‘Merang’: ’n Uitsonderlike viering van poësie
Merang, ’n digbundel van nuwe Afrikaanse gedigte, is ’n kopknik aan die eeufeesviering van Afrikaans se amptelike status, maar vir die samestellers van hierdie bundel gaan dit om veel meer. Van hierdie bundel wat ’n uitsonderlike viering van die Afrikaanse poësie is, sê Neil Cochrane en Alwyn Roux (redakteurs en samestellers) dat hulle van die begin af van die norm af wou wegbreek.
“Derhalwe het ons ’n titel gesoek wat nie behoort tot Standaardafrikaans nie. Die titel beteken ‘feesviering’ en behoort tot die leksikon van Kaapse Moslemafrikaans. Dit gaan om ’n panoramiese feesviering van die Afrikaanse poësie en álle digters het ’n plek langs die feestafel.
“Daar is nie net een soort Afrikaans nie. Jan Rabie het Afrikaans ’n nierassige prestasie genoem, en vandag is daar groter openhartigheid om verswygde stemme te erken. Merang is polifonies – hier is geen boksies nie.”
Met die saamstel van hierdie bundel was dit vir Neil en Alwyn baie belangrik om geen beperkinge te stel nie.
“Voorskriftelikheid en sensuur het ’n verwoestende uitwerking op kreatiwiteit, en ons wou ’n bevrydende leeservaring bied.”
Merang bevat nie ’n enkele tematiese lyn nie, maar ’n warboel van wêreldbeskouings. Hieroor vertel die samestellers dat dit ’n teken van rykdom in die taal is met 11 tematiese afdelings. Die bundel bestaan ook uit gevestigde en nuwelingstemme wat letterlik langs mekaar lê.
“Die enigste oorweging vir opname was literêre kwaliteit. Die digter se status in die literêre sisteem was eintlik van minder belang. Nog noot vantevore is soveel uiteenlopende digters se ongepubliseerde gedigte byeengebring nie. Dit is verblydend dat ons die geleentheid vir nuwe stemme kon gee om hulle stempel af te druk.”
Party van die gedigte in die bundel kyk na buite – na die sosiale, die politieke en die ekologiese – terwyl ander weer inwaarts keer. Die wisselwerking tussen die innerlike landskap van die digter en die uiterlike wêreld vorm ’n dinamiese spanningsveld waarin poësie beide persoonlike introspeksie en sosiale betrokkenheid verwoord.
Die samestellers vertel hoe hulle estetiese verwagtings deur hierdie gedigte dikwels uitgedaag is met eksperimentele gedigte van onder meer Charl-Pierre Naudé, Aryan Kaganof, Danie Marais en Klara du Plessis.
Neil en Alwyn beskryf Merang as tekenend van bewaring én bevryding en vergelyk dit met die metafoor van ’n klavierkonsert om die verskillende ritmes en klemverskuiwings wat in die bloemlesing bestaan, te belig.
“Uiteindelik is die geheel afhanklik van die individuele elemente, maar die geheel is ook groter as die somtotaal van die afsonderlike dele. Die vloeibare aard van Merang is in ’n groot mate bewerkstelling deur die wyse waarop ons die gedigte en afdelings georden het. Ons het besluit om die onderskeie afdelings nie eksplisiet te benoem nie, maar frases uit openingsgedigte te gebruik om die spesifieke tematiese aanbod aan te dui.”
Met hierdie werkswyse word lesers aangemoedig om teksleidrade op te volg. Hierdeur word die samestellers se strewe om nie voorskriftelik te wees nie, bevestig, en ’n bevrydende leeservaring word aan die lesers gebied.
Hulle sluit met die hoop dat die lesers die volle spektrum van menswees deur die gedigte sal ervaar.
“Merang se wydlopige tematiese aanbod en wisselende toonlere staan in diens van dié strewe. Verder hoop ons dat lesers sal besef dat poësie die kompleksiteit van menslike emosies en ervarings op ’n besonderse wyse verwoord.”
Merang word deur Naledi-uitgewers uitgegee en is by alle groot boekwinkels en aanlyn platforms teen R325 beskikbaar.
– Jannes Erasmus