Menseregtedag: ATKV belê aktief in mense
Menseregtedag – wat jaarliks op 21 Maart gevier word – is ingestel om Suid-Afrikaners daaraan te herinner dat alle inwoners van ons land geregtig is op sekere regte, soos verskans in die Handves van Menseregte wat deel vorm van ons Grondwet. Geen handves waarborg egter gelykheid óf waardigheid nie, veral nie in ’n land met soveel nood nie.
Suid-Afrika het een van die hoogste werkloosheidskoerse ter wêreld, en bydraende faktore soos ’n krimpende ekonomie, ’n onbevoegde en korrupte regering en stygende misdaadvlakke veroorsaak dat daar nie ’n gemeenskap in Suid-Afrika is waar daar nie nood is nie.
Gelukkig vir Suid-Afrikaners skrik die ATKV nie vir nood nie. Die organisasie is immers in die tyd van die Groot Depressie gestig. As die ATKV se 12 stigters in 1930 kon glo dat daar ’n verskil gemaak kan word, hoekom sal die ATKV se meer as 70 000 hooflede en 295 takke landswyd enigsins huiwer om hul landgenote se nood te probeer verlig?
Waar die ATKV van 1930 hoofsaaklik daarop gerig was om die lekkerte van Afrikaans-wees met mekaar te deel, fokus die hedendaagse ATKV daarop om deur amptelike werksaamhede en takaktiwiteite sosiale en ekonomiese vooruitgang te kweek en só te verseker dat die Afrikaanse lewende erfenis uitgebou en bewaar word.
Gaan kyk ’n mens na die uiteenlopende aktiwiteite waarmee takke landswyd ’n helpende hand uitsteek na mense in nood , is dit duidelik dat dit vir ATKV-lede nie bloot projekte is nie, maar dat dit in die eerste plek oor mense en naastediens gaan.
Net soos die nood baie vorme kan aanneem (bv. maatskaplik, ekonomies of opvoedkundig), word daar op verskillende maniere gehelp. Die kreatiwiteit en entoesiasme waarmee hierdie projekte aangepak word, is inspirerend en kring dikwels ook na die breër gemeenskap uit.
’n Kykie na ’n paar ATKV-projekte landswyd wys hoe Suid-Afrikaners bereid is om hande te vat om hul gemeenskappe vorentoe te neem en mure – ook tussen tale en rasse – af te breek.
Onderwys
Wanneer die ekonomie knyp soos wat dit in Suid-Afrika gebeur, is onderwys en opvoeding van die eerste plekke waar die nood wys.
Projekte gemik op kinders en jongmense is daarom van uiterste belang, nie net omdat dit leerders help om meer vaardighede te bemeester en sodoende beter te presteer nie, maar ook omdat dit help bou aan selfvertroue en ’n gevoel van eiewaarde. Op dié manier word hulle bemagtig om beter keuses te maak en nie so maklik voor groepsdruk te swig nie, terwyl noodsaaklike lewensvaardighede aangeleer word.
Hier is drie projekte wat inspireer:
- Die ATKV-gesinstak in Wellington se tweede leierskapsopleidingsdag vir graad 7-leerders is in November 2023 aangebied. Met dié dag wou die tak die oorgang van landelike laerskole na hoërskole op die dorp vir leerders minder traumaties maak, bou aan hulle selfvertroue en hulle toerus met “oorlewingstegnieke” en die “saadjies van moed, deursettingsvermoë en spanwerk”, aldus Tharina Schweidler, takvoorsitter.
- Kinders wat sukkel om te lees, sukkel om te leer. Navorsing het ook bewys kinders wat nie met begrip lees nie, het ’n agterstand op alle gebiede. Die ATKV-tak Rooiduin in Upington het in 2022 in samewerking met die ATKV-hoofkantoor ’n leesprojek van stapel gestuur om kinders van vroeg af te help met die aanleer van leesvaardighede sodat leer sommer speel-speel gebeur. Rinkink terwyl jy dink is ’n Afrikaanse leesprogram wat deur die remediërende onderwyseres Leandré Steyn ontwikkel is, en saam met die ATKV-tak Rooiduin na 26 skole in die Noord-Kaap uitgebrei is. Sewentig onderwysers en vrywilligers in die Noord-Kaap is aanvanklik opgelei om die leesprogram vir leerders aan te bied, en die program het reeds groot sukses behaal. Volgens Beatrix Venter, takvoorsitter, het ongeveer 8 000 leerders reeds daaraan deelgeneem.
- Geen kind kan op ’n honger maag leer nie, en die groentetuinprojek van die Laerskool Rorisang, ’n woongebied net buite Senekal, sorg nie net vir kos op die tafel nie, maar help ook om ’n gemeenskap saam te snoer en om dissipline by leerders te kweek. As bonus stel die skool se harde werk en ondernemingsgees ’n voorbeeld vir die res van die inwoners in die gemeenskap, aldus Gert Keulder, voorsitter van die ATKV-gesinstak in Senekal.
Andriette Potgieter, ATKV-streeksbestuurder in die Vrystaat en Noord-Kaap en die aanvanklike dryfkrag agter die ATKV se landswye groentetuinprojek, het Gert in 2019 genader oor ’n groentetuin in Senekal, en hulpbronne soos saad en kunsmis aan die tak geskenk om ’n volhoubare groentetuinprojek op die dorp te vestig. Nadat skole in Senekal self nie belanggestel het in so ’n projek nie, het Gert saam met die adjunkhoof van die Laerskool Rorisang, Mamaseli Tladi, begin werk om die laerskool se reeds bestaande groentetuin uit te brei.
Die tuin is deesdae ongeveer 20 m x 30 m groot en toegespan met nette. Die hele skoolgemeenskap is betrokke: Die kinders help om die tuin nat te lei, ouers sit hand by met sade en gereedskap, en Gert en die ATKV-tak help waar nodig.
“Mamaseli is baie entoesiasties en uiters trots op die tuin, wat ook dien as bron van kos vir die leerders. Elke leerder kry elke week ’n pakkie wortels of ander groente om huis toe te neem.”
Gemeenskapsbetrokkenheid
Ouetehuise, tehuise vir gestremdes, kinderhuise en sorgsentrums huisves dikwels van die mees weerlose mense in ons samelewing. Weens gebrekkige (of in sommige gevalle géén) subsidies van die regering, is die nood hier dikwels baie groot. Daar is dikwels ook jongmense in ’n gemeenskap wat swaarkry, of vroue wat deurloop onder miskenning en mishandeling, maar as daar ’n ATKV-tak in die omgewing is, kan jy byna seker wees hulle lede is op die een of ander manier aan die woeker om die nood te verlig.
Hier is drie projekte wat inspireer:
- Die gemeenskap van Touwsrivier bestaan uit minder as 10 000 mense, van wie slegs ongeveer 20% voltyds werk.
“Dít beteken die gemeenskap gaan gebuk onder geweldige armoede, sosiaal-maatskaplike probleme en dissiplinêre uitdagings by skole. Dit alles plaas ons onderwysers en leiers onder buitengewone druk. Hulle moet as’t ware nou verskeie rolle by die skool vul, waaronder dié van die ouer wat nie altyd daar is vir hul kinders nie,” vertel Clemence Thomas, voorsitter van die ATKV-tak Téhilah in Touwsrivier.
Om leiers en onderwysers in die gemeenskap te bemoedig en ondersteun, het die tak ’n inspirasie-seminaar aangebied om onderwysers en leiers te motiveer.
Met nog ’n projek, die Vroue in die Wetenskap-simposium, wou die tak die vroue van Touwsrivier ’n beeld gee van hoe vroue deur die eeue heen ten spyte van diskriminasie wonderlike hoogtes bereik het. Ongeveer 200 vroue het die geleentheid bygewoon en is geïnspireer deur die spreker Edward Foster, ’n dosent in die Universiteit Stellenbosch se departement van dierkunde, botanie en biochemie.
Die tak het ook gehelp om fondse in te samel om elf kinders na die nasionale landloopkompetisie te stuur.
- Die ATKV-tak Potpourri in Gqeberha (Port Elizabeth) maak met verskeie aksies ’n verskil in hul gemeenskap. Een van die bedrywigste taklede is oom Doors Rudman (77).
“Die Here was nog altyd net goed vir my, en ek wil ook dat ander sy goedheid ervaar,” het hy tydens ’n onderhoud in November 2023 vertel.
Verlede jaar het die tak uitreike na die OP-kinderhuis en MTR Smit-kinderhuis gedoen en onder andere komberse, sokker- en netbalballe en waterbottels aan die kinders uitgedeel. Met die hulp van die Laerskool Westering is 100 pakkies met tandeborsels, tandepasta en waslappe ingesamel en aan bejaardes by ouetehuise in die stad geskenk.
- Die ATKV-tak Hande van Geloof in Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte het met hulle Prinsesprojek gesorg dat twee matriekmeisies se droom van ’n onvergeetlike matriekafskeid bewaarheid word. Letecia Swartz, takvoorsitter, sê die tak probeer jaarliks om een of twee meisies te help wie se ouers nie rokke en bykomstighede vir die groot aand kan bekostig nie. Die Kaapse Vlakte loop onder hewige bendegeweld deur, wat ’n klomp ander probleme meebring, en Letecia sê hulle tak wil deur hul projekte juis hoop bring in die gemeenskap.
Kuns en kultuur
Hoe gemaak as ’n mens talent het, maar geen of min geleenthede het om jou talent te verfyn of jou vaardighede op te skerp om sodoende ’n groter verhoog te betree? Die bekende Franse kunstenaar Henri Matisse het gesê kreatiwiteit verg moed, en die ATKV se wye verskeidenheid kuns- en kultuurprojekte gaan nie net daaroor om talent te ontgin nie, maar ook om deelnemers aan te moedig om hul kreatiwiteit te ontwikkel en daardeur ook persoonlike vaardighede soos selfvertroue te help ontwikkel.
Musiek, toneel, koorsang, redenaars, debat, die rieldans ... Noem maar op, en die ATKV is daarby betrokke – en nie net op nasionale vlak soos met ATKV-Crescendo (’n mentorskapprogram vir opkomende sangers en liedjieskrywers), ATKV-Tienertoneel of ATKV-Applous (die ATKV se koorkompetisie vir laer- en hoërskole) nie, maar ook op streeks- en takvlak.
Dié betrokkenheid het ook nie onlangs begin nie, maar strek reeds oor dekades, soos ATKV-Crescendo (wat reeds in 1974 begin is) en ATKV-Tienertoneel (die ATKV se oudste projek) bewys.
Wat maak ATKV-kunsteprojekte anders as enige ander talentkompetisie?
“Ons gee vir mense ’n plek om te begin, skep vir hulle ’n platform en stap ’n pad met hulle,” verduidelik Gerrie Lemmer, die uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV.
“Ons belê aktief in ménse.”
Sonél Brits, die ATKV-MSW se besturende direkteur, sê die ATKV glo onwrikbaar in die mense van Suid-Afrika.
“Toe oudpresident Nelson Mandela in 2004 die laaste keer die parlement toegespreek het as president, het hy die wens uitgespreek dat Suid-Afrikaners nooit sal ophou glo in goedheid en in die mense van ons land nie. By die ATKV sien ons daagliks hoe goeie mense die wêreld se verskil maak deur aan te hou om in hul medemens te glo en te belê,” sê sy.
Vir meer inligting oor die ATKV se nasionale projekte en die landswye ATKV-takke se werksaamhede, besoek www.atkv.org.za.