Moedertaal die tuisveld, meertaligheid die wêreld
Taal is een van die belangrikste instrumente wat ons het om in die komplekse en soms uitdagende wêreld van vandag te navigeer en te oorleef, maar dit is met ’n sterk moedertaal-fondasie dat ons werklik sukses in ’n meertalige omgewing sal behaal.
“Jou moedertaal is jou veilige hawe. Dit is jou tuisveld waar jy kan presteer. ’n Wegspringplek tot meertalige sukses.”
Dít was die boodskap van prof. Ignatius Gous, ’n kundige op die gebied van hoe die brein en denke werk, by die ATKV se derde gesprek in die paneelbesprekingsreeks, Moedertaal: Die wegspringplek vir meertalige sukses.
Dié geleentheid is op Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) by die Randpark-gholfklub in Johannesburg aangebied.
Saam met prof. Gous het die joernalis en poliglot Malixole Gwatyu aan die jongste gesprek oor meertalige sukses deelgeneem. Dr. Lindie Koorts, historikus en biograaf, was die gespreksleier.
Die eerste gesprek in dié reeks het gefokus op die boublokke van moedertaal, terwyl die tweede gesprek gehandel het oor jongmense se moedertaal in ’n veeltalige wêreld.
Volgens prof. Gouws is die eerste 1 000 dae van ’n kind se lewe van kardinale belang om ’n sterk aanleg vir taal en sy moedertaal te ontwikkel.
“Ons is biologiese organismes wat binne konteks lewe. Ons instinkte is onbuigsame reëls, maar ons het die vermoë gekry om taal te ontwikkel. Taal help ons om in ons omstandighede te ontwikkel. Dit help ons om in ons omstandighede te oorleef en uit te styg. Taalontwikkeling gebeur reeds in die eerste 1 000 dae van ’n kind se lewe.”
Malixole, wat vyf tale magtig is, gaan akkoord met prof. Gouws en meen dit is belangrik dat kinders die nodige selfvertroue en spasie gegun word om hul moedertaal te omarm.
“Kinders word in vandag se tyd blootgestel aan Engels, maar dit is in hul eie moedertaal waar hul selfvertroue ontwikkel en hulle die wêreld leer verstaan. In ons huishouding is dit belangrik dat ons kinders hulle huistaal praat. Daar is invloed van buite en kinders is van nature nuuskierig en sal op hul eie aan ander tale blootgestel word. Vestig jou kind in sy of haar moedertaal.”
Prof. Gous meen dit is vir ouers belangrik om tyd en geld aan vroeëkinderontwikkeling te spandeer.
“Taal moet reeds by geboorte gevestig word. Elke mens word taalgereed gebore en dit moet ontgin word. Taalnetwerke word in die brein op ’n vroeë ouderdom gevestig. Praat met ’n baba. Wys na voorwerpe en benoem dit. Só gaan jy taalnetwerke in ’n kind se brein vestig en uitbrei.”
Hy het ook klem gelê op die belangrikheid van lees in hierdie kritieke tyd in ’n kind se lewe.
“Die vraag is egter, hoe moet ’n boek lyk wat jy vir jou kind voorlees? Studies het bewys dat boeke met min woorde en baie prentjies ideaal is. Dit gee die kind die geleentheid om te benoem, te verstaan en te voorspel.”
Malixole sê ook dit is belangrik dat ouers in hul moedertaal vir hul kinders voorlees.
“Jou kind se identiteit en kultuur lê in sy moedertaal. Taal is emosie. ’n Kind wat floreer in sy moedertaal, sal in ’n veeltalige wêreld kan floreer en ander mense en kulture beter kan verstaan. Hulle sal oop wees vir nuwe ervarings.”