Meertaligheid: Jeug skep en floreer in hul moedertaal
In ’n digitale era waar Engels domineer, is dit vir veral die jeug moeilik om steeds ’n liefde en passie vir hulle moedertaal te kweek. Tussen TikTok-video’s, hutsmerke en Instagram moet jong mense die spasie en geleentheid gegun word om hulle moedertaal op hulle eie manier te ontgin en hulself só te bemagtig.
“As daar net vir ons iewers ’n lig geskyn word, dan kom ons uit ons gate uit. Dit was nog altyd cool om in my moedertaal te skep,” sê die musikant Deon Meiring.
Deon, die radio-en televisiepersoonlikheid Lundi Khoisan en Mpumi Rakhudu (Afrikaanse Hoër Seunskool, algehele wenner: ATKV-Redenaarsfinaal 2023, Afrikaans Addisionele Taal) was die gassprekers by die ATKV se tweede gesprek in die paneelbesprekingsreeks, Moedertaal: Die wegspringplek vir meertalige sukses. Die gesprek is gelei deur Magon Mouton, bestuurder: Jong volwassene-ontwikkeling en Innovasie by die ATKV.
Die geleentheid is op 26 Oktober by Peachy, 44 Stanley, in Johannesburg aangebied.
Die sprekers het veral klem gelê op hoe die moedertaal later in ’n jongmens se lewe lei tot meertalige sukses.
“Iets soos Afrikaans is lankal nie meer die taal van die onderdrukker nie. Dit is egter ons verantwoordelikheid om voort te bou en die taal vir ander aanloklik te maak. Ek het die verantwoordelikheid om die taal cool te maak,” sê Lundi.
Sy meen daar is baie kunstenaars daar buite wat juis moedertaal vir hulle sprekers toeganklik maak.
“Ouens soos Early B en Peach van Pletzen bring ’n nuwe soort energie na die taal toe. Afrikaanse musiek is lankal nie meer iets wat net jou ouers luister nie,” sê Lundi.
Volgens haar het Taalgenoot se RUK EN RYM-kompetisie ook ’n nuwe platform vir jonges en alternatiewes geskep.
“Ná die dood van MK was daar nie meer ’n platform vir jong en opkomende kunstenaars nie. RUK EN RYM het jong mense aangespoor om in hul moedertaal te skep.”
Deon meen ATKV-Crescendo is ook ’n plek waar jong mense hulself in hulle taal kan uitleef.
“Crescendo wys hoe maklik dit vir kunstenaars en jong mense is om te groei en te skep in hul moedertaal as daar net so ’n bietjie van ’n hupstoot is. Dit gee aan skeppendes die kans om hulself in hul moedertaal uit te druk.”
Mpumi, wie se moedertaal Setswana is, meen hy het sy huistaal omarm, maar oopkop gebly oor ander tale soos Afrikaans.
“Ek is in ’n skoolomgewing waar daar baie verskillende sprekers van verskillende tale is. Ek het ’n liefde vir my moedertaal, maar ek het ook ’n liefde vir Afrikaans ontwikkel. Dit het deel van my identiteit geword.”
Mpumi sê hy wil met meertaligheid meer samehorigheid onder die jeug kweek.
“Ek dink dit is belangrik om mekaar se tale aan te leer. Ek probeer self om onder my maats vir hulle Setswana te leer.”
Volgens hom is dit belangrik om jou moedertaal as fondament te hê.
“Daar is mooi in alle tale. Omarm alle tale, word gemaklik met ’n taal en bring jou eie weergawe van die taal na die tafel toe,” sê hy.