Magnetiese Tienertoneelfinaliste bekend!

JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV se toneelaanbod, glo dat teater die ongesiene krag is wat mense soos ’n magneet bymekaar bring – ongeag taal, kultuur of herkoms.
Hierdie magneetkrag was vanjaar gelaai met 3 250 tieners wat deelgeneem het aan 200 produksies oor nege landswye streeksfeeste.
“ATKV-Tienertoneel het in sy 61ste bestaansjaar weer gewys hoe sterk die aantrekkingskrag van storievertelling is. Die produksies trek gehore in, hou hulle vas en laat hulle met iets in die hart huis toe gaan. Dit was vanjaar weer merkwaardig hoe inklusief Afrikaans bevorder is deur die samevloei van ander landstale en selfs internasionale tale op ons verhoë. Die passie waarmee leerders wat Afrikaans as hul derde of vyfde taal besig en hul eie gemeenskapstories vertel, is werklik magneties en inspirerend,” sê JJ.
Die slegs-leerders-kategorie, waar jong kunstenaars elke aspek van ’n produksie self bestuur, het vanjaar weer ’n besonder hoë standaard gehandhaaf. Een van hierdie produksies het weer na die nasionale top-agt deurgedring – ’n prestasie wat soos ’n sterk magneet aandag en bewondering aantrek.
Die nasionale magnetiese toneelfinaal vind van 6 tot 11 Oktober in die Pam Golding Baxter-teater in Rondebosch, Kaapstad plaas. Hier kom die topagtproduksies, soos uitgenooi deur die ATKV, bymekaar – elkeen gelaai met kreatiewe energie – om mee te ding om groot pryse:
- Wenproduksie: ATKV-Tienertoneel-wisseltrofee, R30 000 kontant en ’n speelvak by die Toyota Stellenbosch Woordfees.
- Naaswenner: R20 000 kontant
- Derdeplekwenner: R10 000 kontant
Die topagtproduksies wat na die nasionale finaal deurdring, is:
- ANTLER deur die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp
- Grootvoet deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
- JESAJA deur Selborne College in Oos-Londen
- SKANDE (en ’n snytjie brood) deur die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp
- Sonderling en Wisselkind deur die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp
- Vrolike Ferdie en Vriende deur die Hoërskool Zwartkop in Centurion
- Vyf deur die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein
- Wegwêreld slegwêreld deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
Kaartjies vir die nasionale magnetiese toneelfinaal is vanaf Woensdag 10 September op Webtickets beskikbaar.
Hou die ATKV se webwerf en sosialemediablaaie dop vir meer inligting en laat jouself hierdie jaar magneties aantrek na ’n teaterervaring wat jou nie sal los nie.