dié het hy ’n jaar of 10 se lees, leef en leer later ’n internskap by Youth at Work gekry, waar hy kinders met geletterdheids- en syferprobleme gehelp het. Toe die Covid-pandemie toeslaan, is alle aktiwiteite gestaak, maar ’n nuwe uitdaging het begin.
“Ons bestuurder, Erica Kempen, het daarop aangedring dat ons vrywilligerswerk by plaaslike gemeenskapsorganisasies doen,” vertel Litha. “My keuse was Where Rainbows Meet, ’n voedselhulporganisasie waar ek alles moes doen van kos opskep tot skottelgoed was.”
Dit was juis by die opskeptafel waar ’n groep kinders vir hom vertel het hoe hulle sedert die pandemie met skoolwerk sukkel, veral gegewe die koste van data en die feit dat die meeste ouers werkloos is. “Ek kon nie rus nie; ek het bly dink hoe en waar ek ’n oplossing kon kry,” sê hy.
Maande later het die oplossing as’t ware na Litha toe gevlieg. “Een nag het ek gedroom van ’n boekmasjien wat uit die buitenste ruim land en kinders wat saamdrom om na stories te luister, liedjies te sing en opvoedkundige speletjies te speel,” vertel hy. Litha het nie die geld gehad om sy droom te verwesenlik nie, maar danksy sy Shine Literacy Hour-agtergrond het hy toestemming gekry om by ’n plaaslike kleuterskool vrywilligerswerk te doen en speelgronde vir storiesessies te besoek. Kinders sowel as onderwysers was dol oor die inisiatief. Toe hulle vir Litha vra om meer dikwels te kom kuier, het hy en ’n paar helpers begin plakkate uitdeel wat die publiek uitnooi om boeke, skryfbehoeftes, lêers en boekrakke te skenk.
Momentum, makietie en die dag van môre
Terwyl die wete van die verskil wat die biblioteek maak hom elke oggend vroeg uit die vere kry, was die ATKV-toekenning ’n hoogtepunt wat hy nie sommer sal vergeet nie (al het hy eers gedink dat iemand ’n grap met hom maak). Hy was egter nie die enigste een met nuwe momentum nie. Die hele Vrygrond-gemeenskap het makietie gehou.
Op 7 Oktober het Litha en sy span die toekenning vir die gemeenskap gaan wys. Sowat 300 kinders het by ’n plaaslike speelgrond saamgekom en daar is behoorlik feesgevier – met alles van ’n besoek van die plaaslike polisie en brandweer en ’n vreedsame staptog deur die buurt tot ’n uithaleruitvoering deur plaaslike musiektalent. Aan die einde van die verrigtinge het elke kind ’n partypakkie met ’n boek, lekkergoed en aanvullings gekry. “Ons het dit gedoen om hulde aan ons gemeenskap te bring en hulle te motiveer,” verduidelik Litha.
Litha rus egter nie op sy louere nie. Terwyl die bibioteek bly groei, begin hy om in 2024 met sy hoër diploma in vroeëkinderontwikkeling by die Centre for Creative Education in Plumstead.
Vir alles wat was, is en nog kom, bring Litha Sam-sam, die groot gees agter ’n klein biblioteek, nie net hulde aan sy gemeenskap, sy span en sy ouers nie, maar ook aan ’n Hoër Hand. “Ek is so dankbaar dat God my die geleentheid gegee het om my droom uit te leef; om in staat te wees om iets terug te gee vir my gemeenskap,” sê hy.
Meer inligting oor die Loxion Mobile Library
Die WAT en WAAR
Die biblioteek werk saam met vyf kleuterskole in en om Vrygrond en bied ook geletterdheidsopleiding aan onderwysers.
VIR WIE en HOEKOM
Die biblioteek fokus op kinders in die gemeenskap van drie tot 13 jaar oud, met die doel om hul geestesgesondheid en welstand te bevorder, hul woordeskat, geletterdheid en lewensvaardighede te verbeter en ’n liefde vir lees te kweek.
Die HOE
Die biblioteek bedien maandeliks meer as 300 kinders en besoek die 150 kleuters van die kleuterskole een keer ’n week. ’n Hoogtepunt op die program is ’n biblioteekdag waartydens die kinders die biblioteek kan besoek om te lees, deel te neem aan geletterdheidsaktiwiteite en om speletjies te speel. Al dié dienste is gratis.
HOE DIE PUBLIEK KAN HELP
Litha sê die biblioteek is niks sonder die ondersteuning en terugvoering van die publiek nie. Daarom vra hy dat hulle die inisiatief sal bly ondersteun en op sosiale media hul aktiwiteite volg. “Mense hoef nie geld te skenk nie; hulle kan ook hul vaardighede aanbied,” verduidelik hy.
LOXION SE LEES-WENSLYSIE:
- Engelse, Afrikaanse en isiXhosa boeke vir kinders van drie tot 13 jaar oud.
- Vrywilligers, insluitend ’n rekenmeester en ’n menslike-hulpbronne- en admin-persoon.
- Boekrakke
- Skryfbehoeftes
LITHA SE DRIE GROOT WENSE
- Om veeltalige kinderboeke te publiseer.
- Befondsing om ’n boekmasjen te skep wat speelgronde en gemeenskapskunssentrums besoek.
- Die geleentheid om oorsee saam met ander jongmense in die geletterdheidsbedryf navorsing te doen oor lees vir betekenis en hoe om mobiele gemeenskapsbiblioteke te bestuur.
Om ’n bydrae te lewer tot hierdie inspirerende projek, stuur asseblief ’n e-pos na loxionmobilelibrary@gmail.com of kontak vir Litha by 060 463 6496.