Lui die lente met Loslitdag in!
Die lente bring hoop en ’n huppel in die stap – iets wat altyd welkom is ná die winter se koue skouer. Oudergewoonte gee die ATKV Suid-Afrikaners weer veel meer om oor te glimlag as net die warmer weer wat nou reeds fluks in aantog is.
Vrydag is dit sulke tyd: Ons land se vrolikste seisoen skop amptelik af. Die ATKV is gereed en opgewonde om weereens nasionaal die pas aan te gee, die litte los te maak en breed te glimlag op Lentedag op 1 September.
Alle lede en begerige meelopers word genooi om Loslitdag saam met ’n ATKV-tak te vier. Vanjaar vat die ATKV-takke weer hande met ’n niewinsgewende organisasie wat gestremdes se saak en regte bevorder.
Vanjaar se gevatte en broodnodige Loslitdag-tema vir die heersende taai tye is “Deel ’n glimlag” – nommerpas en die perfekte pasmaat vir ons nasiebouproses.
Die ATKV is lank reeds ’n ywerige deelnemer aan die nasionale Loslitdag-vieringe en sal vanjaar boonop ’n vrolike, nuwe tema omarm – een wat fokus op gemeenskap, omgewing en verbintenis, verklap Elda Kruger, bestuurder van die ATKV-takke.
“As deel van die leuse, ‘Die ankers om te floreer’, het die ATKV en die Nasionale Raad van en vir Mense met Gestremdhede (NCPD) hande gevat om geld in te samel vir gestremdes deur middel van sy jaarlikse Loslitdag-bewusmakingsveldtog,” sê sy.
Die NCPD is ’n erkende en toegewyde niewinsgewende organisasie wat ’n deurlopende en groot verskil maak in die lewens van mense met gestremdhede, juis met winste uit relevante projekte soos Loslitdag.
“Een van die opwindende nuwe dinge rondom Loslitdag 2023 is die opsie om virtuele plakkers aanlyn te koop. Elke ATKV-tak regoor die land het ’n eie, unieke URL vir die aankoop daarvan. Op 1 September sal die tak wat die meeste plakkers verkoop het, aangekondig word.
“Die wentak sal R2 000 as aansporingsprys ontvang. Hierdie geld kan weer gebruik word vir nog en ander gemeenskapsprojekte en -ondersteuning,” verduidelik Kruger.
Sy moedig alle Suid-Afrikaners aan om in die lenteluim deel te neem aan die welwillendheidsprojek deur spoedig van die virtuele plakkers aan te skaf. Die plakkers is boonop bekostigbaar – een kos slegs R20. Dit kan dan ook verder op verskeie sosialemediaplatforms gedeel word om só bewustheid te skep oor en ondersteuning te kweek vir mense met gestremdhede.
Al die donasies uit plakkerverkope sal deur die NCPD gebruik word om kinders met gestremdhede in skole te ondersteun. Sodoende kan die grondwetlike reg op onderwys ook aan hierdie kinders met hulle daaglikse uitdagings gebied word.
Die projek se verbintenis met gemeenskappe en hul omgewings is die dryfveer agter die veldtog. “Deur saam te werk, bou ons ’n beter en meer inklusiewe Suid-Afrika,” aldus Kruger.
Met vanjaar se nuwe benadering van virtuele plakkerverkope en die fokus op gemeenskaplike verbintenisse, beloof Loslitdag 2023 om ’n reusesukses te wees en terselfdertyd ’n positiewe gevolg te bring en ’n waardevolle impak op diegene met gestremdhede te hê, voeg sy by.
Lente is tydige opstaantyd en sommer ook hartlike aanmeldtyd, so ontsnap die koue spoke en bult die lag- en ander spiere. Loslitdag wink!
Vir meer inligting, kontak Elda Kruger gerus by 079 996 5299, of stuur ’n e-pos na EldaK@atkv.org.za.