Martelize Brink met Oorkonde-toekenning vereer
Radiopersoonlikheid, kookboekskrywer en vegter teen gemaksones. Dís Martelize Brink, ’n gebore en getoë Paarliet, in ’n neutedop.
Martelize, wat in 2003 haar honneursgraad in politieke wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, het min bekendstelling nodig. Sy het haar passie vir radio ontdek en geslyp by MFM 92.6, Maties se studenteradiostasie.
In 2004 het sy aangesluit by die RSG-span, waar luisteraars haar aanvanklik leer ken het as aanbieder en vervaardiger van opvoedkundige programme soos Rand en sent en Ons en die onderwys. Maar haar talent is gou raakgesien, en in 2005 sluit sy by die Oggend op RSG-span aan as regisseur en later mede-aanbieder. Deesdae is sy en haar jarelange mede-aanbieder, Johan Rademan, verantwoordelik vir DrieSestig. Deur haar betrokkenheid by verskillende programme – wat ook verskeie dokumentêre programme insluit – het ons die afgelope 18 jaar kennis gemaak met Martelize se baie belangstellings, talle passies en uiteenlopende talente.
Ook by die ATKV is Martelize geen onbekende nie. Sy is al met 11 ATKV-Mediaveertjies bekroon vir haar radiowerk, en stap ook ’n lang pad met die ATKV-Rieldanskompetisie. Deur die jare het sy ook by verskeie ATKV-geleenthede as seremoniemeester opgetree.
Martelize is ’n gewilde motiveringspreker, en wie is meer inspirerend as iemand wat al meer as twintig jaar in ’n rolstoel is, maar nie toelaat dat dit haar lewe aan bande lê nie? Martelize voer ’n oorlog teen gemaksones, wat sy beskryf as ’n “sagte kis”. Daarom probeer sy om mense uit te daag om te groei en die lewe na die beste van hul vermoëns te geniet. Sy het selfs al ten bate van ’n liefdadigheidsprojek vir veelvuldige sklerose na Robbeneiland geroei. Tydens ’n besoek aan Rwanda moes sy berg-op gedra word deur plaaslike inwoners om die wereldberoemde gorillas van die land van naderby te beskou, en ’n ander avontuur het haar na die Namibwoestyn geneem.
Goeie kos en lekker wyn is nog van Martelize se passies. As kind van die potjiekoskoning, Matie Brink, is kos maak in haar bloed. In die voorwoord van haar kookboek lees ons dat sy haar pa se amptelike uieskiller was, en tydens hierdie “loopbaan” waarskynlik sakke en sakke vol uie geskil het. Haar suster, Cheryl-Mari, beskryf Martelize as hul gesin se “kos-dokter”, en sê wat Martelize nié weet van brood bak en speserye nie, is bloot nie belangrik nie.
TV-kykers sal Martelize deesdae herken as aanbieder van die VIA-program, Stamtafel, wat sy ook vervaardig. Martelize se eerste resepteboek, Martelize kook! Jy’s genooi, het in 2017 verskyn en in haar jongste resepteboek, Oor die kole, wat pas verskyn het, fokus sy op braai, rook en bak oor die kole.
In 2021 het Martelize ’n potgooi-platform bekend gestel waar sy onderhoude gevoer het met meer as 20 van die belangrikste wynfigure wat die bedryf in Suid-Afrika gevorm het. Dit sluit mense in soos Jan Boland Coetzee, Duimpie Bayly, Beyers Truter, Dave Hughes, die Retiefs van Van Loveren, Achim von Arnim en Gunter Brözel. Gaan luister gerus daarna op haar webwerf, www.martelizebrink.co.za.